SAUK-geraamtes kan vandag uit kas tuimel

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê Gigaba is “’n leuenaar”. Foto: Facebook

ʼn Interessante dag lê voor in die parlement wanneer die portefeuljekomitee oor kommunikasie onderhoude voer met die agt voormalige SAUK-raadslede wat bedank het voordat hul termyn verstryk het.

Die agt se voortydige bedankings het die SAUK-raad sonder ʼn kworum gelaat en daartoe gelei dat die poste nou dringend deur die parlement gevul moet word – ʼn essensieel politieke daad reg voor ʼn algemene verkiesing wat baie waarnemers bekommerd laat dat die ANC die raad gaan laai met simpatiseerders.

Die onderhoude vandag het as ʼn taamlike verrassing vir politieke waarnemers gekom, en die gedrag van veral die ANC-meerderheid in die komitee sal met aandag dopgehou word.

Die onderhoude is die gevolg van ʼn interessante stukkie politieke drama wat hom verlede week in die komitee uitgespeel het.

Die twee opposisiepartye wat in die komitee teenwoordig was, naamlik die DA en die EFF, is albei baie bekommerd dat die openbare uitsaaier – veral sonder ʼn funksionerende raad wat ʼn oorsigrol kan speel – in hierdie verkiesingstyd in ʼn volkome ANC-propagandamasjien kan ontaard.

Twee verskillende strategieë is dus bewustelik verlede week deur die DA en die EFF gevolg om dit te probeer verhoed of in te perk.

Die DA-LP Phumzile van Damme het op die aanval gegaan en is duidelik daarop uit om enige proses te monitor vir struktuurfoute wat die aanstelling van die raad ongeldig kan maak.

Die EFF-LP dr. Mbuyiseni Ndlozi het Van Damme se strategie in die komitee aangeval en sodoende die ANC-LP’s na sy kant oorgewen, sodat hulle ingestem het tot sy voorstel dat die SAUK-raadslede wat bedank het, aan die komitee (en dus in die openbaar) kan vertel hoekom hulle bedank het.

Ndlozi glo dit sal die aard en omvang van politieke inmenging deur die ANC aan die kaak stel, wat kan help verhoed dat dieselfde vergrype weer voorkom, omdat mense dan daarop bedag sal wees.

Dat hy die ANC onverhoeds betrap het, het daaruit geblyk dat die komiteevoorsitter, ANC-LP en oudminister prof. Hlengiwe Mkhize, later probeer terugkrabbel het, maar die komiteebesluit kon nie betyds herroep word nie.

Alles is dus gereed vir ʼn interessante sitting waarin die geraamtes uit die SAUK-kas gepluk kan word, en waar die veronderstelling sal wees dat die ANC die sitting so kort moontlik sal wil hou, en die opposisie dit so lank moontlik sal wil uitrek – ʼn ware stryd vir politieke lekkerbekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wonder net ·

Eerste vraag aan die 8: Hoeveel is julle betaal om te bedank?

Wielspore ·

As die geraamtes vandag uit die kas gehaal word sal ons seker vandag van Pinocchio met sy lang neus hoor, Telly fun quiz ervaar, Haas Das se nuus luister, 50/50 persent waarheid hoor en ‘n Encore ervaar.

Dries Moolman ·

Wat ‘n klug dat daar opposisie lede op die komitee sit wat ander van leuens beskuldig, terwyl hulle die leuenaars in hulle eie partye beskerm deur te swyg.

Feite ·

Net een vraag? HOEKOM het die SAUK Raadslede nodig en watter produktiewe funksie verrig hulle?

SjN ·

Almal lieg en bieg voor kommissies en niks verder gebeur nie.

George in Bloem ·

Ai tog,dis in elkeval net ‘n mors van tyd en die belastingbetaler se hardverdiende geld wat NIKS gebeur ooit met hierdie spul korrupte narre nie. En hulle hou die geld en lekker nuwe joppies wat hulle onregmatig bekom het. Dis een groot klug. Hulle speel almal lekker politiek vir die kiesergehoor want die verkiesing is om die draai. Belaglik.Hulle praat net oor SAL,Eskom en al hierdie goed wat die land miljarde kos wat meestal opeindig in kaders se sakke en bokkerol gebeur ooit nie. Hoekom sal hierdie spulletjie dan nou anders wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.