‘SAUK speel nie oop kaarte oor SAUK 8’

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag bekendgemaak die arbeidshof het ʼn direktief uitgevaardig waarin hy sy mening uitspreek oor die beëdigde verklarings wat die SAUK moes indien volgens ʼn hofbevel.

Die arbeidshof het op 26 Julie 2016 beveel twee SAUK-bestuurslede moet binne vyf dae redes aanvoer waarom hulle nie in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die regskoste van Solidariteit en die vier SAUK-werknemers in hul saak teen die SAUK nie.

“Die hof sê in die direktief die verklarings, wat op 2 Augustus 2016 van die SAUK se Sebolelo Ditlhakanyane en Simon Tebele ontvang is, is vaag en noem nie spesifiek wie aanspreeklik was vir die besluit om die SAUK 8 af te dank nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke.

Volgens Van der Bijl bevestig hierdie direktief Solidariteit se vroeëre standpunt dat die SAUK nie oop kaarte met die hof gespeel het nie. “Gevolglik het regter Lagrange van die arbeidshof die SAUK op 14 Oktober beveel om voor of op 25 Oktober ʼn verklaring by die hof in te dien, waarin diegene wat verantwoordelik was vir die besluit om die SAUK 8 af te dank, aangedui word,” sê Van der Bijl.

“Ons meen steeds dit is hoogs onwaarskynlik dat hierdie besluit sonder die raad en/of die uitvoerende bestuur van die SAUK se medewete plaasgevind het. Dit word die afgelope tyd net al hoe duideliker dat die SAUK-raad en sy uitvoerende bestuur hulle glad nie aan die publiek se belange of enige reëls of wette steur nie,” sê Van der Bijl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronnie ·

En wat sal gebeur indien die SAUK/SABC hom weereens nie aan die direktief steur nie?

Maria van Dieweeck ·

Nie veel nie, wat? Dis demokrasie in aksie, volgens zuma.

Deon Koegelenberg ·

Dis nie net by SABC nie maar in vele ander sake word gelieg en halwe waarhede verkondig om mense uit die howe en tronke te hou en die ergste is dat nie net een nie baie daarmee wegkom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.