SAUK-staking finaal afgelas

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die SAUK het Maandag gesê hy het ʼn ooreenkoms bereik met die Communication Worker’s Union (CWU) oor werkers se salarisverhogings vir die 2017/18- finansiële jaar.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het in ʼn verklaring gesê salarisonderhandelinge het nou met dié ooreenkoms afgesluit aangesien daar ook vroeër ʼn ooreenkoms met die Broadcasting, Electronic Media, and Allied Workers’ Union (Bemawu) bereik is.

Die CWU het ook toegestem tot ʼn 4,8%-salarisverhoging wat terugdateer sal word vanaf Julie 2017.

Maroela Media het vroeër berig Bemawu-lede het ingestem tot ʼn 4,8%-verhoging in basiese salaris wat terugdateer sal word vanaf Julie 2017. Bemawu se lede het hulle daarna amptelik aan die staking by die uitsaaier onttrek.

Nomsa Philiso, waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK, het gesê die SAUK is bly dat die saak afgehandel is en dat albei vakbonde die staking afgelas het.

“Ons moes saam werk om seker te maak die SAUK se mandaat word nie in gedrang gebring deur ons interne kwessies nie. Dit was daarom belangrik dat ons mekaar halfpad ontmoet in die onderhandelinge,” het Philiso gesê.

Die SAUK het Bemawu en CWU bedank omdat hulle verseker het ʼn vriendskaplike oplossing is bereik en sodoende die onderhandelinge te finaliseer.

“Ons bedank ook die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie vir die bemiddeling tussen die twee partye en dat hulle ʼn gunstige omgewing geskep het om die onderhandelinge te finaliseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.