SAUK-groephoof geskors

Argieffoto

Argieffoto

Die SAUK het Sondag berigte bevestig dat Sipho Masinga, die openbare uitsaaier se groephoof van tegnologie, geskors is maar wou nie uitbrei oor die redes daarvoor nie.

“Die media gaan nie gebruik word as ʼn manier om ʼn dissiplinêre proses te hanteer nie,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, aan Sapa gesê. Volgens Kganyago is Masinga meer as ʼn maand terug al geskors.

City Press het Sondag berig dat Masinga geskors is nadat hy glo ʼn verslag geskryf het waarin hy onderbrekings in die nasionale uitsaaier se uitsaaidiens op verouderde en gebrekkige infrastruktuur blameer het.

Verskeie SAUK-kanale en –radiostasies het verlede maand glo weens tegniese probleme nie uitgesaai nie. Kganyago het gesê die verslag is ʼn “interne dokument” en dat dit nie openbaar gemaak sal word nie aangesien die konteks daarvan nie verstaan sal word nie. “Ons skryf nie net verslae omdat ons so voel nie. Ons skryf dit wanneer daar ʼn probleem is ten einde ʼn oplossing te vind.”

Volgens die City Press se berig het Masinga in sy verslag gesuggereer dat talle van die probleme met die infrastruktuur “erger gemaak word deur die aanstelling van onbevoegde mense wat moratoriums plaas op instandhouding en die investering in nuwe tegnologie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.