SAUK-joernaliste opgewonde om terug te keer werk toe

Foeta Krige, Suna Venter en Jacques Steenkamp Dinsdag (26 Julie 2016) in die arbeidshof in Johannesburg Foto: Facebook

Foeta Krige, Suna Venter en Jacques Steenkamp Dinsdag (26 Julie 2016) in die arbeidshof in Johannesburg Foto: Facebook

Die vier verslaggewers van die SAUK in wie se guns die Johannesburgse arbeidshof Dinsdag beslis het, het gesê hulle sien uit om weer terug te keer werk toe by die openbare uitsaaier.

Foeta Krige (uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum), Suna Venter (senior verslaggewer), joernalis Jacques Steenkamp en Krivani Pillay (vervaardiger van aktuele sake by SAfm) het fees gevier en mekaar omhels ná die hof ʼn dringende interdik teen die SAUK ingestel het.

Maroela Media het vroeër berig die arbeidshof het die SAUK Dinsdag beveel om die vier joernaliste se afdankings op te hef.

Hulle is deur die vakbond Solidariteit verteenwoordig. Pillay het die regspan bedank. “Dit is groot vir ons. Baie dankie vir almal en diegene binne en buite die SAUK. Ons kan nie weg om terug te keer werk toe nie,” het sy tydens ʼn perskonferensie, wat die vakbond gereël het, gesê.

Krige het gesê die laaste keer wat hy by die werk was, by die SAUK in Aucklandpark, het die voormalige waarnemende hoof uitvoerende beampte, Jimi Matthews, vir hom gesê “dit is koud buite die SAUK”. “Jimmi was verkeerd. Ons het ongelooflike ondersteuning van almal gekry – binne en buite die SAUK. Ons is dankbaar vir die ondersteuning en ons families,” het hy gesê.

Regter Andre van Niekerk, wat uitspraak gelewer het namens regter Robert le Grange, het die interdik toegestaan en beveel dat die afdankings tersyde gestel moet word. Beamptes wat verantwoordelik was vir die tugprosesse en afdankings is ook beveel om binne vyf dae beëdigde verklarings by die hof in te dien en te verduidelik waarom hulle nie persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir die regskoste nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen gesê die vakbond en elke applikant is saam met Suid-Afrika absoluut verheug oor die uitspraak. “Die beginsels wat vandag geseëvier het, is vryheid van spraak, mediavryheid, die reg van die publiek om ingelig te wees en die beperking van die uitvoerende gesag. Ons het van die begin af geweet ons gaan wen, want ons saak was moreel en juridies geregverdig,” het hy gesê.

Verskeie ander senior SAUK-joernaliste, waaronder Thandeka Gcubule, Busisiwe Ntuli en Lukhanyo Calata, het verlede week ook afdankingsbriewe ontvang nadat hulle hulself teen sensuur by die SAUK uitgespreek het.

Vuyo Mvoko se deeltydse kontrak is nie hernu nie, aangesien hy in die openbaar die verbod, om nie gewelddadige betogings uit te saak nie, veroordeel het. Hy het intussen glo die hooggeregshof genader om die kansellasie van sy kontrak tersyde te stel. Hy voer in hofdokumente aan die SAUK het die onafhanklike kontrak, wat hy met hulle aangegaan het, verontagsaam.

Die verslaggewers het vroeër vandeesmaand die konstitusionele hof genader vir direkte toegang om die verbod teen beeldmateriaal terug te trek. Die SAUK het verlede week aangedui hy sal die verbod terugtrek, nadat dit in die Noord-Gautengse hooggeregshof gedaag is deur die Helen Suzman-stigting. Die openbare uitsaaier het met die stigting onderhandel en in die hof geskik.

Die SAUK het ook uiteindelik ingestem om ag te slaan op ʼn vorige beslissing deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) dat die verbod teen gewelddadige betogings opgehef moet word.

Volgens Hermann stuur vandag se uitspraak ’n sterk boodskap dat Suid-Afrika nie ’n magsdemokrasie is nie, maar ’n grondwetlike demokrasie is. “In ’n grondwetlike demokrasie word mag beperk. Jou mag strek nie verder as grondwetlike beginsels nie. [Uitvoerende bedryfshoof Hlaudi] Motsoeneng het reggekry om Suid-Afrikaners oor ’n breë spektrum rondom grondwetlike waardes te laat verenig. In die SAUK-sage lê hoop opgesluit.”

Hermann het bygevoeg Solidariteit is teleurgesteld dat hy die saak tot die einde toe moes voer en dit in die hof moes beveg om die onwettige optrede teen sy lede te bewys. “Die SAUK moes die morele integriteit aan die dag gelê het om nooit ’n besluit om te sensor te neem nie; moes nooit met dissiplinêre optrede teen ons lede begin het nie en nadat dit duidelik bewys is ná die Okosa-uitspraak dat hul optrede onwettig is, moes die SAUK onmiddellik enige optrede teen ons lede opgeskort het.”

Volgens Hermann het Solidariteit regdeur die proses gesien hoe die SAUK regsbeginsels en -prosesse ignoreer. “’n Mens kan egter net so lank vir die reg weghardloop. Die SAUK het hom in die regstaat vasgeloop. Die beginsels van die Grondwet van Suid-Afrika behoort egter inherent deel van ’n mens te wees en dit behoort nie nodig te wees vir howe om dit af te dwing nie.”

Hermann het bygevoeg dat daar vandag weliswaar ʼn strategiese veldslag gewen is, maar dat die oorlog nog lank nie verby is nie. “Ons vra die kragtige alliansie van die burgerlike samelewing om hul veldtog te verskerp om die oorlog finaal te wen sodat die SAUK weer die besit van Suid-Afrika kan word.”

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Columbiana ·

Dit was skreeu snaaks toe die regter se die twee beamptes moet verklarings afle oor hoekom hulle nie persoonlik aanspreeklik gehou moet word nie. Jy kon behoorlik iemand in die gehoor hoor snak na hulle asem. Ja outjies as julle wil droogmaak en geen ontsag het vir die reg dan sal kierantjies braai. Wel gedaan Solidariteit julle kan trots wees op die uitspraak

Fourie ·

Fantastiese nuus, welgedaan aan Solidariteit en die 4. Bly geregtigheid het geeseevier!!!

Waarheid ·

So tussen die lyne wonder ek of, net vir interessantheid of die 8 journalists darem so minimum 6-10j bydraende lede van Soldariteit is; Indien nie, hoop ek hulle gaan nou of het reeds vir lewenslank lidmaatskap geteken. My seun is 10 jaar al lid en sal verseker ook sulke puik diens waardeer wanneer nodig.

Joann ·

Welgedaan. Hoop ander gemors in die land word ook so gou opgelos.

m ·

Soooo bly vir hierdie mense dat hulle weet kan werk. Leer uit julle fou SAUK, gaan so as narre n plek wil beheer…

LS ·

Uitstekend Solidariteit, ek is soos altyd TROTS om ‘n lid van julle te wees.
Wel gedaan !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.