SAUK skrap ‘kommerwekkende’ kommunikasieklousule

(Argieffoto: Karen Sandison/ANA)

Die SAUK het Donderdag aangekondig dat ’n klousule wat bepaal dat werknemers se kommunikasie onderskep, gemonitor of gelees mag word, onmiddellik uit dienskontrakte verwyder gaan word.

Dié klousule het skerp kritiek ontlok, onder meer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) wat dit as “uiters kommerwekkend” beskryf het.

Sanef het dié gebruik verder ten sterkste veroordeel en gesê dat dit onder meer inbreuk op werknemers se regte maak en die vertrouensverhouding tussen joernaliste en hul bronne in gedrang bring.

“Daar is geen nuusinstansie of mediawerkgewer wat ooit sal wil hê dat vertroulike en sensitiewe inligting van bronne ontbloot moet word nie. Dit sal ’n totale vertrouensbreuk tussen die joernalis en die bron tot gevolg hê,” het Sanef in ’n verklaring gesê.

Die forum het ook gesê dat dié klousule oortredings ingevolge die Wet of Kubersekuriteit tot gevolg kan hê.

Die SAUK het gesê dat die “standaard klousule” sedert 2008 by werknemers se kontrakte ingesluit is en nie ten doel gehad het om die regte van joernaliste of hul bronne te skend nie.

“Joernaliste en hul bronne word voldoende deur die SAUK se redaksionele beleid van 2020 beskerm.

“Die SAUK begryp egter hoe die klousule verkeerd verstaan kan word en het daarom besluit om dit met onmiddellike inwerkingtreding te verwyder,” het die uitsaaier gesê.

Volgens die SAUK sal die klousule uit bestaande sowel as nuwe kontrakte verwyder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Die media is nie onafhanklik nie,bv as ‘n verdagte genoem word mag die beskrywing nie sê die man is swart nie,die media word lankal al gemoniteer en die feite word aangepas ,veral die sabc het ‘n afdeling van die ANC geword.Ek se gereeld gee vir ons ‘n onafhanklike tuisstaat waar ons ‘n vry media kan hê wat nuus gee met feite sonder vrees vir vervolging.

Jack ·

So loop die rooi draak se kloue oral en die land sal nog deel van sy ingewande word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.