SAUK-ondersoek: ‘Hlaudi was raadslede se gunsteling’

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Hlaudi Motsoeneng. Foto: Catherine Rice/ANA

Die ad hoc-komitee wat aangestel is om die bevoegdheid van die SAUK-raad te ondersoek, het Donderdag gehoor hoe Hlaudi Motsoeneng sommige raadslede se “gunsteling” was en hoe sy aanstelling as bedryfshoof ondanks baie teenstand deurgedruk is.

Die komitee het Donderdag tydens die tweede dag van die ondersoek besluit om die raadsvoorsitter Mbulaheni Maguvhe te dagvaar om voor die komitee te verskyn en hom moontlik aan te kla van minagting van die parlement. Dit volg nadat Maguvhe Donderdag glad nie opgedaag het om die komitee se vrae te beantwoord nie. Die LP’s in die komitee het eenparig ʼn voorstel ondersteun dat Maguvhe gedagvaar word om Dinsdag voor die komitee te verskyn.

Maguvhe is reeds verlede maand gedagvaar om dokumente wat relevant ten opsigte van die ondersoek is aan die komitee te voorsien. Tien van die 15 dokumente wat aangevra is, is egter nie aan die komitee oorhandig nie, omdat die SAUK beweer het dit is “kommersieel sensitief” of aangesien die dokumente skynbaar weggeraak het.

Een van die dokumente wat volgens die SAUK “kommersieel sensitief” is, is voorheen aan ʼn ander parlementêre komitee oorhandig, wat LP’s dit laat bevraagteken het hoekom die openbare uitsaaier die dokument van die komitee weerhou. Vincent Smith, die komiteevoorsitter, het die parlement se regspan gevra om ondersoek in te stel en te bepaal of die SAUK se weerhouding van die dokument as minagting van die parlement gesien kan word.

LP’s het gesê Maguvhe se weiering om die komitee se vrae te beantwoord moet dadelik stopgesit word en hy moet wetlik verplig word om voor die komitee te verskyn. “Daar is geen manier dat enigiemand toegelaat kan word om die parlement te minag nie. ʼn Dagvaarding moet uitgereik word,” het ANC-LP Jabu Mahlangu gesê.

Vroeër Donderdag het die komitee getuienis van twee voormalige raadslede en ʼn voormalige uitvoerende hoof van die SAUK gehoor. Ronnie Lubisi, ʼn voormalige raadslid, het aan LP’s vertel van die vyandige omgewing in die raad voor hy saam met Hope Zinde en Rachel Kalidass verwyder is omdat hulle die aanstelling van Motsoeneng as bedryfshoof teengestaan het.

Motsoeneng is as bedryfshoof aangestel ondanks die voormalige openbare beskermer se bevinding dat hy oor sy matriekkwalifikasie en die omstrede MultiChoice-ooreenkoms gelieg het.

Lubisi het gesê Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, het in Julie 2014 aanbeveel dat Motsoeneng as bedryfshoof aangestel word. “Die raad het ʼn baie lang vergadering [met Muthambi] gehad, want die voorstel was vir sommige mense baie problematies. Ons het [oor Motsoeneng se aanstelling] gestem en die meerderheid het daarvoor gestem. Ek het teen sy aanstelling gestem, want dit het nie sin gemaak nie,” het Lubisi gesê.

Hy het gesê daar is nie aan die SAUK se eie beleidstellings, onder meer om ʼn pos te adverteer en om te verseker dat die kandidaat oor die nodige kwalifikasies beskik, voldoen nie. Hy twyfel ook geensins dat hy en die ander raadslede uit hul posisies verwyder is omdat hulle Motsoeneng se aanstelling teengestaan het nie.

Volgens Lubisi is daar aan hom gesê hy word van die komitee verwyder weens ʼn “konflik van belange” oor twee maatskappye wat gekontrakteer was om werk vir die SAUK te doen en vir wie hy glo ouditeurswerk doen. Hy het egter ontken dat hy al ooit enige werk vir die betrokke maatskappye gedoen het en selfs nadat hy bewyse hiervan gelewer het, is hy steeds uit sy pos verwyder, het hy gesê.

Lubisi het ook getuig oor verskeie briewe wat Muthambi aan hom geskryf het, onder meer ʼn brief wat hom versoek het om te bedank en nog een waarin hy gevra word om redes te verskaf hoekom hy nie van die raad verwyder moet word nie. Hy het die briewe as “vyandig” beskryf.

