SAUK-joernaliste toegang tot werkplek geweier

Venter, Krige en Steenkamp met hul aankoms by die SAUK. Foto: Justin Kennerley/Twitter

Venter, Krige en Steenkamp met hul aankoms by die SAUK. Foto: Justin Kennerley/Twitter

Drie van die vier joernaliste wat deur die SAUK afgedank is, het Woensdag by die SAUK se kantore in Auckland Park opgedaag, maar is toegang geweier.

Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, Suna Venter, senior verslaggewer by Monitor en Spektrum en die ondersoekende joernalis, Jacques Steenkamp, het Woensdagoggend by die kantore ingegaan, maar is net toegelaat om tot by die ontvangsarea te beweeg. Hier het hulle lank gewag voordat Simon Tebele, waarnemende hoof van nuus, vir hulle gesê het hulle mag nog nie vir werk aanmeld nie. Die drie het hierna die gebou verlaat.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen gesê die vakbond se regsverteenwoordigers sal vandag nog ʼn dringende hofaansoek indien om te verseker die joernaliste kan ingevolge gister se arbeidshofuitspraak onmiddellik terugkeer werk toe. Die vakbond gaan, as deel van sy aansoek, ook vra dat die individue wat teen gister se uitspraak wil appelleer, in hul persoonlike hoedanigheid vir die koste aanspreeklik gehou word.

“Die SAUK het wel ʼn aanduiding gegee hy wil teen die uitspraak appelleer. Die SAUK het egter nog geen formele aansoek om appèl ingedien nie, wat beteken gister se hofuitspraak staan en in praktyk kom vandag se optrede deur die SAUK dan op minagting van die hof neer,” het Hermann gesê.

“Die hofreëls maak voorsiening daarvoor dat ʼn mens hof toe kan gaan om ʼn bevel te bekom om iemand wat ontslaan is, weer terug te kry by die werk hangende ʼn appèl. Ons gaan dus nou op hierdie hofreël steun.”

Hermann sê dit is onverstaanbaar dat die SAUK aanhou probeer om sy onwettige instruksie in die howe te verdedig. “Daar is geen twyfel meer dat die SAUK se instruksie aan joernaliste, om nie meer gewelddadige protesaksie uit te saai nie, onwettig is nie. Ons is oortuig daarvan die SAUK se aansoek om appèl gaan onsuksesvol wees en ons wil toesien dat die betrokke individue die koste daarvan dra, sodat die belastingbetaler nie langer hierdie onregmatige besluite hoef te finansier nie.”

Die arbeidsappèlhof sal in alle waarskynlikheid reeds vroeg volgende week die SAUK se aansoek om appèl aanhoor.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa B ·

Hemel maar hulle is darem arrogant. Om ‘n Hofuitspraak teen te gaan. Dit wys jou net hoe min steur hulle, hulle aan die bietjie wet wat oor is in die land. Hy en sy trawante sal nou vir almal wys dat hy sal doen wat hy wil by die SAUK.

Rina Pretorius ·

snaaks ne, net die blankes is toegang geweier. hoe haatlik is daai arogante Hlaudi darem nie. Ek hoop hy sien sy gat sonder n spieel en gou ook. Hierdie rasse gemors moet nou end kry dit doen die land baie skade. Ek hoop net een ding en dit is dat hierdie verwaande vent al die regskostes uit sy eie sak moet betaal

Joann ·

Die nasie is arogant,dink mens skuld hul iets. Hy moet waai en vinnig ook

Koos ·

Dit is net soos met die universiteite hulle is in beheer met hulle haatdraende houding teenoor die Afrikaanse volk en taal en dis die mense wat hulle finansieel ondersteun. BOU SAAM aan ons eie universiteite,radio en televisie uitsaaier waar hulle nie ‘n se het nie en ons moet dit doen onder die vaandel van demokrasie in werking.

Liewe heksie ·

Het dit verwag dis mos anc wereld niemand gaan hulle voorskryf nie vat hul hof toe en laat hul die hoogste prys betaal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.