Scott-Crossley se verhoor begin dan

Mark Scott-Crossley in die hof. Foto: SAPD

Mark Scott-Crossley het Vrydag weer in die Lenyeye-landdroshof naby Tzaneen in Limpopo verskyn.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak is tot 12 April uitgestel wanneer Scott-Crossley se verhoor in die streekhof sal begin. Ngoepe het gesê die polisie se ondersoek na die voorval is afgehandel.

EFF- en ANC-lede het soos met vorige verskynings voor die hof betoog. “Die polisie se openbare orde-lede was ook buite die hof om seker te maak daar is geen voorvalle nie.”

Scott-Crossley is verlede maand borgtog geweier. Hy staan tereg op ʼn aanklag van poging tot moord.

Scott-Crossley is op 18 Januarie in Pretoria in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig ʼn lasbrief is op 21 Desember vir sy inhegtenisneming uitgereik in verband met ʼn voorval op 14 Desember.

Op dié betrokke dag het Silence Mabunda (37) glo iets by ʼn winkel in Hoedspruit gekoop. Mojapelo het vroeër gesê Mabunda het buite die winkel op sy foon staan en praat toe ʼn man die foon uit sy hand gegryp en dit op die grond stukkend gegooi het.

Betogers buite die hof. Foto: SAPD

Mabunda het toe glo teruggestap na sy werkplek, ʼn wildrehabilitasiesentrum buite Hoedspruit. Dit is toe dat hy glo deur ʼn voertuig omgestamp is waarna die bestuurder ook met die voertuig oor hom sou gery het. Volgens berigte het Mabunda ernstige beserings aan sy bene opgedoen en loop nou met krukke.

Die polisie het aanvanklik ʼn tref-en-trap-ongeluk ondersoek, maar dit is intussen na ʼn saak van poging tot moord verander.

Scott-Crossley is in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op een van sy werkers, Nelson Chisale, wat in ʼn hok met drie wit leeus gegooi is. Chisale is glo ook erg aangerand deur twee ander werkers voordat hy in die hok gegooi is.

Scott-Crossley se skuldigbevinding is in 2007 deur die appèlhof ter syde gestel en sy vonnis is na vyf jaar tronkstraf verander vir medepligtigheid aan die daad aangesien daar nie bepaal kon word of die oorledene moontlik al weens die aanranding gesterf het voordat hy in die leeuhok gegooi is nie.

Scott-Crossley is in 2008 op parool vrygelaat en het teen einde 2010 sy vonnis uitgedien.

Lees alle vorige berigte oor Mark Scott-Crossley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vra net. ·

Her hy nie geleer uit sy vorige oortredinge nie, of hou hy van die binnekant van die tronk.

Klip in die bos ·

Ek wonder net of hy nie sy les geleer het met sy vorige onderonsie met die gereg nie. Of hou hy van die binnekant van die tronk.

Koekie ·

Ek wonder hoekom hy uit die bloute die selfoon stukkend gegooi het. Was daar provokasie of ly hy aan ‘n geestesafwyking.

Peanut ·

Wat die man gedoen het is verkeerd niemand kan stry nie. Ek wonder net hoe sou sy lewe gewees het as gert v rooyen nie sy sussie ontvoer het nie. Ek kry hom werklik jammer, onthou hy het geweier om saam in die kar te klim waar sy sussie in ontvoer is. Hy blameer homself seker nog baie. Wens hy kon vrede vind, is daar iemand wat hom dalk as kind geken het voor daardie tragiese dag. Wens daar is n sielkundige wat die man kan help. Ek maak net duidelik wat hy gedoen het is verkeerd maar dink aan sy trauma as kind

Lizzy ·

Hoekom is daar nooit EFF- en ANC- lede wat voor die hof betoog as verdagtes in die hof verskyn vir grusame en koelbloedige plaasmoorde nie ? Mark Scott -Crossley is skuldig, maar nie noodwendig meer wreedaardig of barbaars as die mense wat onskuldige en dikwels weerbare boere martel en vermoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.