SAUK-ondersoek: Finale verslag aanvaar

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Onenigheid tussen die onderskeie politieke partye, wat deel vorm van die ad hoc komitee wat die SAUK ondersoek, het daartoe gelei dat die DA besluit het om die komitee se aanvaarding van die konsepverslag te boikot, omdat aanbevelings nie daarby ingesluit is nie.

Phumzile van Damme, die DA se kommunikasiewoordvoerder en Mike Waters, die party se adjunk-hoofsweep, het sterk beswaar aangeteken teen die siening van die parlement se regsadviseurs, asook die ANC en ander politieke partye, dat daar risiko’s daaraan verbonde is om aanbevelings by die dokument in te sluit.

Die DA het aangevoer die ommeswaai van die besluit om aanbevelings in die verslag in te sluit, dui daarop dat die ANC-meerderheid opdrag van die ANC-hoofkantoor ontvang het om seker te maak die aanbevelings word nie ingesluit nie.

Steve Swart van die African Christian Democratic Party (ACDP) het aangevoer dit is beter om eerder gehoor te gee aan die regsadvies wat ingewin is, indien die aanbevelings “ammunisie kan gee vir die mense wat deur die verslag geïmpliseer word”.

Vincent Smith, die voorsitter, het Van Damme aangespreek omdat sy sê die regsadviseurs het swak werk gedoen en het haar gevra om haar politieke aanvalle vir politici te hou en nie op parlementêre werknemers te rig nie.

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Die komitee het oor die kwessie gestem en sleg Waters en Van Damme het teen die voorstel om die aanbevelings weg te laat, gestem. Van Damme het aan African News Agency (ANA) gesê die DA sou daarom nie later teenwoordig wees wanneer die komitee weer bymekaar kom om die konsepverslag amptelik te aanvaar nie.

“Ons het gestem teen ʼn verslag wat sonder aanbevelings gestuur word. Daar is dus geen punt om by te wees wanneer die verslag aanvaar word nie,” het sy gesê.

Die DA het vroeër ook beswaar aangeteken teen die bewoording van ʼn gedeelte in die verslag, wat lui dat SAUK-werknemers gesê het die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie het hulle in die steek gelaat. Van Damme het gesê die verslag moet eerder lui dat die ANC-meerderheid op die beleërde komitee die openbare uitsaaier in die steek gelaat het.

Sy het beklemtoon sy en haar mede DA-LP’s het ten sterkste beswaar aangeteken toe die komitee die knie gebuig het voor Faith Muthambi, minister van kommunikasie, se goedkeuring van voormalige SAUK-hoof Hlaudi Motsoeneng en die twyfelagtige besluite van die SAUK-raad.

Van Damme het ook gesê die DA “het miljoene spandeer om hof toe te gaan” toe Muthambi traag was om die Openbare Beskermer se bevindinge teen Motsoeneng te implementeer. Die ANC het hierop teruggekap dat Van Damme probeer om politiek in die ad hoc komitee se werk in te bring wat tot op hede ʼn onpartydige benadering gevolg het.

Op die ou end is ooreengekom dat die bewoording sal lui dat getuies meen “die parlement het hulle in die steek gelaat” terwyl die SAUK verskeie krisisse moes hanteer.

Ander minderheidspartye het met die ANC saamgestem dat die wetgewer in sy geheel verantwoordelikheid moet neem vir die aksies van sy portefeuljekomitees.

Die konsepverslag is later Vrydagmiddag deur die komitee, in die afwesigheid van die DA-LP’s, aanvaar. Die volledige verslag sal later vanmiddag openbaar gemaak word en sal ook aan al die betrokke partye en getuies wat gedurende die ondersoek getuig het, gestuur word.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hasie ·

Julle moet altyd onthou dat die ANC hulle self altyd uit ‘n situasie sal probeer lieg.

Johannes van Staden ·

So gaan dit …niemand gaan verantwoordelik gehou word vir die algehele verval , wanorde en vermorsing van belasting gelde nie …alles is nou weer reg ….PATETIES ! !

wilma ·

Ai mense ons praat nou van mense vi wie jy nooit ooit kan glo. Beskerm hul comrades ten alle koste. Hul voel vere vi die land. Stel net belang selfverryking. Cover vi mekaar en so sal dit altyd wees

Rabes ·

Dit raak tyd om tv lisensies te hernu en ek het besluit om teen die sauk te protesteer deur nie ‘n lisensie uit te neem nie. Mense staan saam en slaan waar dit seermaak.

Johanna Botha ·

Rabes ek is met jou gaan ook nie my lesensie betaal vir die korrupte, oneerlike sirkus nie

Deon ·

Ai Mr Smith…….groootbek op die tv……en nou swig jy ook onder politieke druk…….
Hoeveel geld het julle nou weer gemors op iets waarvan ons die antwoord reeds geweet het voor julle kommissie begin krap het….

Alida ·

Lekker dans die spul korruptes nou. Roer hulle DA en handel die saak af en klaar.

John ·

Die ANC/Gupta-tv-stasie het reeds laat blyk hoe die wind waai. Kry maar jul nuus elders as by die SAUK, tensy julle aan erger depressie wil ly. Die verkwanselde ou programmatuur is ook vir goed verlore… moenie hoop nie. Programme oor ons land se geskiedenis gaan in nuwe gedokterde formaat die lig sien… Hierdie ondersoek het nooit plaasgevind nie… a la 1984…

Christa ·

Is dit waarvoor ANC staan: African National Cowards? Hulle is die grootste lafaards!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.