SAUK skors werkers oor ‘sabotasie’ van Ramaphosa-toespraak

‘n Skermskoot uit die uitsending.

Die SAUK het drie permanente werkers en ʼn vryskutwerker geskors, ná bewyse aan die lig gekom het dat pres. Cyril Ramaphosa se onlangse toespraak “gesaboteer” is.

Die voorval het Donderdagaand plaasgevind toe die openbare uitsaaier die verkeerde weergawe van Ramaphosa se voorafopgeneemde toespraak op die program The Full View uitgesaai het.

Die SAUK se voorlopige ondersoek na die voorval het gewys dat beeldmateriaal vir die 18:00-uitsending van die president se toespraak betyds was om ʼn behoorlike uitsending te doen. Ten spyte hiervan is ongemagtigde veranderinge aangebring sonder dat daar met die nuuskantoor daaroor gepraat is.

Gevolglik het die program Ramaphosa se kleedrepetisie-toespraak aan die land gewys, pleks van die finale, korrekte weergawe, het Vuyo Mthembu, die SAUK se woordvoerder, gesê.

“Die SAUK gaan geen optrede of nalatigheid toelaat wat die openbare uitsaaier in oneer bring en sy pogings ondermyn om die sistemiese probleme met onwettige optrede en wanbestuur wat die instelling teister, uit die weg te ruim nie,” het Madoda Mxakwe, die SAUK se uitvoerende groephoof, gesê.

Phathiswa Magopeni, die SAUK se uitvoerende groephoof vir nuus en aktuele sake, het gesê daar gaan streng opgetree word teen enige werker wat betrokke is by aktiwiteite wat die SAUK se pogings om sy geloofwaardigheid te herstel, ondermyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Daan Erasmus ·

Hlaudi is weg. Die res is almal nog daar. Al die moeilikheid makers. Die wat aangestel is omdat hulle iemand se vriend is.

Merino Skaap ·

Het enige iemand metriek in daardie plek ?
Meskien moet hulle n skool oopmaak in die SABC. Dan kan hulle skool doen van 8h00 tot 13h00.

Hennie ·

Kan iemand asb vir my sê of dit die SABC of SAUK is? Lyk my as dit slegte berriggewing is dan is dit SAUK, andersins is dit SABC..

Nel ·

Merino skaap; beslis nie matriek nie, soos wat dit daar gaan eerder wel ”metriek.”

Sam ·

Hennie, die bepalende faktor is die taal van die berig wat jy lees!

SAUK is Afrikaans (Uitsaai Koöperasie)
SABC is Engels (Broadcasting Cooperation)

Ek is Sam ·

Hennie, die bepalende faktor is die taal van die berig wat jy lees!

SAUK is Afrikaans (Uitsaai Koöperasie)
SABC is Engels (Broadcasting Cooperation)

jaco ·

SA raak nou nes Zimbabwe. Baie dieselfde goed het ook in kommunistiese lande gebeur. Amptenare wie se foute die onaantasbare amper volmaakte staatshoof in oneer gebring het, is summier afgedank en selfs doodgemaak. Wats volgende: eenpartystaat, vervolging van Christene?

Heidi ·

Begin die SABC net heeltemal van vooraf. Vee uit en begin van nuuts.

Ai ·

Dis gin sabotasie nie, dis eenvoudige onbekwaamheid en weereens probeer hulle net als te verdoesel en weg te steek. CR, jys netso onbekwaam soos almal by die SABC. Julle wil NHI seepglad laat verloop, my liewe genade, die ANC beheerde entiteite kan nie eers ń 30 sekonde “live” uitsending reg uitsaai nie nou wil julle R500 miljard administreer. Regtig???????????????

Adb ·

Altyd iemand of drie wat val so neem niemand verantwoordlikheid.

Leon ·

Wie het gesê Jacob Zuma het uitgetree. Hy werk nog lekker agter die skerms. Hy en Julius probeer hard om Cyril uit te kry.

John ·

Leon hoekom nie ace bygooi nie… duur whisky proe altyd beter… saam met ‘n Kubaanse sigaartjie.

Klip inni Bos ·

Griekeland het ERT hulle Staatsuitsaaier se deure toegemaak en eerder geld spandeer waar dit brood nodig was toe hulle in die sop was. Maar hier moet grootkoppe miljoene verdien uit ons belastinggeld. Eks so keelvol vir al spandabelrigheid en ons moet ons sente tien maal omdraai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.