SAUK kap na Magashule oor afleggings

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, spreek ‘n geleentheid toe op 3 September 2018. Foto: Nhlanhla Phillips/African News Agency

Die SAUK het beswaar aangeteken teen uitlatings deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, oor kostebesnoeiings en moontlike afleggings by die openbare uitsaaier.

Die raad van die SAUK het Saterdag in ʼn verklaring gesê hy het “met kommer” kennis geneem van berigte oor Magashule se uitlating dat die ANC besluit het om nie die afleggingsproses wat tans by die uitsaaier oorweeg word, “toe te laat nie”.

Die raad meen dié uitlatings het verwarring onder werknemers en ander belanghebbendes veroorsaak.

Die raad het beklemtoon volgens artikel 13(11) van die Wet op Uitsaaiwese is die raad eksklusief by magte om die bedrywighede van die SAUK te bestuur. Dit sluit in hoe die uitsaaier sake doen, asook sy arbeidsverhoudinge met werknemers.

“Geen persoon, organisasie of entiteit word toegelaat om in te meng by hoe die SAUK-raad sy magte uitoefen nie. Enige inmenging sal ʼn oortreding van die wet wees, asook van ʼn onlangse hofbevel in hierdie verband,” lui die verklaring.

“Die SAUK-raad het ʼn organisasie geërf wat in ʼn finansiële krisis is weens etlike jare lange bestuursmislukkings, wanadministrasie en swak besluitneming. Die SAUK het tans skuld van R1,3 miljard en ʼn jaarlikse salarisrekening van R3,1 miljard.

“Dit is duidelik nie volhoubaar vir ʼn organisasie wat R7,2 miljard aan inkomste skep en oor die afgelope boekjaar finansiële verliese van meer as R622 miljoen gely het nie. As ʼn verantwoordelike raad kan ons nie net sit en toekyk en nie optree nie. Dit sal onverantwoordelik en roekeloos wees. Die SAUK stel al sy werknemers en aandeelhouers gerus dat ons sal voortgaan om ons vertrouensplig na te kom om in die beste belange van die maatskappy op te tree,” het die raad gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dawie ·

Dis hoog tyd dat politieke persone uitbly by maatskappye se besluite (al is dit sauk) en besef daar is gevolge vir dade van vorige politiese aanstellings – hlaudi.

PJ ·

Ek is oortuig die lede van die bestuur sal nog hulle “prestasie bonusse” en 13e tjek ontvang net die werkers sal moet waai

Robert ·

Nog ‘n eens spog instelling in die grond in bestuur!! So val hulle een vir een………

Ronel ·

Dit gaan daar ook seker soos by die munisipaliteite. Almal is een of ander bestuurder en kry vet salarisse om heeldag op hul vet boude te sit en niks te doen nie

lewies ·

Jy is reg Ronel ” Dit gaan oor buitensporige salarisse, maar niemand wat tans in die ANC sit sal hierdie waarheid verdra nie. Ernst Roets se voordrag oor die grondkwessie in die parlement en die reaksie daarop het maar net gewys dat die waarheid seermaak.

Sieg ·

Die SABC is ook maar een van die ANC se bankrot maatskappye wat hulle al reeds misbestuur het soos alles wat hulle al verwoes het, volgende is die land!

Hennie ·

Doen net wat julle wil SABC! Ons kyk in elk geval nie julle septiese inhoud nie! Val in vrede!

Ellisras ·

Ek luister RSG. Dit is my nuusbron. Ek kyk darem die weervoorspelling op sabc two.

Ollie ·

Waar is die mense wat voorheen TV lisensies nagegaan het by die huise, hulle het net verdwyn en so het inkomste verdwyn, want hoeveel duisendes is daar nie wie nie TV lisensies betaal nie. As almal TV lisensie betaal sal die agterstand uitgewerk word.

leser ·

waarvoor moet ek betaal vir iets wat tot 3x keer per 24 uur herhaal word, dan is dit ook snert

christa ·

dat die politiek in alles inmeng is voorwaar. Wat het die politiek uit te waai as n besigheid nie kan byhou met die uitgawes nie. Gaan die politiek die mense betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.