Schalk terug by skool ná bus hom tref

Schalk Viljoen terug by die skool. Foto: Verskaf.

Schalk Viljoen terug by die skool. Foto: Verskaf.

Presies 74 dae nadat ʼn snelbus Schalk Viljoen (16) voor sy skool in Pretoria raakgery het en hy by die dood omgedraai het, kon hy Dinsdag sy skoolloopbaan hervat.

Karen Viljoen, Schalk se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy eerste dag terug by die skool het goed verloop. “Hy het die dag baie geniet en was opgewonde om weer terug te keer,” het sy gesê.

Volgens Karen het Schalk buiten 40% gehoorverlies in sy regteroor, andersins geen permanente skade opgedoen nie. “Hy hoor ʼn gesuis in sy oor en sy dokters het gesê dit kan dalk nog ses maande duur, maar andersins gaan dit baie goed. Wat gebeur het, is ʼn wonderwerk. Ons sê elke dag dankie dat hy vir ons gespaar is.”

Schalk se pa, Deon, het Dinsdag in ʼn boodskap aan die skool en Schalk se ondersteuners gesê: “Schalk is terug skool toe, dit is 74 dae later! Ek het nie woorde om my dankbaarheid te beskryf nie. Die Here se Genade is onbeskryflik groot. Mense se gebede, ondersteuning en belangstelling, julle het die moeilike tyd draaglik gemaak. Dankie! Nou vat ons elke dag op sy eie, beplan wel vooruit maar, weet dat planne vinnig kan verander.”

Schalk, ʼn gr. 11-leerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies), is op 22 Januarie in die A Re Yeng-buslaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool raakgery, toe hy die straat by die voetoorgang wou oorsteek. Die trefslag van die bus het hom tot op ʼn ander voertuig geslinger.

Hy het ʼn ernstige kopwond opgedoen en is in ʼn kritieke toestand na die Muelmed-hospitaal geneem, waar hy dieselfde dag geopereer moes word om drukking op sy brein te verlig. Hy is daarna in ʼn geïnduseerde koma geplaas en stelselmatig wakker gemaak. Hy is op 15 Februarie sonder komplikasies ontslaan om verder by die huis aan te sterk.

Karen het gesê Schalk is bietjie agter met sy skoolwerk, maar vol vertroue hy sal dit inhaal. “Die ondersteuning wat ons van die skool af ontvang is wonderlik, om in te haal sal nie ʼn probleem wees nie.”

Oor die ongeluk kan Schalk nog niks onthou nie. “Ek het wel vir hom gesê hy sit nie weer sy voete op daardie pad nie,” het sy geskerts.

Lees alle vorige berigte oor Schalk Viljoen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Baie geluk met jou herstel Schalk! Ons almal is dankbaar vir jou onthalwe. Daar het baie gebede vir jou opgegaan. Die Here se genade is groot. Sterkte met jou loopbaan vorentoe. Groete.

Gesiggie ·

Wow how Great to Are… God se genade is ongelooflik… Ek so bly vir jou Schalk en ook aan jou ouers… bly Possitief als sal van nou af net beter gaan, God het jou nog n kans gegee… Glo net… als wat mooi is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.