SAUK kan nie DA betaal nie; gewilde sepie van die lug af

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die Demokratiese Alliansie het Dinsdag gesê die SAUK kan nie die regskoste van R1,7 miljoen, wat die openbare uitsaaier aan die party skuld, bekostig nie.

Die SAUK het meer as R22 miljoen spandeer om sy omstrede voormalige uitvoerende bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, te verdedig. Die R1,7 miljoen wat die SAUK die DA skuld hou verband met ʼn kostebevel toe die uitsaaier Motsoeneng teen die party in die hooggeregshof verdedig het. Motsoeneng se aanstelling is in die hof ongeldig verklaar.

“Die feit dat die SAUK nie sy rekeninge en uitstaande regskoste kan betaal nie, is ʼn duidelike teken dat die uitsaaier op die randjie van bankrotskap is,” het Phumzile van Damme, DA-LP, Dinsdag gesê. “In openbare belang sal die DA ʼn betalingsplan vir die SAUK oorweeg om die geld terug te betaal.” Die party het die SAUK genooi om ʼn gepaste voorlegging te maak.

Uzalo-akteurs (Foto: Facebook)

Die SAUK het intussen gesê sy grootste daaglikse sepie, Uzalo, met kykersgetalle van 9,2 miljoen, beleef ʼn finansiële verknorsing en die sepie is van die lug af gehaal. Die openbare uitsaaier het gesê hy is in gesprekke om dié gewilde program te red.

Kaizer Kganyago, woordvoerder vir die SAUK, wou Dinsdag nie kommentaar lewer oor berigte dat vervaardiging van Uzalo opgeskort sal word nie. Op versoek om gerugte te bevestig dat die openbare uitsaaier versuim het om die vervaardiger, Stained Glass, te betaal, en akteurs en vervaardigers dus nie betaal is nie, het Kganyago gesê: “Ons het met die vervaardigers gesels, maar ek kan nie die uitslag bekend maak nie.”

Ayanda Mthiyane, woordvoerder vir Uzalo, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die SAUK het van sy diensverskaffers laas in Junie betaal en het versuim om geld van finansiële instansies te bekom. Die uitsaaier hoop nou vir ʼn reddingsboei van R3 miljard van die nasionale tesourie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

IK ·

Nou wat het gemaak dat die Es Ei Bie Sie enigsins oorweeg het om daardie miljoene te spandeer op iets (hofsaak) wat doodgebore is? Die reddingsboei is natuurlik belastinggeld.

Nel ·

Hulle moet maar donasies by daai 9.2 miljoen kykers gaan vra.

Anoniem ·

Ek wonder hoeveel van daardie 9.2 miljoen kykers betaal hul TV lisensies.

Penellope Jones ·

Is daar iets wat die ANC nie opgemors het nie . . . . .

Hennie ·

Oom Piet, jy verloor my met jou kommentaar. Jy verwys na die afbetalings bedrag wat ek nie in die artikel sien nie. Is daar ander inligting rondom hierdie aangeleentheid?

Ella ·

Afhaal van Uzalo is nie n skade nie. Storie lyn van baie sulke sepies is vulger en geweldadig.
Haal sommer ander gemors soos WTF Tumi (nou byna elke aand op), Fundi’s, (2de uitsending van eerste reeks), 7de laan en ander “inheemse” goed ook af.
TV Nuus is ook lankal nie nie meer n kyk werd en hulle sw hulke is onafhanklik…
Baie van hierdie goed is geskep as baantjies vir boeties en bou is,die geld opgemors.
My tv word net aangesit vir sekere programme op n Maandag, Woensdag en dalk n Saterdag n uur of twee. Kan hom netsowel uitgooi en tvfooi spaar.

Leon ·

Hulle moet die die aanstelling van al die onbevoegde mense staak . Kyk wat het daardie bose Motsoeneng die belasting betaler gekos. Die hele lot is egter korrup

Snowball ·

Thanks to “Cloudy” Motsoeneng met sy misplaaste narsistiese neigings, hy hang mos nog by Zuma byeenkomste uit, gaan bedel daar vir hulp vir nog ‘n ANC mishoop.

Nog 'n failure ·

Ek het ‘n SAAK met die SEPIE, julle moes nie HLAUDI verdedig het nie, ons almal het geweet wat die uiteinde gaan wees. Dan stel ek voor julle almal CLUB in en betaal die DA se geld . darem vreemd hoe dit in SA werk, die GRONDWETHOF en die HOOGGEREGSHOF beveel dat mense sekere bedrae moet terugbetaal . dan se hulle net ONS HET DIT NIE, dan gaan die storie dood. .. het HLAUDI al sy skuld betaal? Die REGSTELSEL in SA is hopeloos .. dit faal miserably …. TWEEDE plan .. gaan KONFISKEER dan alle items en alle toerusting of die gebou by die SABC, erens moet hierdie mense vir hulle skuld begin opdok …

Alida ·

Hoeveel van daardie 9 miljoen betaal TV lisensies wonder ek?

wilma ·

Ek stem saam met Paul M dat 7de Laan gerus gestaak kan word. Lyk my daar is geen storielyn meer nie nou word die grootste gemors opgedis om die tydgleuf te vul.

dejavu ·

Die reddingsboei vir alle staatsinstansies wat ondergaan gaan seker kom uit die staats pensioen fonds. Sit en lek mos hul lippe af vir al die miljoene in daai rekening.

Colleen ·

Die SAUK is nie op die rant van bankrotskap nie…. Hulle is al lankal bankrot en dit deur korrupsie. Haal maar jul gemors van die kassie af. 9 miljoen mense wat sit en TV kyk en hoeveel van hulle makeer niks en kan gaan werk soek.

Gerhard Bezuidenhout ·

Laat die SAUK maar totnietgaan .Ons moet hulle susidieer en baat niks daarby nie. Hoe gouer die SAUK verdwyn hoe beter.

Privatiseer ·

Ek stem, hoe gouer ALLE Suid Afrikaanse parastatals en staatsinstansies wat disfunksioneel is verdwyn hoe beter . Denel, SAL, SAUK .. SANRAL se tolsisteem, ESKOM, Poskantoor … hulle het van alles ‘n flop gemaak, maar daar bly reddingsboeie (lees wittes se pensioenfondse) uitgegooi .. MAAK alle plekke toe wat nie ordentlik funksioneer nie, en PRIVATISEER dit ..

Theo ·

As ek vandag n lid van die anc was sou ek my kop in skaamte laat sak het. Alle Staats instasies wat hulle in 94 geerf het was winsgewend, uitsteekend bestuur en n trots van ons land. Genade,om dis n absolute skande, maar nou ja…. dis seker “apathaid” se skuld

frikkie ·

Kykers van Uzalo is 9 miljoen . 9 miljoen wat nie TV lisensies betaal nie . Karma is n ware teef en die wiel het sy draai gemaak en dit is nou modder sleep onder . SABC moet net die pad stap afgrond toe en omdraai en agteroorval, want SABC is goed vir niks. Ek kyk al n jaar lank nie meer TV nie.

Stuiwer ·

Sal jy vir ‘n persoon wat ‘n dobbelprobleem het, geld leen? Die antwoord is NEE. Waarom dan moet die SAUK anders behandel word. Vergeet van die reddingsboei en laat hulle SINK.

Driekie ·

Nuwe SAL…Nuwe SAUK… Nuwe SA Stadsrade. …nuwe ESKOM… Kyk hoe gaan dit!!.. .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.