SAUK ʼn gevallestudie van Zuma se staatsvergryp, sê DA

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Dit wat met die SAUK gebeur is ʼn gevallestudie van pres. Jacob Zuma se staatsvergryp-projek, ʼn tasbare voorbeeld van dit wat gebeur wanneer staatsinstansies deur politieke aanstellings vir politieke doelwitte oorgeneem word, ten koste van die publiek, het DA-leier Mmusi Maimane gesê.

“In Hlaudi Motsoeneng het ons ʼn individu wat deur die openbare beskermer, die hooggeregshof en die appèlhof as oneerlik en onbevoeg vir sy taak bevind is en boonop onwettig aangestel is in die amp van bedryfshoof van die SAUK,” het Maimane Saterdag aan verslaggewers in Kaapstad gesê ná die DA se federale uitvoerende vergadering.

“Nieteenstaande bestuur Hlaudi Motsoeneng die SAUK soos sy eie. En die minister van kommunikasie het vir hom haar goedkeuring gegee. Dit is boonop onder sy bestuur dat die SAUK ʼn nettoverlies van R805 miljoen gely het die afgelope twee jaar. Die DA sal nie rus nie totdat Motsoeneng van sy amp gestroop is en die openbare uitsaaier opgebou kan word wat die grondwetlike mandaat eer waarop dit gebou is om in openbare belang op te tree.”

Maimane het gesê sy party sal nie ophou totdat Motsoeneng verwyder is nie. “In die lig van die kabinet se aankondiging vandeesweek dat Motsoeneng die hof se uitspraak teen hom moet respekteer en uit sy nuwe amp moet bedank, kan die SAUK-raad nie hierdie besluit langer uitstel nie.”

Die DA is in gesprek met sy regspan om te bepaal of Motsoeneng se nuwe aanstelling as groepshoof van korporatiewe sake “onreëlmatig, onwettig en irrasioneel” was.

Lees alle vorige berigte oor Hlaudi Motsoeneng op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jakkalas ·

Hoekom moet julle dit nog vasstel? Die OB het julle die antwoord al gegee vroeër die week. Hello……..

KP ·

En hy moet al die geld wat hy gesteel het, sy salarisse en bonusse trerug betaal.

GES ·

Dit skyn nagal lekker te wees om bo die wet verhewe te wees. Wat ʼn sirkus…….

Cherokee ·

Ek swaai ook baniere met die betogers hierbo wat (probeer) sê dat die oordrewe salarisse en bonusse wat hy ontvang het, onwettig is gesien in ondermeer die lig dat hy gelieg het oor sy kwalifikasies om aangestel te word, dat hy aangestel was ten spyte van regsadvies dat hy nie daar hoort en dat hy massiewe bonusse betaal is terwyl die SAUK geweldige verliese gely het.

Kleintjie ·

Reg so, kry hom uit!!!!!! Hy hoort nie daar nie. Hy hou net aan om sy sakke te vul ten koste van die sukkelende en bankrot SAUK.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.