SAUK8 bring hofaansoek oor ‘kultuur van vrees’ by SAUK

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp. Foto: @SolidariDirk/Twitter

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter en Jacques Steenkamp. Foto: @SolidariDirk/Twitter

Die sogenaamde SAUK-8 joernaliste gaan, ondanks die feit dat hulle weer deur die openbare uitsaaier aangestel is, hulle steeds tot die konstitusionele hof wend om te versoek dat ʼn parlementêre ondersoek gedoen word na verskeie kwessies by die SAUK, aangesien die joernaliste “se werksomstandighede steeds onuithoudbaar” is.

Volgens dokumente, wat die joernaliste by hul hofaansoek ingedien het, ontvang sommige joernaliste anonieme dreigende boodskappe sedert hulle teruggekeer het werk toe en werk joernaliste in vrees dat hulle hul werk sal verloor as hulle die bestuur probeer teengaan.

Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay, Jacques Steenkamp, Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule is almal in Julie deur die SAUK afgedank, omdat hulle volgens die uitsaaier “voortgaan om die SAUK-bestuur se gesag te ondermyn” en hul “wangedrag onhoudbaar” geword het. Nadat die joernaliste hulle na die arbeidshof gewend het, is sewe van hulle weer in hul poste aangestel.

Mvoko, wat slegs op kontrakbasis vir die SAUK gewerk het en nie vas aangestel was nie, se hofaansoek om weer deur die openbare uitsaaier aangestel te word, is in Augustus in die hooggeregshof in Johannesburg van die hand gewys. Mvoko het intussen aangedui hy sal teen die uitspraak appelleer.

In die joernaliste se aansoek aan die konstitusionele hof sê hulle hoewel die hooggeregshof in Pretoria bevind het die SAUK se omstrede verbod op die uitsaai van betogings is ongrondwetlik, het die SAUK steeds geen stappe gedoen om sy nuusredaksie in te lig die verbod is opgehef nie. Die joernaliste sê ook selfs nadat die arbeidshof bevind het hulle moet weer in hul poste aangestel word, is hulle deur lede van die parlement se portefeuljekomitee van kommunikasie daarvan beskuldig dat hulle oneties opgetree het, vir die publiek gelieg het en die SAUK “probeer kaap” het.

“Die kommerwekkendste van alles is dat die Nasionale Vergadering se portefeuljekomitee vir kommunikasie klaarblyklik aanvaar het al die probleme by die SAUK is opgelos. Die komitee het dus ons en burgerlike organisasies se pleidooie, dat ʼn ondersoek na die SAUK gedoen word, geweier. Hierdie besluit is geneem bloot op grond van wat die SAUK en die minister aan die komitee gesê het. Hulle het glad nie na ons of enige burgerlike organisasie geluister nie,” het die joernaliste in hul aansoek geskryf.

Volgens die hofaansoek het Venter ook verskeie dreigende boodskappe van ʼn anonieme persoon ontvang, waarin sy daarvan beskuldig is dat sy ʼn verraaier is en dat daar maklik van haar “ontslae geraak kan word”.

Nog ʼn dreigboodskap is glo aan Krige gestuur, ʼn dag voordat die joernaliste met hul regsverteenwoordigers by hul kantoor in Alicelaan in Sandton sou vergader. Die boodskap het gelees: “If You Go Ahead Tomorrow It Will Be The Last Warning. You And The Little Grl R Fools and Good Luck You’ll Never see a court. It will be 2 late, Stop now Pass Alice Lane For You Both Safety.” [sic]

Volgens die joernaliste kon Steenkamp nie Woensdag, toe hy by die werk kom, op die stelsel inteken wat die joernaliste gebruik om hul berigte op te laai nie. Nadat ʼn werknemer van die IT-afdeling na sy rekenaar kom kyk het, is Steenkamp ingelig iets is op sy rekenaar gelaai wat hom verhoed om toegang tot sekere programme te kry.

Nadat Hlaudi Motsoeneng, die uitvoerende hoof van die SAUK, in Augustus aan die portefeuljekomitee gesê het hy sal daarop fokus om RSG te transformeer, het Krige, uitvoerende regisseur van Kommentaar en die nuusprogramme Monitor en Spektrum op RSG, glo een van die aanbieders versoek om Motsoeneng te nooi om die volgende oggend sy uitsprake op een van die programme te bespreek. Die aanbieder het glo uit vrees geweier om Motsoeneng te kontak en later gesê dit is “hel om ʼn program in vrees aan te bied”.

Volgens die joernaliste is dit duidelik hoewel sewe van hulle weer aangestel is, is daar steeds geen ruimte in die SAUK se nuuskantore vir betekenisvolle debatte oor beleid en die toepassing daarvan nie. “Inteendeel, die kultuur van vrees duur voort,” het hulle gesê.

Die joernaliste het aangevoer die portefeuljekomitee het sy grondwetlike verpligtinge versuim deur bloot te aanvaar al die probleme by die SAUK is uitgestryk, dat die “tendens van sensuur” by die uitsaaier opgelos is en dat al die joernaliste se bekommernisse gehanteer is.

Die woordvoerder van die SAUK kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

‘n Engels-Afrikaanse landswye plaaslike radiostasie met anderskleuriges wat in streekstaaale rondskedonk is ons voorland. Span die seile Maroela en Afriforum vir ‘n nuwe hawe en hou die hulpbehoewende sg taalliefhebbers uit of nog struikrowers-met-trane-oor-die-wange word weer jul baaase.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.