Scott-Crossley hoor oor borgtog

EFF-betogers buite die hof tydens 'n vorige verskyning. Foto: Twitter

EFF-betogers buite die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: Twitter

Mark Scott-Crossley het Vrydag weer in die Lenyeye-landdroshof naby Tzaneen in Limpopo verskyn waar uitspraak in sy borgtogaansoek gelewer is.

Scott-Crossley, wat teregstaan op ʼn aanklag van poging tot moord, is borgtog geweier. Die saak is tot 24 Maart uitgestel vir verdere ondersoek. Volgens brig. Motlafelo Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het daar soos met die vorige verskyning ʼn groep mense buite die hof betoog. Scott-Crossley is vir sy eerste hofverskyning in ʼn Njala-voertuig, wat deur swaar gewapende polisielede begelei is, na die hof geneem.

Scott-Crossley is op 18 Januarie in Pretoria in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig ʼn lasbrief is op 21 Desember vir sy inhegtenisneming uitgereik in verband met ʼn voorval op 14 Desember.

Op dié betrokke dag het Silence Mabunda (37) glo iets by ʼn winkel in Hoedspruit gekoop. Mojapelo het vroeër gesê Mabunda het buite die winkel op sy foon staan en praat toe ʼn man die foon uit sy hand gegryp en dit op die grond stukkend gegooi het.

Mabunda het toe glo teruggestap na sy werkplek, ʼn wildrehabilitasiesentrum buite Hoedspruit. Dit is toe dat hy glo deur ʼn voertuig omgestamp is waarna die bestuurder ook met die voertuig oor hom sou gery het. Volgens berigte het Mabunda ernstige beserings aan sy bene opgedoen en loop nou met krukke.
Die polisie het aanvanklik ʼn tref-en-trap-ongeluk ondersoek, maar dit is intussen na ʼn saak van poging tot moord verander.

Scott-Crossley is in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op een van sy werkers, Nelson Chisale, wat in ʼn hok met drie wit leeus gegooi is. Chisale is glo ook erg aangerand deur twee ander werkers voordat hy in die hok gegooi is.

Scott-Crossley se skuldigbevinding is in 2007 deur die appèlhof ter syde gestel en sy vonnis is na vyf jaar tronkstraf verander vir medepligtigheid aan die daad aangesien daar nie bepaal kon word of die oorledene moontlik al weens die aanranding gesterf het voordat hy in die leeuhok gegooi is nie.

Scott-Crossley is in 2008 op parool vrygelaat en het teen einde 2010 sy vonnis uitgedien. Lees alle vorige berigte oor Mark Scott-Crossley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Hy is net absoluut onmenslik! Hierdie is ‘n “No Mercy case” en ek glo dit geld vir ieder en elk wat dink hulle kan ‘n ander mens van sy reg om te lewe neem.

Jem ·

En weereens daar EFF daar op en maak n totalle spektakel van hulself. Die clowns van Suid-Afrika. Pinkie and the Brain want to take over the word. Lewe in hulle eie fantasie wereld.

Maryna ·

Dit is baie wreed wat gebeur het, geen verskoning daarvoor nie. (You do the crime, you pay the time). Glo tot vandag en tot in ewigheid dat Mark se normale denke pad gevat het met sy sussie se verdwyning, dink nie mens sal ooit daarmee kan saamleef dat iemand van jou net verdwyn nie.

AL ·

News 24 berig dit as n rassistiese moord. Is swart op wit plaasmoorde en huisroofmoorde dan nie rassisties nie? Ek kan net my kop skud vir hul beriggewing!

Christa ·

Sy kop raas!!! Hulle moet hom toesluit en die sleutel weggooi! (Dit geld ook vir ‘n paar ander)!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.