Schoenmaker se ‘grootste oomblik’ lê voor

Die Suid-Afrikaanse swemsensasie Tatjana Schoenmaker. (Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI)

Suid-Afrika se Tatjana Schoenmaker se geliefdes sal môre, kort voor 04:00 Suid-Afrikaanse tyd, weer kiertsregop voor die televisie sit wanneer dié 24-jarige swemsensasie die eindstryd in haar gunstelingitem aanpak.

Schoenmaker word oënskynlik net beter elke keer wat sy in die swembad duik. Eers was daar die silwer medalje in die 100 m-borsslag – Suid-Afrika se eerste by vanjaar se Spele in Tokio. Toe was daar die Olimpiese rekord wat sy in die 200 m-borsslaguitdunronde laat spat het. Sy het ook die Olimpiese rekord in die uitdunne van die 100 m-borsslag verbeter.

Ruan Ras, Tatjana se kêrel van die afgelope jaar, mis ook nie ʼn enkele resies nie en het aan Maroela Media gesê haar sterk kop en geloof in God is wat haar deur die Spele dra.

Ras is self ʼn kranige swemmer, “maar nou glad nie op haar vlak nie”, skerts hy beskeie. Hy is besig met sy meestersgraad in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria. Die twee het mekaar as hoërskoolleerders by Tuks se sportskool ontmoet, maar die verhouding het eers die afgelope jaar tot meer as vriendskap geblom.

Vir Ras is dit geen probleem om so vroeg uit die vere te wees om Schoenmaker te ondersteun nie.

“Ons staan lekker vroeg op, ja. Maar ons swemmers het bewys dit is net só die moeite werd.

“Dit is so verstommend om na hulle te kyk.”

Oor wat Vrydagoggend se eindronde gaan oplewer, wil Ras nie enige voorspellings waag nie.

Ruan Ras en Tatjana Schoenmaker.

“My grootste hoop is dat sy uit die swembad klim met net die grootste geluk in haar hart. Dit is die meeste van die SA span se eerste Spele en jy werk jou hele lewe lank daarvoor. Die feit dat hulle dáár is, is reeds prestasie genoeg.

“Tatjana is spesifiek goed geplaas, maar wat ook al God se wil is…,” sê Ras.

Hy sê Schoenmaker se geloof is haar groot dryfveer en speel nie net in haar sport nie, maar ook in haar hele lewe ʼn enorme rol. Sy is ʼn fighter, sê hy.

“Tatjana is seker die mens met die sterkste kop wat ek ken. Sy doen wat sy doen tot eer van die Here. Sy weet presies hoekom sy doen wát sy doen.”

Ras sê voor die Spele het Schoenmaker streng by haar gewone roetine gehou en saam met afrigter Rocco Meiring die laaste voorbereidingswerk gedoen.

“Hulle is gewoontediere; dit is dalk een van die redes hoekom sy nou so goed vaar,” sê hy.

Ras sê hy en Schoenmaker gesels gereeld in video-oproepe. Die tydsverkil is egter groot – Tokio is sewe uur voor Suid-Afrika.

“Hierdie [geleentheid] gebeur net een keer elke vier jaar – ek gee regtig nie om om so vroeg op te staan nie!

“Ek probeer daar wees vir haar. Daar mag nie toeskouers wees nie, so haar familie kan nie by haar wees nie, maar dit is vir haar baie belangrik om ook in verbinding met hulle te bly. Haar gesin is haar grootste ondersteuners.”

Só ’n prestasie verdien ’n groot glimlag! Tatjana Schoenmaker met haar silwer medalje. (Foto: Anton Geyser/SASP/SASI)

Pa Rene, ma Renske en suster Fabienne is vir die duur van die Spele in Roodepoort nadat hulle vroeër na Nederland verhuis het. Ras sê Schoenmaker het ʼn ongelooflike noue band met haar gesin. Hulle plaas geen druk op haar nie, maar gee net onvoorwaardelike steun.

Vrydag om 03:41, wanneer die swemmers wegspring in die eindronde, sal Ras lankal reg wees vir aksie.

Draai sy maag voor een van Schoenmaker se items? Hy lag.

“Ek slaap nie. Nie omdat ek stres nie, maar uit blote opgewondenheid.

“Haar groot oomblik is uiteindelik hier – en ek gun dit só vir haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Esme ·

Ruan, baie dankie vir jou ondersteuning aan Tatjana.
Ons is trots op julle as ‘gesin’

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.