SAUK-joernaliste: Uitspraak in Jhb verwag

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Foeta Krige, Suna Venter, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jacques Steenkamp. Foto: Reint Dykema

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Foeta Krige, Suna Venter, Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jacques Steenkamp. Foto: Reint Dykema

Die uitspraak in Solidariteit se hofsaak teen die SAUK oor die afdanking van vier joernaliste sal Dinsdag in die arbeidshof in Johannesburg gelewer word.

Regter Rob Lagrange wat Vrydag die saak in die hof in Braamfontein aangehoor het, sou aanvanklik die uitspraak vanaf die arbeidshof in Kaapstad gelewer het. Die hof het Solidariteit egter Maandagmiddag in kennis gestel dat ʼn ander regter namens Lagrange die uitspraak sal lewer en dat dit daarom weer in die hof in Johannesburg sal geskied.

Solidariteit het verlede week die arbeidshof genader om Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp se afdankings ter syde te laat stel. Hulle is deel van agt joernaliste wat onlangs deur die uitsaaier afgedank is en wie se afdankings glo met die SAUK se omstrede verbod op die uitsaai van gewelddadige betogings verband hou.

Hoewel die ander vier joernaliste, Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule, deur hul eie vakbonde en regspanne verteenwoordig word, sal vandag se uitspraak vermoedelik ook hul afdankings beïnvloed.

Die mediavakbond Bemawu het Saterdag bekendgemaak dat hy ook die arbeidshof namens Calata en Ntuli genader het en dat hulle saak vandeesweek aangehoor sal word. Mvoko en Gqubule het hulle glo ook tot die arbeidshof gewend om hul afdankings ter syde te laat stel.

Die uitspraak sal na verwagting om 10:00 gelewer word.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.