Schulphoek ‘vernietig’ weens onwettige grondbesettings

(Foto: schulphoek.co.za)

Elke stuk grond in Suid-Afrika kan nie bloot net vir behuising gebruik word nie.

Dít volgens Peter Marais, VF Plus-leier in die Wes-Kaap, wat sê die party het tydens ʼn virtuele sitting van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer gevra dat onverdedigde ontbossing in dié provinsie ondersoek en stopgesit moet word.

Die VF Plus het onlangs besoek afgelê by Melkhoutwoud, geleë in Hermanus, asook by Schulphoek wat volgens Marais nou heeltemal vernietig is weens onwettige grondbesettings. Schulphoek is ʼn landelike gebied wat aan die see grens, net suid en suidwes van die dorp, en Zwelihle is in Hermanus.

“Die indringing in die strandgebied waar geen ablusiegeriewe bestaan ​​nie, geen vullisverwydering gedoen word nie en geen ander munisipale dienste gelewer word nie, is polities gemotiveerd en het geen plek in ʼn grondwetlike demokrasie nie. Hierdie situasie is absurd en die VF Plus stem nie hiermee saam nie,” sê Marais.

Plakkershutte wat by Hermanus opgerig is. (Foto: Verskaf)

“Die VF Plus wil mense daarop wys dat ʼn seeuitsig nie in die Grondwet as voorskrif onderskryf word wat voldoende behuising betref nie.”

Maroela Media het verlede jaar berig dat een van die wêreld se grootste melkhoutwoude by Schulphoek buite Hermanus in die Wes-Kaap toe al byna heeltemal deur onwettige grondbesetters verwoes is – ondanks ʼn interdik en ʼn uitsettingsbevel wat deur die hof uitgereik is.

Van die oorspronklike woud wat 25 ha beslaan het, was daar destyds net sowat 5 ha oor.

Marais sê die party benadruk art. 26(1) van die Grondwet waarvolgens elkeen die reg het op toegang tot voldoende behuising en dat die staat redelike, wetgewende en ander maatreëls moet tref om binne sy beskikbare hulpbronne hierdie reg te verwesenlik.

“Dit is ʼn feit dat grondbesettings ʼn geweldige bedreiging vir gewone verstedeliking en behuisingsbeplanning vorm.

“Elke stuk grond in hierdie land kan nie bloot net vir behuising gebruik word nie. Ander belangrike ontwikkelings soos fabrieke, skole, sakeondernemings en kerke moet ook aangepak word.

“Voldoende behuising moet aan inwoners verskaf word, maar nie ten koste van natuurlike hulpbronne wat vir ons nageslag beskerm moet word nie,” sê Marais.

Die Stad Kaapstad sit intussen sy hofstryd voort nadat die Kaapstadse hooggeregshof die stad verbied het om sy grond teen besetters te beskerm. Burgemeester Dan Plato het die uitspraak vroeër as “gevaarlik” bestempel en gesê dit gaan verreikende gevolge vir alle metro’s en munisipaliteite – asook private burgers wat hul grond teen besetters probeer beskerm – inhou.

“Dit skep ʼn gevaarlike presedent vir alle grondeienaars. Indien dit onbetwis bly, gaan die bevel dit bykans onmoontlik vir grondeienaars maak om hul eiendom teen onwettige besetting te beskerm en om te verhoed dat mense huise – selfs al is dit onwettig – op ander se eiendom oprig.”

Die staat het reeds sy aansoek om verlof tot appèl ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Die staat het al vir 25 jaar sy plig en funksie TOTAAL versaak tov die ordelike verskaffing van behuising. Dis kwaadwillige optrede deur ANC en sito sito word onwettige plakkery gekondoneer. Die ANC moet kollektief aangekla word vir miskenning van regte van grondeienaars, diefstal, plunder en roekelose landsbestuur.
‘n Sterkhand benadering is al wat die probleem gaan oplos . Belastingbetalers moet konsolideer in optrede

Snowball ·

Hierdie is hartseer verby. Dis maar net ‘n teken van waarheen SA in sy totaliteit op pad is. Niks sal oorbly van ons natuur – see – of wildlewe nie. Alles moet swig voor die eise van die people. Alles word vertrap ter wille van hulle slagoffer narratief.

My siening ·

ANC probeer hulle in prop van af oos kaap om te registreer vir volgende verkiesing. ANC jaloesie!!

Inkpot ·

Wat gee hulle tog om?
Mens moet eers die kennis en insig hê om die waarde van iets te verstaan. Dit ontbreek ongelukkig totaal by die regering.

Cheryl ·

Gepaard hiermee gaan die misdaad en veiligheid aspekte om nie eers te praat vd perlemoenstropery nie. Toerisme bly ook in die slag. Munisipaliteite moet ook meer verantwoordelikheid neem. Hulle is hopeloos te apaties.

Adeline ·

Ek het eerste handse kennis van die saak in Hermanus. Die grondgebied wat tussen Sandbaai & Beach Club lê is totaal verwoes weens ‘n gebrek aan die DA munisipale bestuur en die Polisie wat te slap gat is om enige wetstoepassing uit te voer. Daar is hoeveel briewe en bewyse deur gestuur na die DA kantoor asook Premier Alan Winde se kantoor waarop daar geen reaksie of antwoord terug gestuur is nie. Dit is hart verskeurend om die wettige bewoners wat belasting betaal te sien ly onder inbrake – diefstal – gebruik van bos ontlasting en die stank daarvan en die geboue wat op die ou ashoop opgerig is – die swembad wat olimpiese standaard gebou is totaal gestroop en vervalle verwoes is. Naweek lawaai van oorverdowende musiek wat die munisipaliteit verantwoordelik is van toestemming gee “Feeste” wat kamstig gehou word en die SAPD kyk net doen niks. Dit word daagliks gerapporteer met fotos as bewys en wat ontken word deur SAPD en ook die munisipaliteit en DA munisipale hoof. Chaos toestande.

Hercules ·

“narsistiese, patologiese, kompulsiewe, skynheilige, jezebel leuenaars en kleptomanie gaan hand aan hand – hulle gee nie om as hulle niemand bevoordeel nie; hulle is koue, berekende, manipulerende, selfsugtige mense, en hulle dink glad nie aan ander nie behalwe om hulself te bevoordeel nie; meestal toon hulle glad nie emosie nie; narsistiese, kompulsiewe leuenaars glo dat hulle wonderlik is, dat alles aan hulle fantasties is en dat hulle op alles geregtig is en ander blameer ander vir hulle eie kortsigtheid”

def van terrorisme:
“die onwettige gebruik van geweld, manupilasie en intimidasie, veral teen onskuldige burgerlikes, in die strewe na eie politieke doelstellings”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.