‘Sê net vir my waar my kind is’

Cheinelle saam met Liam.

“Ek vrees in dié stadium vir my kind se lewe.”

Só sê Cheinelle Nortjé (42) wie se driejarige blondekopseuntjie Liam sedert November vermis word nadat Nantes Nortjé (47), Liam se pa met wie Cheinelle 23 jaar getroud was, saam met sy seuntjie verdwyn het.

Nantes is intussen verlede maand in Ladysmith in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem, maar daar is steeds geen teken van Liam nie. Nantes weier om te sê waar Liam is. Hy het glo wel gesê hy het die kind vir mense gegee wat nie kan kinders kry nie. Daar word intussen steeds onverpoosd na Liam gesoek.

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het bevestig Nantes het reeds drie keer in die hof verskyn en dat hy weer op 21 Augustus in die Harrismith-landdroshof moet verskyn. Hy word van ontvoering aangekla.

Nantes het in ʼn plakkershut in Ladysmith gebly toe hy aangekeer is en het glo loswerkies soos sweiswerk gedoen.

Die driejarige Liam

“Ek is emosioneel uitgeput. Dit is so ongelooflik frustrerend dat hy weier om te sê waar my kind is. Hy probeer my net terugkry en seermaak. Hy sê selfs nou hy het nooit vir Liam by hom gehad nie.”

Nantes het glo met Liam verdwyn nadat Cheinelle vir hom gesê het sy wil hul huwelik beëindig. “Hy het allerhande beskuldigings gemaak. Hy het gevra vir ʼn tweede kans en ek het gesê ek kan dit nie waarborg nie, en toe verdwyn hy met Liam.”

Volgens Nortjé het sy die laaste keer van Liam gehoor toe Nantes oor die telefoon vir haar gesê het sy gaan haar kind nooit weer sien nie en sy gehoor het hoe Liam in die agtergrond skreeu.

“Hy het my kind van my en sy sussies weggevat en hom glo vir ander mense gegee. Hoe doen jy dit as ʼn normale mens? Dit voel soos gister wat my kind verdwyn het en die wonde word net oor en oor oopgekrap.” Liam se sussies is 18 en 15 jaar oud.

Nortjé hoop en bid intussen net dat haar blondekopseuntjie opgespoor sal word. Die polisie in Harrismith se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksoortredings ondersoek die saak.

Enigiemand met inligting oor waar Liam moontlik kan wees, kan kol. Lekhoali Thito by 082 414 9736 kontak of Tania of Wendy van die Suid-Afrikaanse ondersteuningsinisiatief (Sasi) by 084 830 1031 of 064 648 1577.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Henk ·

Kan die ou borg kry? Ek sal dit betaal dan gaan haal ons die kind

KG ·

Ek sal nooit verstaan hoe enige ouer so selfsugtig en wreed kan wees om dit aan sykind te doen nie. Ek stem ‘n kind is nie ‘n pion nie!!!

Wonder ·

Soms weet mens nie wat het die pa so ver gedruk dat hy sy hele lewe opgee, en sy kind weg gee nie. Ons hoor net een deel……

KG ·

Wonder, ek het gewoonlik begrip vir baie dinge, maar wat hierdie pa doen is nie reg nie.

Wil jy vir my se daar is geen ander manier om uit te sorteer wat ookal die probleem is sonder om die kind te ontvoer en weg te hou van die ma af nie??

Ouch ·

Of die pa rede gehad het of nie JY MAG NIE ‘n KIND ONTVOER nie — dit is duidelik dit was TEEN die wil van die ma en daar was geen hofbevel wat die kind weggevat het nie so ongeag WAT sy rede was HY KAN nie sy kind ontvoer nie al is dit sy EIE KIND … Moet hy nie tronktoe gaan nie?

Wag ·

Ek wag nog vir die dag wat my ex dit aan my gaan doen.
Elke 2de naweek wat my kind by hom is vrees ek ek sien my kind nooit weer nie.

MissDemeanor ·

Dis baie scary. Oorweeg dit om n tracking device in jou kind se skoene / rugsak/ klere weg te steek.

Vrede ·

Dan is dit tyd dat jy en die pappa vergewe. Ek weet nie wat jou situasie met die pappa was nie. Maar kom op speaking terms dat jy nie daai vrees moet he ni. Ek bid vir julle wat gebroke huwelike het en mag die Here daai vrees v jou af wegvat. Sterkte Wag!

Ella Bella ·

Ag Here, help asb hierdie mamma om herenig te word met haar seuntjie

VanAfrika ·

Die mense wat die kind by Nantes gekry het en niks se nie kan vir medepligtiging van kinderontvoering aangekla word omdat hulle stilbly. As die kind nog lewe moet wie ookal na vore kom.

