Schalk is ontslaan; kry bekende besoekers

Fourie du Preez, Schalk Viljoen en Bouwer Bosch, Maandag in die hospitaal. Foto: Verskaf

Fourie du Preez, Schalk Viljoen en Bouwer Bosch, Maandag in die hospitaal. Foto: Verskaf

Altesaam 25 dae nadat ʼn kritiek beseerde Schalk Viljoen (16) by die waakeenheid van die Muelmed-hospitaal in Pretoria ingedra is nadat hy deur ʼn snelbus voor sy skool getref is, het hy Maandagmiddag sonder komplikasies self daar uitgestap.

Dit volg kort nadat hy deur twee van sy gunsteling-bekendes, Fourie du Preez en Bouwer Bosch, in die hospitaal besoek is. Bosch het Schalk se verhaal op Maroela Media gevolg en in een van die foto’s wat by die berigte gebruik is, gesien Schalk dra een van sy gewilde Liefde Wen-sweetpakbaadjies. Hy het Schalk se verhaal as roerend beskryf en deur Maroela Media kontak met Schalk se ouers gemaak om hom te besoek. Bouwer het ná sy besoek ʼn foto van hulle drie op sosiale media gedeel en gesê: “Wat ʼn voorreg om hom te kon ontmoet. Google sy storie. Dit is meer epies as ʼn Game of Thrones-episode!”

“Schalk is by die huis en natuurlik baie gelukkig om tuis te wees,” het Marianne van der Laarse, die familie se woordvoerder, Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Hy het gesê dit was ‘awesome’ en ‘great’ dat Fourie en Bouwer tyd vir hom gemaak het.”

Van der Laarse het gesê Schalk se dokters is baie tevrede met sy vinnige herstel. “Hy het geen permanente breinskade opgedoen nie en benodig geen verdere rehabilitasie nie. Dit is ongelooflik!”

Sy het gesê Schalk is nog vir ʼn onbepaalde tyd op siekverlof sodat hy rustig by die huis verder kan herstel.

Schalk, ʼn gr. 11-leerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), is op 22 Januarie in die A Re Yeng-buslaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool raakgery toe hy die straat by die voetoorgang wou oorsteek. Die bus het hom gestamp en hy is deur die trefslag op ʼn ander voertuig geslinger. Hy het ʼn erge kopwond opgedoen en is dieselfde dag geopereer om drukking op sy brein te verlig. Hy is daarna in ʼn geïnduseerde koma geplaas en stelselmatig wakker gemaak. Hy is verlede week uit die waakeenheid na ʼn algemene saal oorgeplaas.

Dirk Taljard, die skool se woordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Schalk se ongeluk was die eerste van sy soort sedert die snelbusdiens sowat ʼn jaar gelede daar in bedryf gekom het. “Die verkeer voor die skool is ʼn groot probleem en ʼn kopseer. Die skool se beheerliggaam was in gesprekke met die busdiens en die Tshwane-metro en ons sal binnekort terugvoer daarvan in ʼn persverklaring deurgee,” het Taljard gesê.

Lees alle vorige berigte oor Schalk Viljoen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Genade van Bo bly maar die Anker in ons lewe. Nog nie die einde van wonderwerke. Sterkte en seën.

Dave ·

Daar NIKS kom v d bestuurder soos gewoonlik hulle kan mos ry soos hulle wil

Gesiggie ·

Wonderbaarlik, ongelooflik…. God het n doel met jou in die lewe… So baie bly is ok… alle sterkte vir die volle herstel.

DPJ ·

Ons het nog net van hoorsê getuienis gehoor. Wanneer Shalk self getuig kan ons saam praat.
Onthou ‘n saak het altyd 3 kante. Die een kant, die ander kant en die waarheid.
Voor nie albei kante deur ‘n hof aangehoor is nie sal die waarheid nooit uitkom nie.
Lewe soos Chrisenne en vermy die kwaad!

Johann ·

Ons is almal dankbaar jy is weer tuis Schalk. Die krag van Gebed mag nooit onderskat word nie. Ons bly bid vir jou en jou gesin. Voorspoed met jou volkome herstel. Dankie aan Maroela Media wat ons op hoogte van sake hou.

MM ·

Wat van ‘n voetbrug? Lynnwoodweg is baie groot pad vir kinders om oor te steek met swaar tasse en sportsakke.

Amanda Van Vuuren ·

17 Feb

Prys die Here! U is steeds n God van wonderwerke, dankie daarvoor Jesus. Mag die jongman en sy gesin altyd lewende getuies van hierdie wonderwerk bly… Ons prys en loof U lewende God..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.