SAUK8 vertel van ‘skokkende magsmisbruik, inmenging’

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay, almal lede van die SAUK8, in Julie 2016 buite die arbeidshof in Johannesburg. Foto: Twitter via @Abramjee

Foeta Krige, Thandeka Gqubule, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay, almal lede van die SAUK8, in Julie 2016 buite die arbeidshof in Johannesburg. Foto: Twitter via @Abramjee

Lede van die sogenaamde SAUK8 het Maandag aan LP’s vertel hoe Hlaudi Motsoeneng sy eie reëls gevolg het en eiehandig verantwoordelik was vir die “pynlike dood van openbarediens-joernalistiek”.

Thandeka Gqubule en Krivani Pillay het op die vierde dag van die ad hoc-komitee se ondersoek na die bevoegdheid van die SAUK-raad getuig. Hulle het die komitee skokkende stories vertel van hoe hulle gesensor en verhoed is om hul mandaat om die publiek in te lig uit te voer.

Gqubule het vertel hoe Motsoeneng in 2013 besluit het dat daar voortaan 70% goeie nuus sal wees en slegs 30% negatiewe nuus, ʼn aankondiging wat die redaksionele personeel “onlogies” gevind het. Sy het gesê dit is van daar af wat die nuuskantoor agteruitgegaan het. “Die onafhanklikheid van die media is nie ʼn luukse nie. Dit is nie ʼn ekstra waarvan ontslae geraak kan word wanneer die uitvoerende gedeelte van die staat so besluit nie,” het sy gesê.

“Joernalistieke praktyke is by die SAUK ondermyn en onder mnr. Motsoeneng se leierskap, met ondersteuning van die raad, het die stand van sake net vererger.” Sy het ook verwys na die redaksionele verbod op die uitsaai van enige gewelddadige betogings omdat Motsoeneng gevoel het dit sal ander aanmoedig om dieselfde te doen.

Gqubule en verskeie ander SAUK-personeel, wat later as die SAUK8 bekend geword het, is afgedank kort nadat hulle kritiek teen die verbod uitgespreek het voor die munisipale verkiesing vroeër vanjaar. Hoewel hulle ná ʼn hofgeding weer aangestel is, het die viktimisering van joernaliste wat hul menings gelug het, voortgegaan, het Gqubule gesê.

Sy het gesê een van haar kollegas, Kgaogelo Magolego, is “onmiddellik afgedank” nadat Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, ingemeng het. Magolego het ʼn regering-imbizo bygewoon en Muthambi in ʼn onderhoud gevra oor die vertragings in die digitalemigrasie-proses.

Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay Dinsdag (26 Julie 2016) in die arbeidshof in Johannesburg. Foto: Facebook

Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay Dinsdag (26 Julie 2016) in die arbeidshof in Johannesburg. Foto: Facebook

Gqubule het gesê volgens ʼn klankopname van die onderhoud het Muthambi gereageer: “Ons doen geen digitale migrasie nie of jy is nie behoorlik ingelig nie, want jy is besig om dit te verloor. Jy moet hierdie soort goed begryp. Hierdie onderhoude oor digitale migrasie oor en oor is baie vervelig – en op ʼn ernstige noot, ek wil nie hê jy moet hierdie klankgreep speel nie.”

Gqubule het gesê sy was geskok om te hoor hoe Muthambi direk met die bedryf en keuses van die nuuskantoor inmeng en die joernalis voorskryf wat om te doen. “Die minister het haarself in die redakteurs se skoene geplaas deur te besluit watter klankgrepe gespeel sal word en watter nie. Sy het haar dus in die posisie geplaas waar sy ʼn redaksionele besluit geneem het wat ʼn oortreding is van die Wet op Maatskappye én die Uitsaaiwet,” het Gqubule gesê.

Magolego is daarna aangekla dat hy “die SAUK in oneer gebring het deur nie ʼn minister by ʼn imbizo te respekteer nie” en is onmiddellik afgedank.

“Sy lewe was vernietig en sy loopbaan lê aan skerwe tussen die e-posse op my selfoon en die oproepe aan my SAUK-kollegas. Magolego was afgedank. Sy klankgreep van daardie dag is nooit uitgesaai nie. Sy saak is steeds voor die KVBA,” het Gqubule gesê.

Die inmenging het egter nie daar geëindig nie. Volgens Gqubule het Brian Molefe, die voormalige hoof van Eskom en daardie tyd uitvoerende hoof van Transnet, ook beswaar aangeteken oor vrae wat hy deur die joernalis Francis Heard gevra is. Heard het hom glo moeilike vrae gevra oor die omstrede aankoop van lokomotiewe.

Gqubule het gesê sy is daardie aand na die SAUK ontbied waar Molefe haar ingewag het. “Hy het sy vinger in Francis Heard se gesig gehad en gevra is dit die vorm van sy neus wat hom die reg gee om sulke vrae aan hom [Molefe] te vra.” Gqubule is gevra om Heard te dissiplineer, wat sy geweier het om te doen.

“Die punt van die saak is dat die Uitsaaiwet nie meer bestaan nie. Ons is in ʼn situasie waar die reëlboeke en die Grondwet opgeskeur is en ons word deur mag en gesag alleen regeer,” het sy gesê.

Krivani Pillay, SAFM se uitvoerende vervaardiger, het ʼn soortgelyke voorlegging aan die komitee gelewer en vertel hoe joernaliste verskeie kere hul besware gelug het oor die manier waarop die nuus “gemanipuleer en verdraai” is.

