Scott-Crossley eers later verhoor

Mark Scott-Crossley tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: SAPD

Mark Scott-Crossley het Woensdag weer in die Lenyeye-landdroshof naby Tzaneen in Limpopo verskyn.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê Scott-Crossley se verhoor begin op 11 Junie. Hy is steeds in aanhouding. Die polisie het ná Scott-Crossley se vorige verskyning op 24 Maart gesê die verhoor begin op 12 April. Dit was nie onmiddellik duidelik hoekom die verhoor nie vandag begin het nie.

Scott-Crossley is in Februarie borgtog geweier. Hy staan tereg op ʼn aanklag van poging tot moord.

Scott-Crossley is op 18 Januarie in Pretoria in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig ʼn lasbrief is op 21 Desember vir sy inhegtenisneming uitgereik in verband met ʼn voorval op 14 Desember.

Op dié betrokke dag het Silence Mabunda (37) glo iets by ʼn winkel in Hoedspruit gekoop. Mojapelo het vroeër gesê Mabunda het buite die winkel op sy foon staan en praat toe ʼn man die foon uit sy hand gegryp en dit op die grond stukkend gegooi het.

Mabunda het daarna glo teruggestap na sy werkplek, ʼn wildrehabilitasiesentrum buite Hoedspruit. Dit is toe dat hy glo deur ʼn voertuig omgestamp is waarna die bestuurder ook met die voertuig oor hom sou gery het. Volgens berigte het Mabunda ernstige beserings aan sy bene opgedoen en loop hy nou met krukke.

Die polisie het aanvanklik ʼn tref-en-trap-ongeluk ondersoek, maar dit is intussen na ʼn saak van poging tot moord verander.

Scott-Crossley is in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op een van sy werkers, Nelson Chisale, wat in ʼn hok met drie wit leeus gegooi is. Chisale is glo ook erg aangerand deur twee ander werkers voordat hy in die hok gegooi is.

Scott-Crossley se skuldigbevinding is in 2007 deur die appèlhof ter syde gestel en sy vonnis is na vyf jaar tronkstraf verander vir medepligtigheid aan die daad aangesien daar nie bepaal kon word of die oorledene moontlik al weens die aanranding gesterf het voordat hy in die leeuhok gegooi is nie.

Scott-Crossley is in 2008 op parool vrygelaat en het teen einde 2010 sy vonnis uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Steeds bestaan die vermoede, miskien by meer as net self, dat daar dinge is wat nie vertel word nie. Dinge wat Crossley se aanval op Mabunda voorafgegaan het. Anders lyk dit soos ‘n IS aanval en wat Crossley ookal is, hy is tog seker nie bekend as ‘n ISIS terroris nie. Net die helfte of minder word vertel in berigte soos hierdie. Iets het waarskynlik vooraf gebeur wat hom die aanvalle laat loods het.

Wondernet ·

Ek wonder altyd of Mark se gedrag nie gedeelteliks te wyte is aan post-trauma en skuldgevoel oor die destydse verdwyning van sy jonger sussie, Tracey-Lee, een van Gert van Rooyen se slagoffers, nie? Soiets moet ‘n geweldige impak op mens hê.

Sputnik ·

Wondernet, ek is in my hart baie jammer vir die man. Jy is waarskynlik reg – post-traumatiese stress kan baie lelike gevolge hê. Dit klink ook vir my asof alles nie vertel word nie. Tog regverdig en verskoon dit nie sulke optrede nie. In ‘n stadium moet ‘n mens besef dat jy ernstig hulp nodig het en sorg dat jy dit kry. Die lewe is in elk geval kort, probeer dus die beste daarvan maak.

Spook ·

Die wereld het siek geword… Elke generasie net harder en wreeder, dit is die simptome van n siek gemeenskap. Weesgelaat vir die wolwe. Ons leef in n gemeenskap waar daar min gevoel is vir moord, verkragtig… roof, egbreuk, ons sien en beleef dit te veel. Siek mense het die wereld oor geneem en dit is aanvaarbaar. Verslaaf aan sosiale media, waar mens verder bloot gestel word en oortuig eord dat al die goed aanvaarbaar is. Goddeloos. my Hart gaan uut na elke mens oo die aarde, selfs die wat soos die man deur mense gebreuk is. Maar sy gedrag onaanvaarbaar

snoefie ·

jy is reg Sputnik trauma wat hy al gely het verskoon nie sy gedrag nie. tog…. hy was vir sielkundige WAARNEMING gestuur. maar was jy al vir sielkundige BERADING gestuur. hy is nie n besetene nie en het geeet hy het oortree en homself gaan oorgee. die optrede van n RASSIONELE mens dus. wat get aanlyding tot die aanval gegee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.