SAUK-joernaliste se saak hervat

Jacques Steenkamp, Foeta Krige en Suna Venter vergader met hul regspan voor die hofverrigtinge begin (21 Julie 2016). Foto: Reint Dykema

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Foeta Krige, Suna Venter, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jacques Steenkamp. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit se saak teen die SAUK oor die afdanking van vier veteraanjoernaliste sal Vrydag in arbeidshof hervat word nadat die openbare uitsaaier nie Donderdag sy hofstukke gereed gehad het nie.

Kragtens die hofbevel van regter Rob Lagrange sal die saak van vier van die agt afgedankte SAUK-joernaliste om 12:30 in die hof in Braamfontein hervat word. Solidariteit tree op namens Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp terwyl Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule deur hul eie vakbonde en regspanne verteenwoordig word.

Die SAUK is Donderdag grasie tot 19:00 gegun om sy uitstaande hofdokumente te beteken en die spertyd is gehaal. Solidariteit het reeds sy repliek op die SAUK se stukke ingedien.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die feit dat die SAUK onvoorbereid by die hof opgedaag het niks anders nie as minagting van hofprosesse.

“Jy kan egter net vir só lank weghardloop vir regsprosesse. Vandag om 12:30 gaan hulle nie meer kan weghardloop nie en sal hulle hul argumente in die hof moet voer waar daar nie politieke verhoudings is wat hulle beskerm nie,” het Hermann gesê.

“Ons is egter uiters teleurgesteld dat die SAUK wel voortgaan met die saak. Dit is nou algemene kennis dat die instruksie om te sensor onwettig was. Alle optrede, insluitende die dissiplinêre optrede wat daaruit voortvloei, sal dus ook onregmatig wees. Die regte morele en juridiese optrede sal wees om die joernaliste terug te verwelkom by die werk en hulle toe laat om die publiek in te lig oor gebeure veral rakende die komende plaaslike verkiesing.”

Solidariteit wend hom tot die arbeidshof om te versoek dat die joernaliste se afdanking ter syde gestel word en dat die dissiplinêre proses geheel en al opgeskort word.

Dié vier joernaliste, wat deur Solidariteit verteenwoordig word, en vier van hul kollegas het onderskeidelik Maandag en Dinsdag afdankingsbriewe van die uitsaaier ontvang. In die briewe word gemeld die joernaliste word in die pad gesteek omdat hulle “voortgaan om die SAUK-bestuur se gesag te ondermyn” en dat hul wangedrag “onhoudbaar” geword het.

Dit volg nadat die joernaliste glo kritiek gelewer het teen Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, se omstrede verbod op die uitsaai van nuus en beeldmateriaal van gewelddadige betogings.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

Volg eNCA se regstreekse beeldsending van die hofverrigtinge hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Siestog de Jager ·

RSG moet afstig vd SAUK en ‘n onafhanklike radiostasie word. Dan sal hulle kook!

My opinie ·

Ek stem saam. Stig af en word ‘n onafhanklike uitsaaier. Gee die ware feite weer. Dié eerbare joernaliste se lewens sal heelwaarskynlik versuur word op elke denkbare wyse in die hoop dat hulle uit hul eie sal bedank.

HEVW ·

Dikvelligheid vermeng met n skoot onkunde daarby moedswilligheid, politiekebenepenheid en rassisme lewer n tipiese Afrikaproduk wat die lewe in oormaat versuur.

Lance ·

Goedso wen dit op …hierdie kos die anc lekker stemme …sharp !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.