SAUK: Motsoeneng vergader nie met aktiviste; Solidariteit wil hof nader

Yusuf Abramjee, Zwelinzima Vavi, Sekoetlane Phamodi en ander aktiviste buite die SAUK se hoofkantoor in Johannesburg (4 Julie 2016) Foto: Getrude Makhafola/ANA

Yusuf Abramjee, Zwelinzima Vavi, Sekoetlane Phamodi en ander aktiviste buite die SAUK se hoofkantoor in Johannesburg (4 Julie 2016) Foto: Getrude Makhafola/ANA

Die vakbond Solidariteit het vandag gesê hy gaan hom tot die konstitusionele hof wend om die grondwetlikheid van die skorsing van drie SAUK-joernaliste te betwis.

Dit volg nadat die SAUK versuim het om op Solidariteit se versoek die skorsing van Foeta Krige, Monitor en Spektrum se uitvoerende regisseur, die joernalis Suna Venter en die sakeredakteur, Thandeka Gqubule op te hef.

Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, gaan die vakbond direk na die konstitusionele hof omdat die joernaliste se skorsing onder meer inbreuk maak op hul grondwetlike reg op vryheid van spraak, asook die publiek se grondwetlike reg op toegang tot inligting.

“Ons meen die saak is in die publiek se belang. Dit is daarom noodsaaklik dat ons nog voor die verkiesing toegang tot die grondwetlike hof verkry om te verseker dat die publiek toegang tot die nodige inligting het om ʼn ingeligte keuse te kan maak,” het Kruger bygevoeg.

Solidariteit is van plan om later vandeesweek op ʼn dringende basis formeel aansoek tot die grondwetlike hof te rig. Solidariteit ontmoet ook die Freedom of Expression Institute binnekort om die samewerkingsmoontlikhede vir so ’n aansoek uit te pluis.

Krige, Venter en Gqubule is in Junie geskors nadat hulle in ’n nuusvergadering beswaar gemaak het teen die instruksie om nie oor betogings van die Right2Know-veldtog teen SAUK-sensuur te berig nie. Solidariteit tree namens al drie joernaliste op.

Intussen word vier ander personeellede ook deur dissiplinêre stappe in die gesig gestaar. Busisiwe Ntuli, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp staan tereg op aanklag van “skakeling met die media” en Lukhanyho Calata, Kaapstadse parlementêre verslaggewer, is Maandag van oortreding van SAUK-reëls beskuldig.

Calata is die seun van die struggle-aktivis, Fort Calata van die Cradock-vier.

Media- en uitsaaiwese-aktivis Sekoetlane Phamodi het Maandag gesê die raad van die SAUK en Faith Muthambi, minister van kommunikasie, het agteroorgesit en toegelaat dat die openbare uitsaaier ʼn “toestand van verval” bereik.

“Die probleme met die SAUK word nie alleen met [uitvoerende bedryfsbeampte] Hlaudi Motsoeneng verbind nie, daar is groter vrae oor hoe ons openbare media-instansies bestuur word,” het Phamodi aan verslaggewers buite die SAUK se hoofkantoor in Aucklandpark gesê.

Phamodi, Zwelinzima Vavi, Yusuf Abramjee en ander aktiviste sou met Motsoeneng vergader, maar die vergadering is ter elfder ure gekanselleer.

Phamodi het gesê Motsoeneng het Vavi ʼn paar minute voor die vergadering sou begin, gebel en dit gekanselleer. Hulle sou om 12:00 vergader.

Motsoeneng het aan Vavi gesê sy span het hom aangeraai om weg te bly van die geskeduleerde vergadering en dat tugverhore teen die SAUK-verslaggewers sal voortgaan.

Die groep aktiviste is verbied om die SAUK se perseel te betree.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos ·

Ek weet ek het hierdie storie al holrug gery maar ek gaan dit weer se dit is ‘n mors van tyd gebruik die kundiges stig ‘n fonds en begin ‘n uitsaai stasie waar julle nie gemuilband word of voorgesê word nie mense is moeg vir DSTV en die sabc ek sal my dstv subskripsie net so skenk.

Zirk ·

ZIMBABWE HIER KOM ONS! Hlaudi is nou soos ‘n ANC Nazi wat die beeld van sy “adelike” leier wil beskerm ten alle koste. Hulle moet ontslae raak van Motsoeneng en Mutambe. Daarna moet Zuma ook in die pad gesteek word.

humor ·

Ja dit is n bietjie holrug. Die voorstel is puik. Hoeveel gaan ons bydra???

Maria van Dieweeck ·

Sussie! Hys bang vir bra Vavi ne? Haal Hitler Motsoeneng uit net om n punt te maak, daarna sal ons sien.

Theuns ·

Soos alle despote/diktators is Motsoneng ‘n uitertse lafaard!! Hy se sy “Generale Staff” het hom afgeraai tewyl hy hom self daarop roem dat hy die groot generaal is. Sy bos benaming is mos COO (Chief Operations Officer) Kom ons gee hom ‘n dubbel en verleng sy posbenaming na Mr. COOCOO’S.

Rynhardt ·

HLaudi Motsoeneng tree op soos n diktator wat net met sy Anc maatjies vergader! Afrikaanssprekendes moes jare gelede hul eie tv stasie , koerante en tydskrifte gestig het wat afsonderlik van SAUK en media24 gefunksioneer het.Dan sou jy vandag nie sonder land en toekoms gesit het nie.Hoofstroommedia verkeer vandag in n groot gemors en mag nooit ooit vertrou word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.