SAUK stel geskorste werknemers se verhore onbepaald uit

Thandeka Gqubule, Foeta Krige en Suna Venter stap na die konstitusionele hof (1 Julie 2016) Foto: @SolidariDirk/Twitter

Thandeka Gqubule, Foeta Krige en Suna Venter stap na die konstitusionele hof (1 Julie 2016) Foto: @SolidariDirk/Twitter

Die SAUK het die drie geskorste werknemers, Thandeka Gqubule, Foeta Krige en Suna Venter se dissiplinêre verhoor onbepaald uitgestel. Die verhoor sou op Maandag 11 Julie begin het.

Die drie bly egter steeds geskors.

Die vakbond Solidariteit, wat die drie joernaliste verteenwoordig, het gesê die blote uitstel van die verhore is nie aanvaarbaar nie. Volgens Solidariteit moet die dissiplinêre proses in die geheel opgeskort word.

Solidariteit het ook bekend gemaak dat hy die konstitusionele hof reeds in die komende week gaan nader vir direkte toegang om die grondwetlikheid van die sensuur-instruksie te toets. Solidariteit gaan ook in die week die arbeidshof nader om ’n interdik teen die SAUK se dissiplinêre proses te kry, hangende die saak by die konstitusionele hof.

Die SAUK het die drie werknemers dissiplinêr aangekla omdat hulle, na bewering, hulle van ’n sensuur-instruksie gedistansieer het. Die opdrag bepaal dat geen dekking gegee mag word aan die Right2Know-veldtog se optogte teen die SAUK se verbod op die uitsending van geweld tydens protes nie.

Die verhore van die ander drie werknemers, Busisiwe Ntuli, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay, wat aangekla is nadat hulle ’n skrywe aan die SAUK-bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng geskryf het waarin hulle beswaar aangeteken het teen die rigting wat die SAUK ingeslaan het, sou verlede Vrydag plaasgevind het, maar is ook uitgestel. Hulle is ook aangekla omdat die skrywe in die media se hande beland het.

“Dit is duidelik dat die sensuur-instruksie onregmatig is,” het Dirk Hermann bestuurshoof van Solidariteit gesê. “Dit druis direk in teen die beginsels van vryheid van spraak en die publiek se reg om te weet. Die onregmatigheid van die instruksie lei daartoe dat die totale skorsing onregmatig is. Ons kan nie toelaat dat joernaliste wat bloot hul werk wil doen, steeds geskors bly omdat hulle Suid-Afrika se grondwetlike beginsels omhels het nie.”

Hermann het benadruk wat hierdie saak dringend en van nog meer belang maak, is die feit dat Suid-Afrikaners op 3 Augustus stembus toe gaan en die reg het om te weet wat in die land gebeur. “Die openbare uitsaaier kan nie besluit wat die publiek mag weet en wat hulle nie mag weet nie.”

Intussen verwag Solidariteit ook dat die Okosa-uitspraak oor die SAUK se sensuur-besluit ook hierdie week, waarskynlik reeds teen Maandag, gelewer kan word. “Indien die uitspraak teen die SAUK is, moet die sensuur-instruksie, die klagte teen die werknemers en hul skorsing, onmiddellik teruggetrek word. Motsoeneng moet dan onmiddellik aangekla en geskors word,” het Hermann bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lance ·

Gaaaap ….al SO afgesaag …verbaas niemand meer nie ….sauk is n gemors en in krisis en het nie meer reels waarvan sy eie mense nie eers meer kan ooreenstem of van weet of wil volg nie …ek vermoed sterk na alles nou gaan mense nie meer hulle lesensies betaal nie …

Griki ·

Is hulle nie ook geregtig op ‘n spoedige verhoor nie? Of het kriminele wat voor die hof gedaag word weer eens meer regte?

Melt Olckers ·

Die aksie om die verhore onbepaald uit te stel is onwettig. Dit skep regsonsekerheid. Die saak sal dan deur die hof afgedwing moet word.
Hlaudi is besig om sy eie graf te grawe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.