SAUK: ‘Zuma beskerm nie vir Hlaudi’

Ben Ngubane, voormalige SAUK-raadsvoorsitter. Foto: Chantall Presence/ANA

Ben Ngubane, voormalige SAUK-raadsvoorsitter. Foto: Chantall Presence/ANA

Ben Ngubane, voormalige SAUK-raadsvoorsitter, het Vrydag gesê pres. Jacob Zuma het nie vir Hlaudi Motsoeneng, die omstrede SAUK-hoë wat oor sy matriekkwalifikasie gelieg het, beskerm nie.

“Die president het nie vir Motsoeneng of ons [die voormalige raad] beskerm nie,” het Ngubane gesê tydens sy getuienis voor die parlementêre ad hoc komitee, wat sake by die openbare uitsaaier ondersoek.

Ngubane het sy termyn as raadsvoorsitter van Desember 2009 tot Maart 2013 verdedig en gesê hy het destyds die SAUK “gered” uit sy finansiële verknorsing. Hy het Motsoeneng ook verdedig deur te sê hy [Motsoeneng] het ʼn belangrike rol vervul in die vestiging van vertroue tussen die raad, bestuur en personeel, ten spyte van teenstrydige getuienis deur voormalige raadslede en bestuurslede verlede maand.

Op vrae oor sy verhouding met die omstrede Gupta-familie, het Ngubane aan LP’s gesê hy is nie gemaklik om vrae hieroor te beantwoord nie, aangesien bewerings van staatskaping, soos vervat in die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se staatskapingverslag, ondersoek sal word. Die verslag bevat verskeie bewerings dat die Guptas voorkeurbehandeling van die Eskom-raad, waarvan Ngubane aan die hoof was, gekry het.

DA-LP, Phumzile van Damme, het die afleiding gemaak dat, wanneer Ngubane na ʼn nuwe raad beweeg het, die Gupta-familie gevolg het. Die Gupta-maatskappy, The New Age (TNA) hul koerant, het ʼn ooreenkoms met die SAUK dat die openbare uitsaaier al die TNA se sake-ontbyte uitsaai.

Ngubane het ontken dat Motsoeneng die proses begin het om die ontbyte deur die SAUK uit te saai gesê Phil Molefe, die voormalige nuushoof, het destyds ʼn voorlegging daaroor vir die raad gedoen.

Op ʼn vraag of hy ooit met ʼn lid van die Gupta-familie of een van hul verteenwoordigers vergader het, het Ngubane geantwoord: “Toe ons begin deelneem het aan die sake-ontbyte, het ek omtrent drie of vier openingstoesprake by waterwese en ander departemente se optredes gemaak. Ek het altyd by ʼn tafel gesit saam met bestuurslede van TNA.”

“Ek het nie die Guptas na die SAUK toe gebring nie. Die hele ding het deur die normale kanaal van nuus beweeg en ons het die sakeplan goedgekeur.”

Ngubane het gesê daar was geen politieke druk op die raad om by die The New Age sake-ontbyte betrokke te wees of om elke dag 800 kopieë van The New Age te bestel nie.

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Oor die staatskapingverslag, waarin ernstige vrae oor Ngubane en sy leierskap geopper is, asook vrae oor Motsoeneng wat oor sy matriekkwalifikasie gelieg het, het Ngubane gesê die bevindinge in die verslag is nie op feite gegrond nie. “Die verslag is geskep uit verklarings wat ek nie gevra is om te bevestig nie,” het hy gesê.

“As sy [Madonsela] kies om my te veroordeel, is dit haar keuse. Dit is nie gegrond op feite nie. Na my mening is hierdie land in die moeilikheid. Mense haat mekaar. Hulle groepeer mense in kampe en as jy in die verkeerde kamp is, word jy uitgehaal. Dit is hoe ek die OB se verslag sien.”

Oor Motsoeneng, wat so vinnig van sy posisie, as vervaardiger van ʼn Vrystaatse aktualiteitsprogram, na die uitvoerende hoof van die openbare uitsaaier gevorder het, het Ngubane gesê ondanks die feit dat Motsoeneng geen formele kwalifikasies het nie, is hy ʼn baie vaardige persoon.

“Oor die matriekkwessie… Hlaudi is in 1995 by die SAUK aangestel. Hlaudi was ʼn straatkind sonder ouers en sonder ʼn huis. Hy het tot op matriekvlak gevorder, maar hy kon dit nie klaarmaak nie,” het Ngubane gesê. Hy het gesê die inligting wat Motsoeneng aan die plaaslike radiostasie, Lesedi FM, verskaf het, het daartoe gelei dat die stasie se nuusgraderings dramaties verbeter het.

“Ons het hom gevat omdat hy vaardighede het en hom deel gemaak van die SAUK.”

As waarnemende bedryfshoof het Motsoeneng se salaris met 63% gestyg, iets wat volgens die OB onreëlmatig was.

“Die SAUK word geoudit deur onafhanklike ouditeurs en die ouditeur-generaal was ook daar. Nêrens in die oudit bevindinge is daar na [Motsoeneng se salaris] as onreëlmatige, verkwistende of nuttelose uitgawes verwys nie,” het Ngubane gesê.

Op ʼn vraag waarom hy nie die OB se verslag teengestaan het nie, het Ngubane gesê dit was nie sy verantwoordelikheid om die OB se verslag te laat hersien nie. Hy is gevra of die eintlike rede is dat hy nie vir die SAUK omgee nie en omdat hy die uitsaaier skade berokken het.

“Ek het nie die SAUK skade aangedoen nie. Ek het die SAUK gered. Dit was bankrot toe ons [die voormalige raad] daar aangekom het,” het hy heftig geantwoord. “Dit was ʼn gemors. Ons het daar gesit en probeer om die uitvloei van geld stop te sit. Daar was enorme diefstal daar aan die gang. Moenie my dus valslik beskuldig dat ek die SAUK verwoes het nie.”

Lees alle vorigte berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

KP ·

Weereens n geval van jakkals prys sy eie stert, ANC kammeraad.

Maria Van Dieweeck ·

Hlaudi nou n straatkind? Sy ma is dan Jacob se sangoma. Lieg en bedrieg.

snoefie ·

n bekwame persoon se handhawing van sy pos het nie beskerming nodig nie. dit is die verskil tussen bekwaam en vaardig.

Alida ·

Die sangoma ma het seker gedreig dat sy vir JZ sal toor as haar seun nie ‘n pos kry nie. Ek party dwase glo aan sangomas.

zoom zoom ·

Zuma beskerm Faith en Faith beskerm vir Hlaudi. Wat is nuut.

oumie ·

Omw hulle lieg so oor en weer en weer en weer ons moes jare gaan swot om iets te word in die lewe nou kan jy iets soos in gemors word as jou ma n sangoma is regtig my MA kan hulle ook n ding of twee vertel

popeye ·

Hoe meer stupid jy is hoe Hoër gaan jy in die donker wêreld van kriminele!

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons president met ‘n raadgewer Sangoma?! “Vaardighede” bo formele geleerdheid?! Ek hoor jy moet die mense aan bewind slegs kan oortuig dat jy “possibilities” het om ‘n taak te kan doen dan is jy aangestel. Geen wonder die ingeligde, intelligente, geleerde buitelanders lag hul papies vir ons nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.