Sy het vertel Motsoeneng het in Mei vanjaar aan haar gesê: “Jy moet die organisasie verdedig. Geen joernalis is onafhanklik nie. Die bedryfshoof het uiteindelik die finale verantwoordelikheid oor die nuus. Ons kan nie toelaat dat mense die bestuur bevraagteken nie.”

Jimmy Matthews, wat toe waarnemende hoof van die SAUK was, het in daardie tyd aan joernaliste gesê om hulle te hou by die verbod om nie gewelddadige betogings nuusdekking te gee nie. Pillay het Matthews aangehaal wat aan die personeel gesê het: “Dis koud daar buite. Julle het twee keuses, die deur of die venster.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Waghond ·

Met die medewete en stilswyende goedkeuring van die regerende party het Hlaudi ‘n skrikbewind binne die SABC gevoer wat die optrede van die destydse Apartheidsregime soos ‘n vulletjie laat lyk.

Schalk ·

Die kompleet wanadministrasie en persoonlike gewin onderskryf deur inmenging van ‘n derde mag ruik ANC en ZUMA se denke

John ·

Beheer oor die staatsnuusdiens is nog altyd as van kritiese belang geag netsoos beheer oor die weermag en ander staatsinstellings. Kaping van enige van sulke instansies is soos om die land onder beleg te laat plaas deur gevaarlike en bedreigende buitepartye. Miskien moet die regering sommer ook al ons waterbronne vir ‘n paar rand verkoop aan ‘n suipplek in Saxonworld dan kan hulle ook gaan bakstaan vir ‘n blikbekertjie water by die agterdeur van hul uitlandse base…

Louis ·

Ek is bly dat hy UITEINDELIK sy dag gekry het. Die probleem is hy gaan wegstap sonder enige gevolge. Hy behoort strafregtelik aangekla word.
So ook die Guptas se poging om in besit van die SAUK te kom moet die ondersoek na staatskaping verskerp word

Frans ·

Ja, hy sal wegstap sonder gevolge en boonop met die vetste goue handdruk ooit.

Kobus ·

Daar is die bewys…as die Guptas n “Klein Staatsinstelling” soos die SAUK wou kaap….dan is die hele land gekaap soos hardnekkige berigte dit wil he….ontkenning ontkenning….maar sakke vol geld vir die swakkelinge….hul was en is aandadig vir ons ekonomie se vryval na rommelstatus in 2017…

Swanna ·

Nou wil ek graag weet. As dit daar so gaan hoe gaan dit in die ander staat beheerde instansies.
Dan wil hulle oor apartheid opgewonde raak., Net soos Fielies se .

Johann Marx ·

Wat so teleustellend is van die sogenaamde “nuwe Suid Afrika” is die feit dat situasies soos hierdie NIE voorkom word nie….maar toegelaat word om wortel te skiet, en dan word miljoene Rande en duisend man-ure aangewend om die gevolge daarvan ongedaan te maak. Daar is tog ‘n spreekwoord wat lui “Prevention is better than cure” nie waar nie? Nou waarom is daar in hierdie land geen “prevention” nie? Almal maak nes hulle wil….en as hulle uitgevang word is daar kommissies van ondersoek, skorsing met volle salaris, kans om te gaan sê waarom jy nie afgedank moet word nie, laat staan nog vervolg…en dan word die “oortreder” net êrens anders her-ontplooi om voort te gaan met hulle streke…

Jan ·

Gee Apartheid die skuld en jy het in die nuwe Suid-Afrika, vrypas om te maak net wat jy wil.

giep ·

Woeps daar sien ek weer vir satan.Wat van Faith – sy faith volle handlanger?

Naar ·

Asb asb raak net van hierdie man ontslae, kry hom asb net gevonnis, en uit die media en uit die koerante en tydskrifte uit . hy is NIKS hy was NIKS, hy is onregmatig in ‘n pos gesit waar hy nie hoort nie .. ASB tog ek wil nie die man meer sien nie . ek raak NAAR as ek hom en MAlema sien.

Kobus ·

Daar is die bewys….as die Gupta’s n “Klein Staatsinstelling” soos die SAUK wou kaap….dan is die hele regering deur hul gekaap soos hardnekkige berigte dit wil he….ontkenning ontkenning….maar die swakkelinge(lees ministers) sit met sakke vol geld….hul is aandadig vir ons ekonomie se vryval en rommelstatus in 2017

Jan maak n plan ·

Daar sal met hom net mooi niks gebeur nie, hys dan een van Zuma se lakeie. Dalk miskien op vroë pensioen met een stewige goue handdruk. Maar hy sal glad nie tronk toe gaan nie.

Linda ·

Ek was gisteraand tydens die SAUK 4 se getuienis, vir die eerste keer in baie jare trots Suid-Afrikaans. Terselfdertyd was my hart gebreek oor die trauma waardeur hierdie mense moes gaan. Sterkte.

Skatymir ·

Is dit nie tyd dat Solidariteit/Afriforum die statistiek aanvra van hoeveel Afrikaans sprekendes TV lisensies betaal nie. Dan ‘n veldtog loots om wetgewing te verander dat ons nie meer TV lisensies hoef te betaal nie. Ek kyk al vir 2 jaar nie TV nie, het ‘uncapped’ internet en mis niks van SABC of DSTV nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.