SAUK vra verlof om appèl ná hooggeregshofuitspraak

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag ʼn aansoek deur die SAUK aangehoor om verlof tot appèl nadat Hlaudi Motsoeneng se aanstelling as groepshoof van korporatiewe sake by die openbare uitsaaier as onwettig verklaar is.

Regter Owen Rogers en regter Andre le Grange het in Desember verlede jaar beveel dat hy dadelik geskors moet word en gesê hy mag nie enige pos by die openbare uitsaaier beklee nie, tensy die openbare beskermer se verslag tersyde gestel word of ʼn nuwe dissiplinêre verhoor hom onskuldig verklaar nie.

Die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela het in 2014 in haar verslag bevind dat Motsoeneng oneerlik was en gelieg het oor sy matriekkwalifikasies. Hy het glo ook onreëlmatig sy eie salaris verhoog en sy mag by die uitsaaier misbruik.

Tydens die uitspraak verlede jaar in Desember is daar ook beslis dat Motsoeneng dissiplinêr verhoor moet word.

Die Demokratiese Alliansie het die aansoek gebring en toe die uitspraak gemaak is, is dit as ʼn “verwoestende uitspraak” teen Motsoeneng beskryf.

Die SAUK baklei egter terug en teken ook appèl aan teen die hof se beslissing dat die openbare uitsaaier se uitvoerende hoof, James Aguma, persoonlik die koste vir daardie aansoek moet betaal.

Adv. Anton Katz SC, namens die DA, het aangevoer die SAUK se prokureurs tree nou namens Aguma op, “omdat hy ontevrede is oor die kostebevel teen hom”. “Wie het besluit om appèl aan te teken teen die beslissing? Dit is die regte vraag,” het hy gesê. Hy voeg by die saak is “ʼn misbruik van die hofproses”.

Adv. Stephan du Toit SC, vir die SAUK, het egter aangevoer verlede jaar se uitspraak “het ʼn baie belangrike presedent geskep”, aangesien dit in effek buite persone die mag gee “om in te meng in die werknemersbeleide van staatsorganisasies”. Du Toit het gesê die hoogste hof van appèl moet dít aanspreek.

Volgens hom het die publiek “geen belang in personeelaangeleenthede van die SAUK nie”. “Die SAUK se werknemers is sy werknemers, nie werknemers van die staat nie. Slegs 3% van die SAUK se begroting kom van die regering, terwyl 85% van sy inkomste uit sy eie kommersiële aktiwiteit spruit, so dit word nie gefinansier deur belastingbetalers se geld nie.”

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting volgende week sy beslissing bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Wonder hoekom die SAUK gebruik maak van n blanke afrikaanse advokaat? Ons programme word al hoe minder.

Gevolgtrekking ·

Ek kom tot die gevolgtrekking dat ek dus met my privaat voertuig wat onpadwaardig is mag ry MITS ek nie in ‘n ongeluk betrokke raak waar ek skade of lewensverlies veroorsaak aan ander partye. Dis die redenasie wat die Es Y Bie Sie se regsverteenwoordiger aanvoer.
Kortom, die man het nie die kwalifikasies vir die pos en basta met die res!!!!!

Jem ·

Ek is as so siek en sat. Hulle tree nog speeded soon kinders op en die Politiek kry altyd die oorhandig. Alles is polities gemotiveer in die land.

Rupert Ashford ·

Watter % van daardie 97% kom van lisensiegelde wat DIREK uit belastingbetalers se sakke kom?

Ronel ·

Is mense al so blind vir korrupsie en selfverryking dat sy optrede en leuens maar okay is? Wow.

John ·

Die staat, sy loodsvisse en die staatskaping duur voort… die beeldsending van hele scenario rondom die bestuur van die SABC was net ‘n paar episodes uit die sepie wat nog jare gaan loop met boetie as regisseur en hoofrolspeler van die ANC-is-Groter-as-Groot-uitsendings… en die’ se salaris die grootste…

Anoniem ·

Ek hoop die aansoek om appel word uitgegooi, en dat James Aguma gelas word om ook hierdie onkostes self te dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.