SAUK sê ANC se verklaring is misleidend

Foto: Argieffoto

Foto: Argieffoto

Die SAUK het die ANC se verklaring oor die openbare uitsaaier se onlangse omstrede besluite as misleidend bestempel en bygevoeg dat sy voorneme om nie geweld tydens betogings uit te saai nie ʼn redaksionele standpunt is, en nie ʼn beleidsverandering nie.

“Die SAUK wil benadruk dat die besluit ʼn redaksionele besluit en nie ʼn verandering in redaksionele beleid was nie. Daarom is dit nie korrek om te insinueer dat dit ʼn kwessie van beleid was nie. Dié redaksionele besluit is gerugsteun deur onder meer die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) se gedragskode waarin die kwessie van geweld en haatspraak verwoord word,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Die openbare uitsaaier het gesê die UKKSA-kode moedig uitsaaiers aan om nie geweld of materiaal wat geweld sal aanmoedig uit te saai nie en dat sy besluit in dié konteks gesien moet word.

“Die redaksionele besluit van die SAUK blyk rasioneel as dit in hierdie konteks geoordeel word. Let daarop dat die besluit nie gemaak is om enige geweld tydens betogings te sensor nie, maar om nie die afbrand van openbare eiendom verleidelik te laat lyk nie. Die gevolge van afgebrande eiendom sal egter gewys word.”

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep en voorsitter van die party se subkomitee oor kommunikasie, het sy party Dinsdag gedistansieer van die omstrede besluite wat Hlaudi Motsoeneng as bedryfshoof van die SAUK gemaak het.

Mthembu het gesê die regerende party het ʼn vergadering met Faith Muthambi, minister van kommunikasie, versoek in ʼn poging om die nuwe “ongrondwetlike” redaksionele beleid van die SAUK aan te pak. Die beleid verbied die uitsaai van geweld tydens betogings; ʼn besluit waarteen senior joernaliste by die uitsaaier kommer uitgespreek het en vervolgens geskors of aangesê is om voor tugverhore te verskyn.

Oor die dissiplinêre optrede teen die geskorste joernaliste het die uitsaaier gesê dit was sy volste reg as ʼn werkgewer om dit te doen.

“Die korporasie het ook kennis geneem van die aanhoudende mediaberigte en openbare uitsprake wat voorgee dat die korporasie se redaksionele beleid onwettig is. Die SAUK wil dit duidelik stel dat die proses behoorlik gevolg is soos deur die wet vereis word en dat daar verskeie belanghebbendes geraadpleeg is deur openbare besprekings wat landwyd gehou is. Ons het rekords van verskeie burgerlike organisasies en politieke partye wat hierdie besprekings bygewoon het. Dit is ontstellend dat hulle skielik geheueverlies ontwikkel het,” het die SAUK in die verklaring gesê.

“Die SAUK neem ook aanstoot oor insinuasies dat die raad en bestuur nie voldoende opgevoed, vaardig en ervare is om die organisasie te bestuur nie. Die SAUK-leierskap het al die nodige vaardighede, ervaring en kundigheid om die organisasie te bestuur.”

Mbulaheni Maguvhe, SAUK-raadsvoorsitter, het gesê Motsoeneng maak nie alleen al die besluite by die openbare uitsaaier nie.

“Dit is ʼn jammerte dat die verklaring deur Mthembu gelei het tot ʼn persoonlike aanval wat daarop dui dat Motsoeneng alle besluite alleen maak. Die publiek moet herinner word aan al die [SAUK se] goeie prestasies, insluitend die onlangse bekendstelling van die prioritisering van plaaslike inhoud op al ons platforms en baie ander maatreëls om te verseker dat die SAUK finansieel volhoubaar is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nicolene ·

Dis net snaaks oor die besluit maar wat van al die geweldadige stories wat wys op tv en die kinderstories?Volgens my hits dit ook misdaad en geweld aan!Dit gee die krimmenele ook idees!Dis nou maar net uit my oogpunt!

Buitestander ·

Dit is snaaks dat die SAUK so lank neem om hulle standpunt te stel toe hulle sien hul beland in die warmwater oor die se beluit om nie beweld ens uit te saai nie
Al die GOORTKOPPE moes saam sit om hul optrede te probeer reg verdig!

Lance ·

Hell die mense is vir jou deurmekaar …linkerhand weet nie wat regterhand dien nie …sauk is regtig in n krisis !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.