SAUK verontwaardig oor uitlek van ‘voorlopige verslag’

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat op die been gebring is om die beleërde SAUK te ondersoek, het Woensdag sy verontwaardiging uitgespreek nadat ʼn “werksdokument”, wat die grondslag van LP’s se gesprekke later vandeesweek sal vorm, uitgelek het.

Vincent Smith, voorsitter van die komitee, het gesê die dokument het geen regstatus nie. “Die werksdokument is voorberei as die grondslag waarop ʼn konstruktiewe vergadering van die komitee en sy gesprekke sal begin en dit is alleenlik vir hierdie doel opgestel,” het hy gesê. “Dit is nie ʼn amptelike dokument van die komitee totdat al ons beraadslagings afgehandel is nie, wat moontlik teen Vrydag sal wees.”

Die dokument is aan LP’s wat lede van die komitee is gestuur en bevat verreikende waarnemings en aanbevelings.

Die dokument is Dinsdagnag uitgelek en daarin word onder meer aanbeveel dat ʼn nuwe tydelike raad onmiddellik ʼn ondersoek van stapel stuur na onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes van meer as R5,1 miljard by die SAUK oor die afgelope paar jaar.

Die aksies van Faith Muthambi, minister van kommunikasie, word ook in die dokument gekritiseer aangesien “verskeie ooggetuies” beweer sy het onnodige druk op een van die voormalige rade geplaas om die omstrede Hlaudi Motsoeneng as bedryfshoof aan te stel, ondanks die feit dat hy nie die nodige kwalifikasies het nie en die openbare beskermer negatiewe bevindinge teen hom gemaak het.

In die dokument word verder aanbeveel dat duidelikheid benodig word oor watter wetgewing voorkeur gekry het met die aanstelling en afdanking van raadslede.

Muthambi het gereeld gesê dat die Wet op Maatskappye belangriker geag word as die Wet op Openbare Uitsaaiwese, ʼn stelling wat baie LP’s en die parlement se eie regspan teengestaan het.

“Dit is duidelik dat die Wet op Maatskappye en die Wet op Openbare Uitsaaiwese om die beurt gebruik is om die verlangde uitkoms van die uitvoerende owerheid te pas,” lui die werksdokument. “Die akte van oprigting soos dit tans daar uitsien bemagtig die minister as die aanstellingsowerheid met die mag om direkteure ooreenkomstig die Wet op Maatskappye af te dank. Die akte van oprigting gee ook die minister onvanpaste toegang tot die SAUK wat die onafhanklikheid van die instansie in gedrang bring.”

In die dokument word verder aanbeveel dat diegene wat hulle aan meineed skuldig gemaak het, beboet moet word nadat getuies teenstrydige getuienis voor die komitee gelewer het. “Getuies wat daaraan skuldig bevind word dat hulle onder eed misleidende of valse getuienis voor die parlement gelewer het, moet geïdentifiseer word en die gepaste strafmaatreëls moet ingestel word.”

Ben Ngubane, die voormalige raadsvoorsitter, het verlede week enige politieke inmenging ontken, terwyl sy opvolger, Ellen Tshabalala, gesê het daar was “growwe politieke inmenging” in die sake van die raad.

LP’s sal Donderdag en Vrydag vergader om die werksdokument te bespreek en dit moontlik aan te pas voordat ʼn amptelike verslag opgestel sal word wat volgende week onderteken sal word.

Die verslag sal aan die relevante partye, onder meer die SAUK, gestuur word vir kommentaar, voordat LP’s die verslag teen 15 Februarie sal finaliseer. Dit sal dan aan die Nasionale Vergadering gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Skim ·

Haai nooit ek het dan gedink HLAUDI en sy span het sulke WONDERLIKE werk gedoen, en dat hulle so hoogs aangeskrewe was. Hy sou dan tot die LAND regruk in 6 maande se tyd. SA is eintlik in ‘n krisis, weet net nie wanneer almal se oë gaan oopgaan nie. Kyk hoe lyk dit by openbare ondernemings soos die SAUK, soos Munisipaliteite, soos ESKOM, Lisensie-kantore .. Ons word almal GEDWING om te betaal maar die diens raak net swakker en duurder en die korrupsie al hoe meer.

Lance ·

Hlaudi is mos aangestel vir sy vaardighede en nie sy kwakifikasies nie (het nie eets n matriek nie ) en as hy so kundig of vaardig is hoekom is alles dan so n groot gemors …wat n joke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.