SBO’s hervorm, maar bly stewig in staatsbesit – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Terwyl staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) aan die voorpunt van ekonomiese en maatskaplike transformasie behoort te wees, is dit die afgelope ruk in die openbare oog gekenmerk deur staatskaping, finansiële wanbestuur en ondoeltreffendheid.

Pres. Cyril Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief benewens die gereelde reddingsboeie wat verskeie SBO’s die afgelope paar jaar ontvang het, sukkel die ondernemings boonop om bloot hul pligte na te kom.

Die president sê staatsbesit van ondernemings in sekere belangrike sektore is nodig, veral in die geval van die lewering van dienste soos krag en water en waar ʼn ontwikkelingsrol eerder as ʼn suiwer kommersiële rol nodig is.

“Dit is hoekom ons dit ʼn prioriteit van die regering gemaak het om hierdie maatskappye om te keer, korrupsie uit te roei en hul bestuur te verbeter sodat hulle hul bedoelde rol kan vervul om die ekonomie aan te dryf en werksgeleenthede te skep.

“Hierdie hervormings is nie bedoel om die staatsektor te verswak of sy rol te verwater nie, maar om dit ʼn meer dinamiese en doeltreffende deel van die ekonomie te maak.”

Ramaphosa sê die hervorming wat ingestel word gaan groter private belegging in die land se ekonomiese infrastruktuur teweeg bring – hoewel daar kommer in sekere geledere is dat dit die belang of waarde van SBO’s gaan verminder.

“Die teendeel is waar.”

Ramaphosa sê die hervorming gaan beteken dat terwyl strategiese infrastruktuur stewig in die hande van die staat bly, SBO’s meer doeltreffend gaan word en die bedrywe wat hulle ondersteun, meer mededingend sal wees.

Die president sê in sy nuusbrief die beleid dat SBO’s ʼn belangrike ontwikkelingsrol in die groei van die ekonomie moet speel, het nie verander nie. “Ons plig is om hulle te versterk sodat hulle hul belangrikste aandeelhouers – die mense van Suid-Afrika – kan bedien.”

Die regering het reeds begin met ingryping by sekere SBO’s, waaronder Eskom en die haweowerheid, maar Ramaphosa sê ʼn sogenaamde kombersbeleid kan nie gebruik word nie en ʼn nommerpas plan is vir elke SBO nodig.

By Eskom is daar reeds begin met ʼn herstruktureringsproses in drie verskillende staatsbeheerde ondernemings wat bestaan uit opwekking, transmissie en verspreiding. Ramaphosa sê hierdie besluit is geneem omdat Eskom se vorige struktuur onvanpas was vir ʼn veranderende energielandskap, dat dit ondoeltreffend en duur geword het en nie deursigtig genoeg was nie.

Die president sê danksy die herstrukturering sal Eskom nou krag van ʼn groter groep verskaffers – in die private en staatsektor – kan koop en dat dit deursigtigheid en mededingendheid gaan verhoog.

“Die gevolg van die veranderinge wat ingestel word, gaan beteken dat huishoudings en ondernemings krag goedkoper behoort te kan koop en van betroubare verskaffing verseker wees.”

Danksy die staat se program vir onafhanklike verskaffers van hernieubare energie was daar reeds beduidende private belegging in opwekking, sê Ramaphosa. Die drempel waarvolgens verskaffers krag kan opwek is onlangs boonop van 1 megawatt tot 100 MW verhoog, wat na verwagting selfs verdere belegging sal lok.

“Dit is uiters belangrik op ʼn tydstip wat die land steier onder ernstige en voortgesette kragtekorte en terwyl nie Eskom of die staat nou in nuwe opwekkingskapasiteit kan belê nie.”

Nog ʼn belangrike ingryping was dié by Suid-Afrika se sukkelende hawens. ʼn Nasionale Haweowerheid, onafhanklike filiaal van Transnet, is vandeesmaand bekend gestel en vorm deel van ʼn breër strategie om infrastruktuurlogistiek reg te ruk.

Ramaphosa sê Transnet beoog om R100 miljard oor die volgende vyf jaar te belê in die opgradering van sy infrastruktuur by hawens en dat dit die fasiliteite meer mededingend en tot voordeel van die ekonomie gaan maak.

Vir gewone verbruikers beteken dit laer pryse op goedere en vir uitvoerders kan dit lei tot groot mededingendheid in wêreldmarkte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Charles ·

Staatsbesit is juis die probleem, privatisering is die oplossing..

