Schreiber benoem vir Maties se raad

Die DA-LP Leon Schreiber. (Foto: Facebook)

Dr. Leon Schreiber, DA-LP, is benoem vir ʼn posisie in die Universiteit Stellenbosch (US) se raad.

Prof. Hermann Giliomee, gerespekteerde historikus, taalstryder en skrywer, en adv. Jan Heunis, president van die US-konvokasie, het Schreiber benoem.

Schreiber is ʼn oud-Matie, ʼn parlementslid en die DA se kiesafdelingshoof op Stellenbosch en beywer hom al jare lank vir ʼn gelyke plek vir Afrikaans op US. Hy sê dit is belangrik dat openbare verteenwoordigers nie net op die kantlyn moet staan nie, maar ook “self in die kryt moet klim” om ʼn verskil te bewerkstellig.

“Nes vele ander Maties het dit my oor die afgelope jare diep hartseer gemaak om te sien hoe Afrikaans in lesinglokale en op kampus op Stellenbosch uitgedruk word, en selfs in koshuise en op parkiebanke verbied is,” sê hy.

“Dit is waarom ek reeds Afrikaanse studente bystaan met ʼn hofsaak teen die universiteit oor die misbruik van die Covid-19-pandemie om weg te doen met Afrikaanse leermateriaal, waarom ek die oorspronklike klagtes ingedien het wat gelei het tot die huidige ondersoek deur die Menseregtekommissie en waarom ek steeds nie klaar is met die stryd teen Blade Nzimande [minister van hoër onderwys en opleiding] se pogings om Afrikaans as ʼn ‘uitheemse’ taal te probeer klassifiseer nie.”

Schreiber meen dit is nou tyd om sy veldtog ook na die US-raadsaal uit te brei.

“Deur hul kruise agter my naam te trek in die komende raadsverkiesing, sal elke oud-Matie wat glo dat Afrikaans as inheemse taal erken behoort te word en ʼn gelyke plek verdien en dat isiXhosa ook tot akademiese taal uitgebou behoort te word, ʼn kampioen in die US-raad kry.”

Saam met ander raadslede wat gekant is teen die “huidige aanslag” teen Afrikaans, glo hy daar is nou ʼn geleentheid om voor te berei op ʼn nuwe bedeling wat Afrikaanssprekende studente ʼn gelyke plek sal gee aan ʼn universiteit wat “van hierdie pragtige inheemse taal van ons ʼn akademiese taal help maak het”.

In sy visiestelling as benoemde lid, sê Schreiber hy “staan op vir ʼn nuwe taalbedeling” wat Afrikaans erken as volwaardige inheemse taal met gelyke status aan Engels en verbind is met die opbou van isiXhosa tot akademiese taal.

Schreiber sê voorts hy steun ʼn bedeling waar alle studente – ook Afrikaanses – as “bates eerder as hindernisse” beskou word.

Vereistes om as lid van die US-raad verkies te word, sluit in die bepaling dat die lid iemand met ondervinding relevant tot die bestuur van die universiteit moet wees, lede moet verteenwoordigend ten opsigte van ras, geslag en gestremdheid wees en niemand mag in meer as een hoedanigheid in die raad dien nie.

Die US-raad bestaan onder andere uit die rektor, ʼn viserektor, die bedryfshoof en drie mense wat uit die senaat verkies word. Nog twee lede word verkies uit die studenteraad, een word verkies vanuit akademiese personeel wat nié lede van die senaat is nie, terwyl die minister van hoër onderwys en opleiding tot vyf mense in die raad kan aanstel.

Skenkers, die Wes-Kaapse premier en die Stellenbosch-munisipaliteit benoem onder meer ook lede van die US-raad.

Daar is tans twee vakatures in die raad vir lede wat deur die universiteit se konvokasie benoem word.

Die indien van benoemings het Donderdag gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.