Schoenmaker hou by haar goue lees

Tatjana Schoenmaker in aksie in Japan. (Foto: Yuichi Yamazaki/AFP)

Tatjana Schoenmaker is die wêreldkampioen in haar voorkeuritem!

Die 26-jarige Suid-Afrikaner het sopas die eindstryd van die 200 m-borsslagitem by die Wêreldkampioenskap in Japan gewen.

Haar wentyd van 2:20.80 beteken dat sy die enigste swemmer in die finale lopie is wat vinniger as 2:21 kon swem.

Sy was weliswaar nie die vinnigste uit die wegspringblokke nie, maar haar seepgladde benadering het die weg vir ʼn sterk vertoning oor die laaste 50 m gebaan en sy het water in die oë van gerekende teenstanders soos Kate Douglass, Tes Schouten en Lilly King geskop.

King, die verdedigende wêreldkampioen, het uiteindelike vierde met haar tyd van 2:22.25 geëindig.

Goud by die Wêreldkampioenskap verseker nie noodwendig Olimpiese sukses nie, maar dit sorg ongetwyfeld vir ʼn baie welkome momentum-inspuiting met die oog op Frankryk in 2024.

Schoenmaker het Dinsdag ordentlik litte vir die 200 m-finaal losgemaak toe sy die silwermedalje in die 100 m-borsslagitem losgeswem het.

“Ek het dit glad nie verwag nie. By my vorige Wêreldkampioenskap (in 2019) het ek sesde in dié item klaargemaak; ʼn medalje is dus ongelooflik,” het ʼn tevrede Schoenmaker ná afloop van die 100 m-item gesê.

Uitslag van die 200 m-borsslagfinaal:

  1. Tatjana Schoenmaker: 2:20.80
  2. Kate Douglass: 2:21.23
  3. Tes Schouten: 2:21.63
  4. Lilly King: 2:22.25
  5. Thea Blomsterberg: 2:22.42
  6. Kotryna Teterevkova: 2:24.22
  7. Abbey Harkin: 2:24.55
  8. Kelsey Wog: 2:25.21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.