Jack ·

Staatsbesit is nie alleen die groot probleem nie Staatsbesit met die ANC en sy ideologie is gesamentlik die groot probleem. Toe die NP geregeer het was staatsbesit glad nie ‘n probleem nie, want die NP het ondernemings soos Eskom, SASH, Telkom en andere toegelaat om soos privaat ondernemings bestuur word, insluitend dat die hoofde daarvan verantwoordelik gehou is vir verliese. Die regte probleem lê by die ANC en sy beleid van geen verantwoordbaarheid vir kaders nie.
Dan het ons nog tenderpreneuring, iets wat onwettig was voor 1994. En laastens regstelende aksie het middelmatigheid en selfs onbevoegdheid tot norm verhef.

Charles ·

Jack jy is reg, maar ek glo nie ons gaan ooit weer soos in die verlede regeer word nie..

Ansie ·

Wat van waterverskaffing. Dit ly ook tans onder Sisulu en politiek. Daar kort ook ‘n groot ommekeer. Gedurende die tyd wat sy in beheer is, was daar nog nie verbetering nie – inteendeel. Sy baklei so hard om die Kubane aan te stel dat sy haar oog heeltemal van die bal afgehaal het. Sy moet vervang word – en dringend ook. Sy is eenvoudig nie bevoeg om die water- en rioolprobleme in SA die hoof te bied nie.

Nie Verbaas ·

Sy het nog nooit haar oog op die bal gehad nie want sy het nog nooit geweet waar die bal is nie.

Mariana ·

Stel die regte mense met die nodige kennis in sleutelposisies aan en jou probleem is byna opgelos. Op die oomblik is daar te veel ministers en hul onderdane in belangrike posisies met nie ‘n idee hoe om hul werk te doen nie. Kry dan ook korrupsie onder beheer en dan is nog probleme opgelos.

Nie Verbaas ·

Maar is die regering dan nie geleerde mense met grade nie?

pestilensie ·

Laat ek nou sien ,jy bedoel ek bou n kragstasie maak hom winsgewind en jy ontein sonder vergoeding . Uitstekende plan , glo daar is baie Sakemanne wat daarvoor gaan val , of ooo nee jy bedoel seker net julle kaders , geluk daarmee

Vonkprop ·

Die verbruikers sal nooit laer pryse betaal nie. Dit is vals hoop wat geskep word. Alles word duurder en ons as verbruikers word net meer en meer gemelk so weereens leë beloftes.

Skillie ·

Ja die verbruiker word gemelk om die leefstyl te kan bekostig en handhaaf.

Ben ·

Wonder hoeveel van die 100 miljard gaan by die end bestemming uit kom.
Weer ñ hele paar nuwe miljoeners in die pyplyn.

Stofdonkie ·

Het hy die nuusbriefie van hom gou geskryf na gister aand se toespraak? Dit wil so lyk want dit lyk nie of daar baie gedink is oor sy uitlatings nie. Of is dit nou net weer verkiesingsbeloftes wat gemaak word? Daar word nou weer belowe om korrupsie uit te roei, net tot na die verkiesing dan word dit weer gelos.

Oomniklaassevriend ·

Hulle keer noual hoelank om en daar is steeds geen verbetering nie- inteendeel!

Die Boerepompie ·

Ek wonder of hulle regtig weet wat aan gaan .Ek dink nie so nie

Mudguard ·

SBO’s meer doeltreffend gaan word. Nou het ek rekmerke op my diafragma van al die gelag !!!!

Boon ·

Die dag as CR en sy kaders besef hulle het nie die bevoegdheid, kennis en ondervinding om.die land sonder die samewerking van die wit bevolkin te bestuur nie, dan sal hy ophou met sy idee van sentrale beheer uit Pretoria en die mense vryheid gee om zelf te besluit wat goed is, dan sal ons weer welvarend word.

Nie Verbaas ·

“is dit die afgelope ruk in die openbare oog gekenmerk deur staatskaping, finansiële wanbestuur en ondoeltreffendheid” Hy meen seker die afgelope 26 jaar. Hoe gaan hy daaglikse praktyk nou verander as ons weet dat onbevoegdes nie afgedank sal word nie en ANC ideologie nog steeds prioriteit is?

Pietertjie ·

Net jammer dat die SBO’s so klaaglik faal in hulle pligte en verantwoordelikhede. En dat die onderdane maar moet opdok, sien en klaarkom ten spyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.