‘SAUK-werknemers betaal weer die prys vir slegte bestuursbesluite’

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Solidariteit het Maandag gesê werknemers moet weereens die spit afbyt vir swak bestuursbesluite en die plundering wat die SAUK lamlê.

Die vakbond is van voorneme om die afleggingsproses wat nou by die SAUK aan die gang is, te beveg. Dit volg nadat SAUK-werknemers op 29 Oktober 2018 in kennis gestel is van ʼn afleggingsproses wat die uitsaaier onderneem en waarin tot 981 werknemers en sowat 1 200 vryskutwerknemers hul werk kan verloor.

Daar word onder meer aangevoer dat die onregmatige optrede van die voormalige uitvoerende bestuur ʼn rede vir die afleggings is. Volgens Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregdienste by Solidariteit, is dit verregaande dat iemand soos Hlaudi Motsoeneng, wat die SAUK miljoene rande gekos het, skotvry daarvan afkom.

“Die afleggingsproses wat die SAUK onderneem is, om die minste te sê, belaglik. Werknemers moes die hoogste prys vir bestuur se besluite tydens die hele Hlaudi Motsoeneng-diktatorskapdebakel betaal. Dit lyk of die werknemers nou weer nóg ʼn prys moet betaal vir daardie besluite, terwyl die persone wat die besluite geneem het tot nou toe geen sent daarvoor betaal het nie. Ek kan regtig nie sien hoe die SAUK met so ʼn proses kan voortgaan as hulle nie eers alle alternatiewe om so ’n proses te voorkom, uitgeput het nie. Sulke stappe sou byvoorbeeld insluit om Motsoeneng vir die verkwiste geld te dagvaar.”

Van der Bijl voeg by dat hierdie proses wesenlik prosedureel en substantief onbillik teenoor die werknemers van die SAUK is. “Wetgewing skryf sekere prosedurele vereistes voor vir die doeleindes van kennisname en konsultering, wat insluit die reg van ʼn vakbond wat lede verteenwoordig om aan so ʼn proses deel te neem. Solidariteit, wat inderdaad lede by die SAUK verteenwoordig, is tot op hede heeltemal geïgnoreer in die proses,” het hy bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan ·

Kyk Ek het Nou al narre en onbevoegdheid aanskou in my lewe maar die uwe is die kampioen in albei gevalle,Wonder waar bevind hy hom? Dubai saam die Grypals??

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis die nuwe Suid Afrika……….werk so in omtrent al wat besigheid is. My dogter se hele loopbaan by KPMG is verwoes deur die senior vennote wat eers met Tom Moyane en SARS verbrou het, en toe WEER met VBS bank. Die top-brass jaag aan………..en die eerlike, harwerkende, pligsgetroue werknemers (wat ook almal verbande afbetaal, voertuie financier en skoolfonds betaal) verloor hulle poste.

Hoe nou....... ·

Omdat daar geen nagevolge is vir die broers en susters nie – hulle word net herverplaas totdat die hele stelsel inmekaar sak – dis die plan en was nog altyd. Hulle will alles afbreek wat die wit man gebou het en die geskiedenis herskryf tot terug in dae toe Jan Van Riebeeck met sy Seiljag in die kaap geland het en met sy AMG G Wagon die land gaan verken het……..

Alida ·

Verkoop daai rooioog se eiendom waarvan hy seker van die beste het. Hoe de hel kom hy weg daarmee.

Dries du Toit ·

Dit eintlik n vreeslike tragedie dat daai een enkele man vir soveel hartseer kon sorg en dan nog rondloop met n smile op sy bakkies

Johanna Botha ·

Hands off Hlaudi ….waas is hulle nou om te help ?
????

Regsman? ·

Mnr Vd Bijl, eerstens: dink mooi wat Solidariteit hier wil doen. Julle wil ‘n tweede SAL in stand hou. ‘n Reusagtige salaris rekening wil julle in stand hou by die SAUK. Dit is die regte ding om die afleggings te doen, so ook by Eskom, Transnet en die SAL. Dis bankrot instansies wat die staatskas staid maar seker doodbloei. Tweedens, as sg regsman behoort jy te weet dat die skade wat deur Motsoeneng veroorsaak is, ‘n druppel in die emmer is gemeet teen die oordadige salaris rekening vd SAUK. En jy behoort te weet dat selfs al sou wie ookal hom dagvaar, hy eenvoudig nie die geld het om te betaal nie. So wil julle ‘n paar honderdduisend Rand aan regskoste weggooi en niks bereik nie. Mnr Vd Bijl, u en u organisasie moet dalk ‘n beter strategie gaan bedink tov die SAUK

riaan ·

Politiekery! Waar was Solidariteit en Afriforum terwyl rooioog en kie mal gegaan het by SAUK??? Buiten vir SAUK 8 was hulle sil en het hulle niks gedoen nie tenspyte daarvan dat hulle geweet het alles is nie pluis nie!

Ek stem saam, SAUK is “bloated” en moet personeel verloor. Dan sal daar dalk geld beskikbaar wees vir ordentlike programme of selfs om sport weer op tv uit te saai?

sug ·

Regsman, ek is seker jou insette daar met voorbeelde van hoe om ‘n alternatief te bereik sal hoog op prys gestel word deur Solidariteit. Ek stem in n mate saam met jou, maar ek het nie ‘n beter plan nie, dalk het jy?

Jan ·

Kry hul nie meer geld in vir TV lisensies nie. Ek wonder hoeveel mense betaal nog getrou daaraan. Bestaan daar nog inspekteurs wat dit nagaan. Miskien moet ons wat getrou betaal, dit nie meer doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.