Schindler se sekretaresse Reinhardt sterf op 107

Mimi Reinhardt, Oskar Schindler se sekretaresse (23 November 2019) (Foto: Gideon Markowicz/AFP/Israel OUT)

Mimi Reinhardt, wat lyste vir die Duitse nyweraar Oskar Schindler opgestel het en gehelp het om honderde Jode tydens die Joodse volksmoord se lewens te red, is in die ouderdom van 107 jaar oorlede, het haar familie Vrydag gesê.

Reinhardt was, as Schindler se sekretaresse, verantwoordelik daarvoor om lyste name van Joodse werkers op te stel van Krakow, Pole. Hulle is aangestel om by sy aanleg te werk en het verhoed dat hulle na Nazi-doodskampe gedeporteer is.

“My ouma, so lief en uniek, is in die ouderdom van 107 oorlede. Rus in vrede,” het haar kleinkind Nina in ʼn boodskap aan die res van die familie gesê.

Reinhardt, gebore in Oostenryk en self ʼn Jood, is deur Schindler self aangestel en sy het tot 1945 vir hom gewerk.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het sy na New York verhuis voor sy besluit het om in 2007 na Israel te verhuis en by haar enigste seun, Sacha Weitman, aan te sluit. Weitman was in daardie stadium ʼn professor in sosiologie aan die Universiteit van Tel Aviv.

“Ek voel tuis,” het sy aan verslaggewers gesê toe sy in Israel aangekom het.

Schindler is in 1974 oorlede. Hy is deur Israel se Yad Vashem Joodse Volksmoord-museum vereer as ʼn nie-Jood wat Jode van Nazi-uitroeiing gered het.

Reinhardt se lyste het gehelp om sowat 1 300 Jode se lewens te red. Schindler se inisiatief is oorvertel in die topverkoper 1982-boek Schindler’s Ark en die bekroonde filmverwerking deur Steven Spielberg, Schindler’s List.

Reinhardt het die afgelope paar jaar by ʼn ouetehuis in Tel Aviv gewoon. Sy het gesê sy het een keer Spielberg ontmoet, maar kon nie na die fliek kyk nie.

Gideon Markowicz, Israelse fotograaf, het Reinhardt ontmoet as deel van ʼn projek wat toegewyd is aan oorlewendes van die Joodse volksmoord. Hy het haar as ʼn aktiewe vrou beskryf. “Sy het aan die aktiwiteite by die ouetehuis deelgeneem en was ʼn brugkampioen. Sy was gereeld op die internet en het die aandelebeurs dopgehou,” het hy Vrydag aan AFP gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.