SAUK hoef nie EFF-advertensie uit te saai nie

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid het Saterdag ten gunste van die SAUK beslis om nie die EFF se verkiesingsadvertensie uit te saai nie.

“Okosa se klagtes- en nakomingskomitee het bevind dat die advertensie moontlik beskou kan word dat dit onwettige dade, soos om e-tolhekke te vernietig, goedkeur of ondersteun,” het Paseka Maleka, woordvoerder vir Okosa, gesê. Hy sê die komitee het Saterdag omstreeks 11:30 sy uitspraak gelewer.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het die beslissing verwerp en gesê hy sal Dinsdag ʼn optog hou na die SAUK se kantoor in Aucklandpark, Johannesburg. “Okosa het deur sy beslissing bevestig dat hy saam met alle ondemokratiese belangegroepe werk wat e-tol op die inwoners van Gauteng afdwing,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, in ʼn verklaring gesê.

Terry Motau, vir die SAUK, het Vrydagaand aan die komitee gesê die uitsaaier het die party op 16 April in kennis gestel dat die advertensie verwerp is. Die EFF het op 22 April sy klag by Okosa ingedien. Motau het die komitee versoek om die EFF se klag van die hand te wys, aangesien die sperdatum verstryk het.

Die advertensie, “Now is the time for economic freedom”, is op YouTube gepubliseer en is Saterdagmiddag reeds meer as 160 000 keer gekyk. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.