SAUK wen dringende aansoek oor ACM-verkiesingsmanifes

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die Johannesburgse hooggeregshof het Saterdag ʼn aansoek deur die African Content Movement (ACM) met koste van die hand gewys om die SAUK te dwing om die party se bekendstelling van sy verkiesingmanifes regstreeks uit te saai.

Vuyo Mthembu, woordvoerder van die SAUK, het gesê dié uitspraak is ʼn bewys dat die uitsaaier se oorspronklike besluit die regte een was.

Mthembu het Saterdagoggend gesê die ACM het ʼn dringende aansoek ingedien dat die party se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes regstreeks uitgesaai moet word op SABC 2 en die SAUK-nuuskanaal 404 op DStv, maar die SAUK het dié aansoek teengestaan.

“Die posisie van die SAUK is dat die geleentheid gedek sal word deur sy nuusafdeling as ʼn nuusberig. Die SAUK het nie regstreekse blootstelling gebied aan die bekendstellings van die verkiesingsmanifeste van enige van die nuwe en bestaande partye, wat nie verteenwoordiging in die parlement geniet.”

Phathiswa Magopeni, uitvoerende groepshoof van die SAUK oor nuus en aktuele sake, het gesê dit is ʼn redaksionele besluit wat onder andere hulpbronbeperkings en gelyke dekking van politieke partye in ag geneem het. “Kragtens die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) is daar geen verpligting op die SAUK om regstreekse dekking te bied aan enige politieke party nie.”

Magopeni het bygevoeg geen politieke party kan aan die SAUK voorskryf hoe verkiesingsverwante gebeure gedek moet word nie. “Kragtens Okosa se regulasies oor openbare verkiesingsuitsendings en politieke advertensies, word die SAUK verplig om voorafverpakte materiaal wat van politieke partye ontvang word, uit te saai kragtens die regulasies. Die tydgleuwe word deur Okosa bepaal en nie die SAUK nie.”

Die SAUK bly verbind om die 2019-verkiesing op ʼn onbeperkte, onafhanklike en onpartydige manier te dek, het Mthembu gesê.

Die ACM is in Desember bekend gestel deur die omstrede voormalige uitvoerende bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng. Hy is in 2017 afgedank. Die tussentydse raad het in daardie stadium gesê Motsoeneng het die SAUK se naam skade gedoen en “onherstelbare skade aangerig”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andreas ·

Genadige vader, Jan van Riebeeck het gister in die Kaap aangeland, dis nou 6 April, en sommer dieselfde dag veg ons mekaar in die hof.

Gert van Wierdapark ·

Die vent se naam is nie waardig om saam met Oon Jan in dieselfde sin gebruik te word nie. Hy woeker met regste(l)lende geld om as Acm (Ace sonder ‘n “e”) sy opgeblase ballon-ego’ n hupstoot te gee. Weet nie hy by die Verkiesingskommissie verbygecon het om as party te registreer nie. (JZZ) se contakte)?

humor ·

Nog steeds die vertsommende blatante verwaandheid wat elke regdenkende mens walg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.