Schoenmaker oor Olimpiese goud: ‘Dit voel nog onwerklik’

Tatjana Schoenmaker, Olimpiese gouemedaljewenner, sê die gebeure by die Spele voel nog onwerklik. (Foto: Tania Heyns)

Suid-Afrika het self ingespring om geld in te samel om die land se Olimpiese medaljewenners te beloon.

Die maatskappye Atterbury en USN het aangekondig dat die twee maatskappye gesamentlik R500 000 aan dié atlete skenk. Hulle het terselfdertyd ʼn Olimpiese medaljewenner-skarefinansieringsprojek, Spansaam, via die Atterbury Trust, van stapel gestuur en het ander organisasies en mense genooi om tot die fonds by te dra.

Die maatskappye sê die oogmerk is om binne ʼn week die teikenbedrag van R1 300 000 te bereik.

Daar word beoog om uit die fonds R500 000 vir ʼn goue medalje en R250 000 per silwer medalje te betaal, asook ʼn vasgestelde bedrag vir die afrigters van medaljewenners. Indien die teikenbedrag oorskry word, bly die surplus in ʼn trustrekening om in die toekoms gebruik te word wanneer die regering op sport-, kultuur- of gemeenskapsfront te kort skiet, sê die maatskappye.

Suid-Afrika se goue meisie, die Tuks-swemmer Tatjana Schoenmaker, het twee van die land se medaljes (goud in die 200 m-borsslag en silwer in die 100 m-borsslag) verower, terwyl die vrouebranderplankryer Bianca Buitendag van Victoriabaai ook ʼn silwer medalje gewen het.

Schoenmaker het Woensdagoggend gesê die nuus oor die finansiële beloning was ʼn groot verrassing.

“Dit is merkwaardig. Dit voel werklik asof Suid-Afrika ons ondersteun en dit is ʼn verstommende gevoel dat daar mense daar buite is wat omgee en hierdie geld vir ons wil gee,” sê Schoenmaker.

“Uiteraard doen ons dit nooit vir die geld nie – ons doen dit vir baie meer as die geld – maar dit is baie lekker om beloon te word daarvoor.”

Schoenmaker sê die geld help natuurlik ook om die talle uitgawes wat sportlui aangaan, te help dek.

Die jong swemmer sê sy sukkel steeds om tot verhaal te kom ná haar ongelooflike vertoning in Tokio.

“Dit voel nog steeds onwerklik. Daar is uiteraard baie meer mense wat kom hallo sê en dit is só spesiaal. Dit verg soveel moed om na iemand toe te gaan en vas te stel [of dit is wie jy dink dit is], want met die masker en als moet jy vra: ‘Is jy Tatjana?’

“Ek waardeer almal wat die tyd in hul dag afknyp en sommer net wil groet. Dit is spesiaal, maar dit voel nog half weird … hoekom groet jy my? Ek is niemand nie,” lag sy.

Oor die moontlikheid van goud by die Olimpiese Spele sê Schoenmaker sy het net gegaan om haar beste te lewer.

“Ek het geweet die Here se plan sal uitwerk soos dit moet. Ek kon net my beste lewer, of ek nou laaste gekom het of nie. Om by die Olimpiese Spele te wees, is reeds ʼn spesiale prestasie.

“Ek swem en wat ook al die Here wil hê moet gebeur, sal gebeur.”

Schoenmaker sê sy swem nou nog so ʼn bietjie, voor sy Saterdag vir twee weke met vakansie gaan om ʼn blaaskans te neem.

AfriForum het ook Dinsdag ʼn medaljefonds vir die wenners van die Olimpiese en Paralimpiese Spele bekend gestel. Dit het gevolg ná verskeie berigte dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) oor te min of geen geld beskik om medaljewenners met prestasiebonusse te vergoed nie.

Saskok het later gesê Schoenmaker en Buitendag gaan wel prestasiebonusse ontvang, maar die komitee wou hom nog nie tot ʼn bedrag verbind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is n baie goeie gebaar deur hierdie maatskappye en sal ‘n aansporing wees vir ander atlete, net een vraag is sy familie van norali Schoenmaker die meisie van itchy boots wat die wêreld deur ry alleen met ‘n motorfiets en sopas deur sa getoer het?

Jan Seerot ·

Geagte Tatjana, ek wens ek kon jou ken. Ons God het inderdaad vir jou die talent in die water gegee. Verder erken jy dit. Briljant!
TUKS, my alma mater van baie, baie jare gelede. Geniet jou jong lewe, dit gaan snel verby.

Flower Girl ·

Mag die Here hulle seen. Sy is so nederig.. Was lekker om haar op Grootontbyt te sien vanoggend.

Jacobus ·

Woorde ontbreek van trots. Hoop daar is net Seën in jou toekoms!

Eragrostis ·

Baie geluk Tatjana en Bianca. Julle het ons land baie trots gemaak, en is ń inspirasie vir soveel.

Dis ń baie goeie gebaar van USN en Atterbury, asook Afriforum en die ander organisasies wat fondsrekeninge geskep het om hierdie atlete te beloon, en hulle verdien ook die nodige erkenning. Die hartseer daarvan is dat dit die gevolg is van dié regering, by name SASCOC, wat volgens hulle nie die nodige fondse het om die medalje wenners te beloon vir hul prestasies nie, en ook boodskappe uitstuur wat mekaar weerspreek. Dié gebaar gaan die regering net nog meer onbetrokke maak, want hulle weet as hulle nie die fondse gaan hê nie, sal die publiek en maatskappye daarvoor instaan. Daardie beoogde beloningsfondse kan hulle dus ook nou eerder wanspandeer, soos reeds die geval blyk te wees. Dis ń skreiende skande.

Nie Verbaas ·

SASCOC se fondse seker maar weer in sekeres se sakke.

commontar ·

Sulke fondse behoort streng aan voorheen benadeeldes te gaan. Dis nou natuurlik net die deel (indien enige wat in die geval so lyk) wat oorbly nadat almal hulle deel van herverdeling daarvan verhaal het.

Wakkerslaper ·

Dit is wonderlik dat ons self geld insamel om ons atlete te vergoed vir hulle puik prestasies. MAAR, dan moet hierdie atlete asb van nou af as onafhanklikes deelneem aan toekomstige byeenkomste en Olimpiese Spele en nie meer onder die gemors nuwe SA vlag nie.

Josaandierand ·

In die geval van Tatjani neem die spreekwoord, “Skoenmaker, bepaal jou by jou nering” nuwe betekenis aan. Swem, eerder as skoene maak is haar nering. Sy is ‘n inspirasie met beide haar prestasie en haar nederige karakter.

Jaco ·

Mag USN en Atterbury sulke skenkings maak? Wat dan nou van BEE regulasies. Sover ek weet kom dit definitief ter sprake met sulke skenkings

VaalDonkie ·

Ja ne. Toe ek in 1996 die Taekwondo Britse Ope gewen het en in 1998 ‘n 5de plek op die wereldkampioenskappe behaal het, he SASCOC (of was dit nog NOCSA?) nie eens die moeite gedoen om op ons briewe en oproepe te reageer nie. Ek wou bitter graag in 2000 en 2004 na die olimpiese spele gegaan het. Maar toe hulle wel ons oproepe beantwoord, het hulle net gese “sorry, no”.

Ek het toe al geleer mens moet geensins iets verwag van daai spul nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.