Nettie ·

EK VERSTAAN DIT NIE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Hoekom moet jy ‘n onskuldige kind of kinders as pand in ‘n egskeiding/verhoudingsbreuk gebruik??????????????????? Daardie kinder/kinders het nie daarvoor gevra nie en het geen aandeel daarin gehad as jy en jou vrou/man/verloofde/vriend/vriendin se paaie skei nie.

Mense moet volwasse wees en soos volwassenes optree en DINK voor hulle doen. Hierdie kind is waarskynlik geskaad deur sy eie pa, vir die res van sy lewe. Dink net in hoe hy moes gevoel het om van sy sussies en Ma sommer-net-so geskei te word ………….

Ek hoop hulle kry hom spoedig en herenig hom met sy gesin. Daai man is die naam van ‘pa’ nie werd nie ………

Nix ·

Dis vreeslik! Indien die Pa enige rede gehad het om die kind te verwyder, kon hy deur die regte kanale werk. Indien dit net vir eie gewin was en die klein lyfie te gebruik as ‘n pion, shame on you meneer. Ons kan nie oordeel nie, aangesien ons nie weet wat die omstandighede was ten tye van die voorval nie! Sterkte aan almal betrokke en ook die mense in wie se sorg Liam nou is! Dit gaan ‘n baie moeilike padjie wees vir julle om te stap en harte gaan gebreek word!

Adri ·

Uiters swak speurwerk. Enige speurder van die SAPD kon lankal die kind opgespoor het as hy regtig wou.

Henk ·

Die polisie het vandag net soveel middele tot hul beskikking en vermoeens is nie wat dit voor 94 was nie. Ons konstitusie is geskryf met een doel voor oe en dit is om kriminele uit die tronk te hou.

Nettie ·

@Adri – nou toe dan, loop help so bietjie …………………

Hulle sê mos: “Die beste Kaptein staan áltyd aan wal” ……………………..

Annamarie Olivier ·

Ek voel jammer vir die ma, maar ek kan ook getuig dat die “regte Kanale” soos die SAVF altyd die ma bo die pa bevoordeel.
My seun sukkel al 8 maande om net ‘n hofbeslissing af te dwing dat hy ook sy kinders kan kry, en al die geld aan prokureurs het niks gehelp .

Sjoe ·

Sjoe as jy vir klein Liam het, doen die regte ding, neem hom terug na sy Ma, dit wat sy Pa gedoen het is onvergeefbaar!!!!!!

Mrs H ·

Daar moet tog hospitaal of kliniek records wees. Kinders word siek. Dokters wat kindjie herken?

Catharina ·

Die man woon in n plakkershut . Die moontlikheid is dat hy die seuntjie verkoop omdat hy geld nodig het. Ek hoop hulle kry die kind . Hy het defnitief nie die kind geneem uit liefde nie. Wraak of sommer net geldgierigheid?

Ann ·

Kom ons hoop en bid die outjie leef nog! Die mamma is reeds in ʼn toestand!! Ek weet nie wat ek sou gedoen het as dit ek was nie!!

Blommie ·

Cattharina, ek stem 100% saam met jou. hierdie dat hy kamstig die kind vir iemand gegee het wat nie kan kinders kry nie. Dink ek is net n rook skerm, hy het soos jy se die arme kind verkoop of dalk iets gebeur en nou se hy dit.
Ek hoop en bid dit is nie so nie
Hoop die kind word veilig aan sy mamma terug besorg.

Antjie ·

@Wag – dit het met my suster gebeur, sy het haar dogtertjie party naweke na haar eksman gestuur, en die vrees was dieselfde, sy het nie weer teruggekom nie. Nou is daar beweringe gemaak deur haar eksman dat my suster se boyfriend haar aangeslaan het en betas het. Dit terwyl die boyfriend n goeie pa figuur vir my suster se kinders is, hy het die dogtertjie groot gemaak van 2 jarige ouderdom , Hy het haar versorg soos n pa moet. Maar haar eksman was glad nie n betrokke pa nie en wou niks weet van haar nie, hy het my suster beskuldig van rondslaap en toe die meisiekind ouer is nou is dit skielik pa se dogtertjie. Hy gebruik haar as n pion, want hy is jaloers op my suster en will haar nie geluk toelaat nie. Sy is nou al 3 maande weg van my suster. Ons weg met die gereg. Vertrou jou instink.

En nou? ·

As ek na die storie luister klink dit vir my die pa het dit net gedoen om die ma seer te maak. Ek hoop regtigwaar nie hy het iets aan die klein laaitjie gedoen om die ma se hart te skeur nie!!!!!

Nadia ·

Sies!!! Skaam jou man hoe doen jy dit aan ‘n kind wat homself nie kan verdedig nie sies!!! Dit skokkend om te sien dat die mens dit doen, gaan uitmekaar en kry klaar nie nodig om die kind seer te maak nie. urgh mens kan net sê wat jy dink verder is ons hande afgekap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.