Schumacher met tye “by sy bewussyn”

Michael Schumacher

Michael Schumacher

Michael Schumacher toon steeds klein tekens van vordering, maar dit is nog onmoontlik om, drie en ʼn half maande ná sy ski-ongeluk, te sê wat gaan gebeur, het sy agent Sondagaand gesê.

“Daar is kort oomblikke waar hy by sy bewussyn is; hy toon klein tekens van vordering,” het Sabine Kehm tydens ʼn onderhoud aan die staatsuitsaaier ARD gesê.

Kehm sê egter dokters by die kliniek in Grenoble, Frankryk, waar Schumacher behandel word, kan nie ʼn prognose maak nie.

Die voormalige F1-kampioen het op 29 Desember tydens ʼn ski-ongeluk by Meribel ernstige kopbeserings opgedoen. Hy moes twee operasies ondergaan en word sedertdien onder verdowing gehou. Kehm het op 30 Januarie gesê dokters is besig om die medikasie te verminder in ʼn poging om Schumacher uit die koma wakker te maak. Hy het van 4 April tekens getoon dat hy by sy bewussyn is en wakker word.

“Daar word medies ʼn onderskeid getref tussen ʼn persoon wat by sy bewussyn is en iemand wat wakker is,” het Kehm Sondag gesê. “Interaksie met ander is ʼn voorvereiste om met die herstelproses voort te gaan.”

Kehm het nie verdere besonderhede gegee nie, om Schumacher se gesin se privaatheid te beskerm. Sy sê die gesin is ontsteld dat die media dokters aanhaal wat nie by die behandeling betrokke is of vertroud is met die saak nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.