SAWD sê oor stormgerugte

Die reën wat teen Sondag oor die land gaan val. Foto: Verskaf.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdag gesê hoewel gerugte dat ʼn groot storm volgende week in die Kaap verwag word nié waar is nie, kan Kapenaars hulle staal vir ʼn kouefront wat dié naweek in die provinsie sal aankom.

Ezekiel Sebego, hoofweervoorspeller van die SAWD, het gesê reënval en stormweer is veral Saterdag ʼn moontlikheid vir suidwestelike dele van die Wes-Kaap.

“Dié reën sal Sondag na die westelike en suidelike dele van die Noord-Kaap versprei,” het Sebego gesê. Hy het ook gewaarsku dat daar Sondag swaar reënval sal wees in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap en dat daar gelokaliseerde vloede verwag kan word in die Kaapse metropool, die Overberg en die Kaapse wynland-distrik.

Die kouefront, wat Saterdag in die provinsie verwag word, sal lae temperature tot gevolg hê wat sneeuval op die bergagtige gebiede in die Wes-kaap en Oos-Kaap kan veroorsaak. Die sneeu word vir Sondag verwag.

“Temperature laer as 10 °C word oor dele van die Wes- en Noord-Kaap verwag en ʼn algehele verlaging in landswye temperature kan ook verwag word,” het Sebego gesê.

Sebego het die publiek gewaarsku dat die sneeuval in die bergagtige gebiede miskien die sluiting van bergpasse mee kan bring. “Dit kan lei tot verkeersprobleme, en ons raai die publiek dus aan om baie versigtig te wees wat dit betref.”

Sebego het ook gewaarsku teen sterk winde wat Sondag oor groot dele van die land verwag kan word. “Stormsterkwinde (sowat 70 km/h) kan tussen Kaap St. Francis en Oos-Londen verwag word. Die SAWD waarsku ook van Saterdagaand af teen golwe hoër as 4 meter tussen Kaap Columbine en Port Elizabeth. Dit sal teen Sondag na Oos Londen versprei en Kosibaai teen Maandagmiddag tref.”

Sebego het gesê Maandagoggend kan daar golwe van tussen 6 en 9 meter tussen Kaappunt en Oos-Londen verwag word. Die kouefront sal na verwagting Maandag na die oostelike dele van Suid-Afrika begin beweeg. “Toestande sal verbeter oor die suidelike en westelike dele van Suid-Afrika. Reënbuie kan plek-plek verwag word langs die KwaZulu-Natalse kuslyn.”

Die SAWD het gesê ʼn fopnuusberig oor ʼn komende storm wat op WhatsApp versprei word, is nie waar nie. “Die boodskap meld dié storm sal twee keer so sterk wees as die storm wat in Junie plaasgevind het. Dit is vals en die publiek moet asseblief amptelike webtuistes dophou om uit te vind wat die werklike feite is,” het Sebego gesê.

Die SAWD sal die ontwikkeling van die kouefront monitor en gereelde opdaterings uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

‘n Paar dae gelede het die Sawd gese hulle weet nie van enige weer wat oppad is nie, maar nou het hulle darem opgedaag. Nou wag ons vir die weer en wonder wie nou eintlik reg was. Hou maar die emmers reg vir al die drupplekke in geval… en port vir die moontlike uitval…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.