SAUK-verbod: ‘Sensorskap sal nooit ophou nie’

Argieffoto

Argieffoto

Die vakverbond Cosatu het Maandag die SAUK se besluit om geen beeldmateriaal of foto’s van gewelddadige betogings te beeldsaai nie, ten sterkste veroordeel.

Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, het gesê die SAUK moet dringend sy besluit heroorweeg. “Ons doen ʼn beroep op die raad van die SAUK om sy besluit te heroorweeg en die openbare uitsaaier toe te laat om die Suid-Afrikaanse storie te vertel sonder om gesensor te word. Hoewel die federasie die gewelddadige betogings veroordeel en wil hê dat die oortreders wat hierdie anargie en vandalisme veroorsaak tronk toe gestuur moet word, wil ons nie hê dat die sterilisering van die nuus die werklikheid moet wegsteek nie,” het hy gesê.

Pamla het gesê dit is nie deel van die SAUK se mandaat om die uitdagings wat die land in die gesig staar te verbloem en hulself te verhoed om mense se woede, waaronder strafregtelike optrede, te ontmasker nie.

Maroela Media het vroeër berig die SAUK het aangekondig sy televisiekanale sal onmiddellik ophou om beeldmateriaal uit te saai van die vernietiging van eiendom tydens betogings. Volgens die uitsaaier sal mediadekking van geweld ander gemeenskappe aanmoedig om dieselfde te doen. Die uitsaaier het ʼn beroep op ander media-instellings gedoen om die SAUK se voorbeeld te volg.

Pamla het bygevoeg indien die sensorskap van nuus eers begin, sal dit nooit ophou nie. “Ons het al voorheen gesien, wanneer sensorskap eers begin, hou dit nooit op nie. Diegene wat aan die stuur is om oor sensorskap te besluit, ontwikkel ʼn bodemlose put van sensitiwiteit en vind net nóg meer bedrywighede wat nie op die televisie getoon moet word nie. Die stryd teen apartheid was ook teen sensorskap. Die sterilisering van nuus en hierdie besluit van die SAUK mag eenvoudig nie toegelaat word nie.”

Hy het gesê dat Suid-Afrikaners toegang tot alle inligting moet kry, waaronder negatiewe stories, sodat hulle as landsburgers bemagtig kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

CC ·

Noem dit wat julle wil!!! Net ‘n manier om die werklike stand van sake weg te steek sodat hulle nie stemme verloor nie. Ons weet wat die waarheid !

John ·

Nogal so voor die verkiesing. Die SAUK-baas het ook ‘n 2e asem geskep. Kyk nou!

vierkleur ·

Dis hoe die kommunis te werk gaan. Die dag as daar anargie uitbreek, sal die wereld nie eers daarvan weet nie.
Vir die blankes wat gedink het ons sal hulp van die buiteland kry, laat hierdie nou julle oe oopmaak om te sien wat die agenda van ons regering is

jaco ·

die SABC behoort aan die Staat en die Staat word beheer deur die ANC. COSATU is in alliansie met die ANC, maar protesteer teen hierdie besluit. ek verstaan dit nie.

Johann ·

Eers dit; dan dat; dan ALLES ! Hou mooi dop wat JZ se stuurbode(s) met die toegegewe magsmisbruik in die SAUK gaan doen. Soos met ESKOM en SAL en die polisie en en en…tsunamie

Cobus ·

Ongelukkig is dit ‘n baie effektiewe manier om dit wat verkeerd is te verbloem. Gelukkig is dit uiteindelik nie die besluit van die regeerder wat die uiteinde is nie, maar die van die Lewende God.

Johann ·

Kan nie meer saam stem dat ons land se kom en gaan NIE afhanklik is van menslike vergrype en miskenning van reg en verkeerd nie: wat die WOORD wel sê is dat “ons moet waak en bid”. My kommer lê in ons naiiewe gedwee aanvaarding van wat ook al vir en van ons gesê word. Waak ins regtig? Waak soos in verweer onsself wanneer ons mag en moet? En BID?

Ou Vlakvark ·

Suid-Afrikaanse burgers word soos kinders behandel. Die regerende party besluit wat ons as burgers mag hoor en wat ons mag lees en wat ons mag weet. ‘n Regte “South African Animal Farm” opset.

humor ·

Die wat op hoogte is van kommunisme , hul werkmetode en uiteindelike doel. weet dat kommunisme lankal op dreef is in die land. Baie mense in hierdie land is al lankal onbewustelik instumente in diens van hierdie ideologie en bewerk hul eie ondergang.

Ou Erdvark ·

Beste Humor, Jy is 100% in die kol. Waarom staan die SAKP nie as onafhanklike party in die nasionale en plaaslike verkiesings nie? Want hulle kruip agter die ANC se voorskoot weg en infiltreer die ANC se binnekring om in effek die land te regeer. En die meeste skape op die South African Animal Farm besef dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.