SAUK-hoë se bedanking ‘ʼn erkenning van skuld’

James Aguma. Foto: SAUK

Die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) het Woensdag sy skok uitgespreek oor die skielike bedanking van James Aguma, die hoof finansiële beampte van die beleërde SAUK.

Aguma se bedanking kom voordat daar uitspraak gelewer kon word in verband met die dissiplinêre prosesse teen hom.

Themba Godi, Scopa-voorsitter, het in ʼn verklaring gesê die komitee sien Aguma se bedanking as “ʼn erkenning van skuld vir die finansiële gemors waarin die SAUK homself bevind”.

“Mnr. Aguma het miskien vermy dat ʼn lys van klagtes teen hom ondersoek word, maar as Scopa doen ons ʼn beroep op die tydelike SAUK-raad om die ondersoek voort te sit om die strafregtelike aanspreeklikheid van alle beamptes en bestuurders by die SAUK, insluitende mnr. Aguma, te bepaal.

“Na aanleiding van die interne ouditverslag oor kontrakte wat outomaties hernu word, glo Scopa dat sommige beamptes, insluitend mnr. Aguma, verdere vrae het om te beantwoord. Scopa doen ʼn beroep op die interne forensiese ouditeenheid van die SAUK en die spesiale ondersoekeenheid om die ondersoek te bespoedig sodat die persone wat verantwoordelik is vir onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende besteding aanspreeklik gehou kan word.”

Scopa het ook die SAUK se tydelike raad gelukgewens met hul pogings om die SAUK reg te ruk en “ʼn einde te bring aan die strafloosheid wat oortreders soos mnr. Aguma vir te lank geniet het”.

“Soos Scopa voorheen gesê het, die gety het gedraai teen korrupte beamptes by die SAUK en as ʼn komitee sal ons voortgaan om die SAUK fyn dop te hou totdat daar streng gehoor gegee word aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die regulasies van die nasionale tesourie oor die bestuur en besteding van openbare fondse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Ag mens, maar dis n heuglike dag wanneer die randkapers boek toe gebring word!

Alida ·

Weet hy nie om te bedank vrywaar hom nie. Die rotte spring nou van die soustrein af. Net jammer die een met 800 aanklagtes klou soos n weerluis in n wolkombers.

GES ·

Sy dag in die hof kom vinnig nader. Dit blyk ook dat sy seuntjie nie daarin kon slaag nie om sy naam skoon te kry. Verwys na motor ongeluk waar 2 mense dood is.

Ander Annie ·

Baie goeie nuus. Hy moet nietemin vervolg word. Dit is mos die man wat ook lisensies wou hef op selfone, tablette , ipads, ens. Ek hoop nie hy dink sy bedanking is verlof now.

marlene ·

Dieselfde geld vir die res vd regering, insluitend die president vd land.

Vryheid ·

Hy bedank – wag nou vir sy uitbetaling of soos sy broer Brian van Eskom vir sy R30mil pension.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.