SAUK-nuuskanaal op DStv nou net Engels

Foto: Argieffoto

Foto: Argieffoto

Die woorde “Goeienaand en welkom by die nuus in Afrikaans” op die SAUK se 24-uur-nuuskanaal op DStv is Dinsdagaand vir die laaste keer gesê.

Alle nuusbulletins sal voortaan net in Engels geskied, tenspyte daarvan dat die nuus in Afrikaans by uitstek die “mees gewilde” 30 minute segment op die kanaal SABC News (DSTV 404) was. Só het Ivor Price, aanbieder van die Afrikaanse nuus, gisteraand gesê.

Dis egter nie net Afrikaans wat in die slag bly nie. Die Xhosa-, Sotho-, Zoeloe-, Siswati-, isiNdebele-, Tsonga- en Venda-nuusbulletins is ook Dinsdagaand vir die laaste keer uitgesaai. Die 24-uur-nuuskanaal het vanaf middernag slegs in Engels begin uitsaai.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het nie gereageer op talle medianavrae en oproepe oor die besluit om nuusbulletins in ander tale summier te kanselleer nie. Die weeklikse tydskrif-programme soos Health Talk, Film SA, Bophelon , Afroshowbiz News, Rights & Recourse, The Journal en Kaleidoscope is ook gestaak.

Die besluit word as vreemd beskou veral omdat Hlaudi Motsoeneng, die SAUK se omstrede hoofbedrysbeampte, in Augustus 2013 tydens die bekendstelling van die kanaal gesê het die kanaal sal op provinsiale stories en die onderskeie amptelike tale fokus.

Die SAUK-nuuskanaal is aanvanklik begin om die sukkelende SABC News International te vervang en is die afgelope jaar en ʼn half al deel van ʼn omstrede transaksie wat Motsoeneng met MultiChoice se DSTV-platform gesluit het. Moetsoeneng het vroeër in Maart na die SAUK se nuuskanaal as ʼn “loodsprojek” verwys.

Die nuus sal steeds op SABC2 in Afrikaans uitgesaai word.

Channel 24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

scalla ·

Kan die sabc asb hul sein van my erf af verwyder, ek wil dit nie he nie, dankie

Nina ·

Ek stem saam, Scalla! Ons het nie eens ‘n ‘aerial’ of kabel nie, maar hulle ry mens vir tv lisensie.

Bets ·

So begin hulle stadig aan ons Afrikaanse stasie op Dstv te boikot, Ons BETAAL ons nek af vir daardie Afrikaans diens, nie Engels nie. Wat gaan ons nou doen? Maar stilbly en dit aanvaar? Nee glad nie ons gaan definitief begin rebeleer daarteen.

Paul ·

Niemand, Afrikaans of Engels, kyk in elk geval daardie kanaal nie. Hulle kan die hele kanaal maar skrap.

piet parra ·

Ek het al lankal Zulu aan geleer en kyk in elk geval net die Zulu kanale.

Barend ·

Nee, ek dink nie hierdie is ‘n Aprilgek nie… Dit is iets wat ons almal sien kom het.

Leeutjie ·

Die 1ste, 2de en 3de kanaal is in elkgeval ‘n klomp snert. Dis jammer nie almal kan bekostig om DSTV te besit nie. Die nuuskanale is lekker Afrikaans en die variasie waarna ‘n mens kan kyk is beslis ‘n plus.

Juan Olivier ·

Ek kyk dit inelkgeval nie. Maar nou is daar nie ‘n kaans dat ek dit sal kyk nie.

Kyknet & Kie kyker, ·

Kyknet & Kie het ook vanoggend sy laaste nuusuitsending na 2 en half jaar beeindig. Waarom moet TV lisensie, sowel DSTV betaal word vir TV1, 2, 3 en E-TV, of is dit ek wat gewillig is om dubbeld te betaal vir herhaling van programme. Kyknet is nie in die familie pakket ingesluit nie, maar gebruik Kyknet & Kie vir hulle advertensies. DSTV se maandelikse paaiemente het ook opgegaan vir herhaling van programme. Meer betaal vir minder dienste, waar gaan dit heen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.