SAUK ontken Hlaudi is waarnemende uitvoerende hoof

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng, die bedryfshoof van die SAUK, is nie as die waarnemende groep uitvoerende hoof aangestel soos wat sommige koerante Sondag berig het nie, het ʼn woordvoerder van die uitsaaier gesê.

“Hy is nie die waarnemende uitvoerende hoof nie,” het Kaizer Kganyago gesê. “Die waarnemende uitvoerende hoof is Anton Heunis, maar hy is tans met siekverlof. Anton is steeds die waarnemende uitvoerende hoof.”

Volgens Kganyago het Motsoeneng slegs ʼn paar van Heunis se pligte oorgeneem terwyl hy met siekverlof is. “Hlaudi staan in terwyl Anton siek is. Daar is geen aanstelling nie. Hlaudi moet steeds met Anton konsulteer. Dit is slegs afgevaardigde magte.”

Die City Press en die Sunday Times het berig dat Motsoeneng tydelik as die waarnemende uitvoerende hoof van die groep aangewys is terwyl Heunis siek is.

“Anton sal terugkeer sodra hy gesond is, en hopelik is dit sommer binnekort,” het Kganyago bygevoeg.

Intussen het die Demokratiese Alliansie Sondag gesê hy beskik oor ʼn dokument wat wys dat SAUK-voorsitter Ellen Tshabalala die magte van uitvoerende hoof aan Motsoeneng oorgedra het. “Hierdie dokument bied aan Motsoeneng die outoriteit om die pligte en funksies van die groep uitvoerende hoof oor te neem met effek van 13 November 2014 tot 22 November 2014,” lui die skrywe, aldus Gavin Davis, DA-LP. “Hierdie oordrag van outoriteit is die produk van ʼn onheilige alliansie tussen twee omstrede individue. Geen rasionele voorsitter sou die magte van uitvoerende hoof aan Motsoeneng oorgedra het in die lig van verdoemende bevindings teen hom nie.”

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in Oktober die SAUK beveel om Motsoeneng te skors en binne 14 dae met tugstappe teen hom te begin. Dit volg ná die DA se aansoek om ʼn dringende interdik te bekom om Motsoeneng te skors hangende ʼn hersiening van die besluit om hom as bedryfshoof aan te stel.

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het in Februarie in ʼn verslag gesê Motsoeneng se salaris het binne een jaar van R1.5 miljoen tot R2.4 miljoen vermeerder. Hy het glo ook gejok oor sy matriek-uitslae. Sy het aanbeveel dat ʼn nuwe bedryfshoof binne 90 dae aangewys word.

Faith Muthambi, minister van die departement van kommunikasie, het in Julie Motsoeneng se permanente aanstelling as bedryfshoof bevestig.

Motsoeneng het appèl aangeteken teen die hofuitspraak dat hy geskors moet word.

Tshabalala word daarvan beskuldig dat sy ook oor haar akademiese kwalifikasies gejok het toe sy aansoek gedoen het vir die pos as SAUK-voorsitter. Sy het op haar CV aangedui dat sy ʼn BComm-graad verwerf het by Unisa en ʼn nagraadse kwalifikasie in arbeidsverhoudinge voltooi het. Unisa het intussen bevestig dat sy oor nie een van hierdie kwalifikasies beskik nie. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag Tshabalala se aansoek, om die parlementêre ondersoek teen haar op te skort, van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.