SAUK-joernaliste: Saak vandag in hof

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp. Foto: @SolidariDirk/Twitter

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp. Foto: @SolidariDirk/Twitter

Die vakbond Solidariteit gaan Donderdag in die arbeidshof vra dat die besluit om agt SAUK-joernaliste af te dank ter syde gestel word en dat die dissiplinêre proses algeheel opgeskort word.

Die vakbond versoek dat die dissiplinêre proses opgeskort word hangende die beregting van die verskillende regprosesse rakende die omstrede besluit van die SAUK se bestuurshoof, Hlaudi Motsoeneng, dat nuus en beeldmateriaal van gewelddadige betogings nie uitgesaai mag word nie.

Solidariteit verteenwoordig Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp. Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule word deur hul eie vakbonde en regspanne verteenwoordig.

Solidariteit gaan ook vra dat die SAUK moet identifiseer wie in die organisasie verantwoordelik was vir die besluit om die joernaliste af te dank en dat die hof ’n kostebevel teen die persone in hul individuele hoedanigheid moet uitreik.

“Die besluit van die SAUK om die joernaliste sonder verhoor af te dank, is totaal onregmatig. Die SAUK het dit geweet en het steeds daarmee voortgegaan. Daar moet gevolge wees vir doelbewuste onregmatige optrede,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Solidariteit het die SAUK Suid-Afrikaanse howe geminag deur te midde van regsprosesse wat aanhangig gemaak is, voort te gaan om joernaliste af te dank.

“Wat die saak van die SAUK verswaar, is die feit dat daar ’n Okosa-uitspraak is wat die sensor-besluit van die SAUK ingevolge die Uitsaaiwet en die Suid-Afrikaanse Grondwet onwettig verklaar het. Hierdie besluit van Okosa bly staan tot die hooggeregshof dit in ’n hersieningsproses ongeldig verklaar,” het hy gesê.

“Indien die SAUK-besluit onwettig is, sal alle aksies voortspruitend uit die besluit, soos die dissiplinêre prosesse, ook onwettig wees. Uit ’n regs- en morele oogpunt sou dit die regte ding wees om die skorsings en dissiplinêre prosesse onmiddellik op te hef. Die SAUK het die teenoorgestelde gedoen en die joernaliste afgedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Estie ·

Die Hof verrigtinge word glo uitgesaai, weet iemand op watter dstv kanaal??

paul ·

Ja, daar is vreeslik propaganda gemaak om uitsaairegte te kry, en daar het dit gebly. Klink vir my maar net na ‘n magsspel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.