SAUK se nuushoof skuldig aan wangedrag

Phathiswa Magopeni (Foto: Twitter)

Die SAUK se hoof van nuus en aktuele sake, Phathiswa Magopeni, is ná ’n tugverhoor skuldig bevind aan wangedrag. Dít nadat sy versuim het om te verhoed dat die openbare uitsaaier ’n aktualiteitsprogram waarteen ’n interdik bekom is, uitsaai.

News24 berig Magopeni is aangekla nadat die betrokke episode van Special Assignment verkeerdelik uitgesaai is. Die aanklagte teen Magopeni het onder meer ingesluit die versuim om haar fidusiêre pligte na te kom asook die feit dat sy die openbare uitsaaier in oneer gebring het.

Adv. Nazir Cassim, hoof van die tugverhoor, het Magopeni eindelik op slegs een van dié aanklagte skuldig bevind en in ʼn geskrewe uitspraak gesê sy verstaan ​​nie haar rol by die openbare uitsaaier nie, berig SABC News.

“Die inhoud van die program het aan haar departement behoort, en haar skriftelike antwoorde… het ʼn gebrek aan begrip van haar rol in die sfeer van aanspreeklikheid en korporatiewe bestuur getoon.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Dít volg nadat Magopeni tydens die verhoor aangevoer het dat die program onder die vaandel van die videovermaak-afdeling val en sy nie by magte was om te versoek dat dit van die stelsel verwyder word nie.

Volgens Magopeni is daar leemtes in die SAUK-stelsel wat reggestel moet word wanneer dit kom by die hantering van regskwessies.

Cassim het wel beslis dat daar geen bewyse is wat daarop dui dat Magopeni doelbewus ʼn bevel van die hof verontagsaam het nie en het aanbeveel dat sy ʼn waarskuwing gegee word.

Die SAUK se uitvoerende raad sal eindelik op ’n gepaste straf besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.