SAUK-staking: Ooreenkoms bereik

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die SAUK het ʼn ooreenkoms bereik met die Broadcasting, Electronic Media, and Allied Workers’ Union (Bemawu) oor werkers se salarisverhogings vir die 2017/18- finansiële jaar.

Die SAUK het Saterdag in ʼn verklaring gesê Bemawu-lede het ingestem tot ʼn 4,8%-verhoging in basiese salaris wat terugdateer sal word vanaf Julie 2017. Bemawu se lede het daarna amptelik aan die staking by die uitsaaier onttrek.

Intussen is die Communication Workers’ Union (CWU) nog in gesprek met hul lede oor die werkgewer se aanbod.

Nomsa Philiso, waarnemende uitvoerende hoof van die SAUK, het gesê die onderhandelinge was “redelik moeilik, aangesien al die partye mekaar moes vind om ʼn oplossing te vind vir al die kwessies op die tafel”.

“Met die organisasie wat ʼn finansiële situasie moet hanteer wat nie juis ideaal is nie, moes ons ʼn balans vind tussen sorg vir ons werknemers – wat ʼn prioriteit is – en verseker dat ons nie verdere druk op die finansies van die SAUK plaas nie,” het sy gesê.

Die SAUK het bestuurders en personeellede bedank wat “die skip bo water gehou het” gedurende die staking. “Hulle insette word baie waardeer, aangesien hulle die SAUK help om sy mandaat na te kom om miljoene Suid-Afrikaners goed ingelig te hou oor verskeie maatskaplike aangeleenthede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.