SAUK: Minister besorg oor Matthews se skielike bedanking

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die minister van kommunikasie het Dinsdag gesê sy neem met kommer kennis van Jimmi Matthews, die SAUK se uitvoerende hoof, se skielike bedanking.

Matthews het bedank nadat hy die manier, waarop die openbare uitsaaier bestuur word, gekritiseer het.

“Mnr. Matthews is in die amp aangestel weens sy potensiaal om die SAUK in ʼn goeie rigting te stuur,” het minister Faith Muthambi gesê. “Dis jammer dat hy besluit het om sy bedanking ʼn sosialemediakwessie te maak, eerder as om sy besware intern te lug, of sy besware met die ministerie te bespreek.”

Muthambi het gesê die tydsberekening van die bedanking is verdag. “Die ministerie van kommunikasie het volle vertroue in die raad van die SAUK, dat hy die situasie sal laat bedaar en die openbare uitsaaier in die regte rigting sal stuur,” het sy bygevoeg. “ʼn Stabiele en funksionele SAUK is in ons almal se belang. Ons glo dat normaliteit behoue sal bly.”

Muthambi het gesê sy neem kennis van mediaverklarings van verskeie politieke partye en sommige individue wat die SAUK-sake wil verpolitiseer. “Dit is jammer dat sommige persone nou politieke punte wil aanteken. Die SAUK se uitsendingsplanne vir die munisipale verkiesing bly staan en die verkiesing sal gedek word soos geskeduleer.”

Mbulaheni Maguvhe, voorsitter van die SAUK-raad, het Dinsdag ontken dat daar enige krisis by die openbare uitsaaier is en gesê mense bedank deurgaans by organisasies.

Hlaudi Motsoeneng, hoof bedryfsbeampte, het ook ontken dat daar enige probleme by die SAUK is en bygevoeg daar is geen opstand in die organisasie nie. “Wanneer ʼn paar mense hoes, sê die media daar is ʼn opstand in die SAUK. Watter opstand? Dit lyk of daar ʼn agenda is deur die media teen die openbare uitsaaier.”

Buiten Matthews se bedanking, is minstens drie joernaliste, Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, Suna Venter, ʼn senior verslaggewer, en Thandeka Gqubule, ʼn sakeredakteur, geskors wat glo geweier het om ag te slaan op die SAUK se nuwe reël, dat betogings nie gedek mag word nie. Maroela Media het vroeër berig die vakbond Solidariteit het die SAUK tot 30 Junie om 15:00 tyd gegee om die skorsing van Krige en Venter op te hef voordat moontlike regsaksie geneem sal word.  Gqubule het volgens berigte ook regsadvies ingewin. Die vakbond het wel ook sy dienste aan enigiemand in die SAUK aangebied.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Veritas ·

Nou is Faith se geloof daarmee heen. Wat my verbaas is die feit dat sý verbaas is dat iemand, wat deur hulle aangestel is, enigsens morele standaarde kan hê.

Edward ·

Hulle sê selfs rotte verlaat ‘n sinkende skip. Boikot die sabc. Moet nie die lisensie gelde betaal nie. Die sabc is slegs die spreekbuis vir die ANC en niks meer. Gee eerder daai gelde vir Solidariteit wat vir die behoud van ons regte veg.

christine ·

JA eendag as sy weer kom sien sy dalk wat besig is om te gebeur, liewe ouers is dit wat SA verdien totaal onbevoeg vir haar pos dis duidelik.

Milan ·

Geagte Minister. Jy het geoorloofde rede om besorg te wees. Gaan soek die fout by Hlaudi Motsoeneng. Vra hom dan ook waar kom al sy opdragte vandaan.

Hasie ·

Volgens hierdie berig ly ek af dat die minister Faith nie eintlik weet wat in haar portfelje aangaan nie. As jy die pos van minister beklee moet jy”hands on”wees. Nie Mathews of die drie geskorste kwaliteit persone het die vertroue gehad om dit op hoĕr vlak te bespreek nie. Die minister is ook bang vir Hlaudi, as sy hom bevraagteken, dank haar af. Ons slapende regering snork alles dood.

Theuns ·

Dit wat by die Openbare Uitsaaier gebeur is “mind blowing” en het die mondstuk vir die ANC en Jacob Zuma geword. En die ergste van alles dink die kaders dat enige instansie wat ‘n ANC minister aan die hoof het van so organisasie nie aan die mense behoort nie maar aan die regering en ANC. Ek kyk gister met water venyn praat Motsoneng met di Joernaliste en hoe hy se hy sal seker maak dat enige ou wat uit lyn is met sy bevele gedisplineer sal word. Sy grootheidswaan is lagwekkend. Gee hom tou en hy gaan homself hang! Verbeel ek my of het Jimmy Matthews gelag toe hy sy bedanking aangekondig het? Neem hom nie kwalik nie want die SAUK is ‘n groot grap.

Koos ·

Maroela media , hoe begin n mens om npetisie op te trek. Daadwerklike optrede is beter as wat ons staan en blaf teen n stink wind ?

Lance ·

Oogklappe !….alles moet mos eers ontaard in n krieses voor daar agtergekom word daar is GROOT fout …..HALLO SKRIK NET WAKKER !

Johan ·

Die OB het mos aanbeveel dat Hlaudi uit sy pos verwyder moet word.Maar hy het mooi by No 1 geleer.Vee jou agterwêreld daaraan af.Dit het mos die norm geword in ons land.Ek dink ons moet almal ophou om TV lisensies te betaal totdat Hlaudi uit sy pos is asook sy minister Faith.

Hendrik von Wielligh ·

Ja die sauk is meer as n pyn in die nek. Dit het tot n handige wapen in die hand van die anc ontaard. Die ander probleem is ons onvermoe om hierdie saak te beveg vanwee die pes wat ons aankleef om nie saam te kan staan nie. Dit gaan ons nog baie duur te staan kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.