“Die briewe was nie vriendelike briewe nie. Dit was nie liefdesbriewe nie,” het hy gesê. “Die minister het in ʼn stadium erken dat sy nie by magte is om ons te verwyder nie. Dit was aan Maguvhe oorgelaat om ons ‘uit te haal’.”

Lulama Mokhobo, wat van 2012 tot 2014 uitvoerende hoof van die SAUK was, het gesê haar posisie het in gedrang gekom weens die manier wat sake deur die bestuur en die raad hanteer is. Sy het gesê sy was veronderstel om die skakel tussen die raad en die onderskeie hoofde te wees, maar Motsoeneng was baie raadslede se gunsteling en hy het die “go-to man” geword.

Sy het bygevoeg haar weiering om sekere kontrakte af te teken wat nie vir haar sin gemaak het nie, het bygedra tot haar gespanne verhouding met die raad. Mokhobo het verduidelik hoe die SAUK ʼn ooreenkoms met MultiChoice wou aangaan om hulle toegang tot die openbare uitsaaier se argiewe te gee. Sy het die ooreenkoms deurentyd teengestaan. Toe sy egter vir een week met verlof gegaan het toe haar kleindogter siek geword het, is die ooreenkoms met MultiChoice in haar afwesigheid vinnig goedgekeur en onderteken.

Mokhobo is uiteindelik weg by die SAUK lank voor haar termyn eers in 2017 sou verstryk, omdat sy “dit nie meer kon hanteer nie”.

“Ek was heeltemal uitgeput. Ek het ʼn punt bereik waar ek gevoel het daar was niks meer wat ek kon doen nie. Die skrif was aan die muur, ek moes gaan. Hoekom myself dwing om te bly op ʼn plek waar ek nie welkom was nie?”

Sy het later ook aan LP’s gesê sy is bang dat ʼn lasteraksie teen haar ingedien sal word indien sy onthul wie by die SAUK haar gedreig het. Die LP’s het ingestem dat sy sommige vrae nie hoef te beantwoord nie.

Vusi Mavuso, nog ʼn voormalige raadslid wat net weke gelede bedank het, het ook aan die komiteelede gesê die behoorlike proses is nie gevolg met Motsoeneng se aanstelling nie. Hy het gekies om buite stemming te bly toe daar oor Motsoeneng se aanstelling gestem is en is kort daarna geroep om een oggend om 06:00 voor Muthambi te verskyn.

“Die minister was nie daar nie. Dit was natuurlik net haar regsadviseur. Die een of ander dokument is voor my gegooi. Dít was my oortredings – ek het glo ambisies om die uitsaaier se uitvoerende hoof te word,” het hy gesê. Volgens Mavuso het hy besluit om te bedank omdat die spanning in die raad so erg geword het dat die situasie “kranksinnig” geraak het.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jane ·

Hehehe ons almal weet natuurlik hoekom. Jy is net iemand se gunsteling as jy baie voordele vir die mense inhou. Jy kry niks vir niks, en niemand is onnodig gewild nie veral nie as hy nie eers die kwalifikasies het wat hy veronderstel was om te hê nie. Snaaks hoe vinnig het hy van die joernaliste ontslae geraak, maar niemand kan van hom ontslae raak nie. Volgens my is net die feit dat hy oor sy kwalifikasies GELIEG het al genoeg gronde om hom onmiddellik af te dank dan nie?

Johan ·

Well GLOUDY sou my gunsteling ook wees want
1. hy gaan my n helse verhooging gee.
2 as ek swart is gaan ek bevordering kry
3.hy ken die minister van kommunikasie
4. hy ken vir numba one kan dalk tender kry
5. Ek hoef geen kwalifikasies te hê om by SABC te werk nie( geen matriek en net 20% slaagsyfer vir wiskunde)

Ek stem ook vir GLOUDY

Jan ·

Heel, heel eerste raak net ontslae van Faith Muthambi, sy is die een wat roei en knoei, vir jare.

Maria Van Dieweeck ·

Cloudy se moeder is klaarblyklik een van zuma se spesiale toordokters…

Johann ·

Blablablablablabla…en nog n biekie bla. Miljoene rande en uuuuuure se tyd word spandeer aan die obvious en steeds is.die vlak van arrignsie en vinger wys vir die “parlememt” n gegewe. Waars die Minister? Seker besig om NOG n nuwe kar uit te soek. Nommer 4 in drie jaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.