SAUK-raad se voorsitter lieg glo oor kwalifikasies

sabcEllen Tshabalala, voorsitter van die SAUK-raad, het aan die parlement gelieg oor haar kwalifikasies, het City Press Sondag berig.

In haar CV wat voorgelê is aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie, het Tshabalala gesê sy het ‘n BCom-graad aan Unisa verwerf sowel as ‘n nagraadse diploma in arbeidsverhoudinge.

Die aanspraak is herhaal in ‘n verklaring wat deur die presidensie uitgereik is om haar aanstelling aan te kondig.

City Press het ‘n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by Unisa ingedien en volgens die universiteit het Tshabalala nie een van dié kwalifikasies nie.

Jan van Wyk, Unisa se uitvoerende direkteur van regsdienste en inligting, het in ‘n brief die week geskryf: “Volgens ons rekords is geen kwalifikasie aan die betrokke individu toegeken nie.”

City Press se pogings om kommentaar by Tshabalala te kry was onsuksesvol.

Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, het Vrydag gesê die parlement het kandidate voorgestel vir die SAUK-raad en dat president Jacob Zuma volgens die aanbevelings opgetree het.

“Dit is ‘n kwessie wat jy direk met haar moet opneem…’n Universiteitsgraad is nie ‘n voorwaarde vir aanstelling nie,” het Maharaj aan City Press gesê rakende Tshabala se kwalifikasies. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.